safetop
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 20 January 2005

uitlefstreep

This site will be updated on 27 January 2005.

Aida
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost

 

Sport


Kolfwerk kwel Boland krieketspan

[ Top ]


DIE Boland Amateur krieketspan sukkel nog steeds om 'n wenresep te vind in die driedagreeks nadat hulle die naweek met vier paaltjies teen Noordwes op Boland Park verloor het.

Op 'n meer positiewe noot is die Bolanders egter nog onoorwonne in die eendagreeks nadat hulle Sondag dié wedstryd met drie paaltjies gewen het.

Afrigter, Deon Smith, moes noodgedwonge veranderinge aanbring

KOLF. Wiaan Smit (94) stuur 'n bal af na skerpby tydens die Boland Amateur krieketspan se eendagwedstryd teen Noordwes op Boland Park. Die Boland het die stryd met drie paaltjies gewen, maar die driedagwedstryd met vier paaltjies verloor. 

aan die span wat vandag teen die WP op Nuweland te staan kom, nadat die boulers Jacques van Wyk (boarm) en Bardo Fransman (tussenribspier) Sondag beseer is.

Die goeie spel van Hilroy Paulse (Paarl-Oos Krieketklub) en Leroy Walters (Paarl Krieketklub) wat ook in onderskeidelik die SA Skole en SA Jong spanne ingesluit is, maak ook vandag hul debuut vir die Boland Amateur-span.

Walters sal die paaltjiewagter-diens by Wesley Euley oorneem wat nie vir die driedagwedstryd beskikbaar is nie.

Mario Olivier van Brackenfell, 'n produk van die Westelike Provinsie Akademie, sal die Boland se boulaanval versterk en om nog meer diepte aan die Boland te gee, is die veelsydige Henri Fourie ook in die span ingesluit.

"Ek het die indruk gekry dat die spelers nie waarde heg aan hul paaltjies nie. Dit ten spyte van die goeie voorbereiding wat ons gehad het," het Smith vandeesweek oor sy span se power kolfvertoning in veral die eerste beurt van die driedagkragmeting gesê.

"Met dié span strek ons kolforde egter tot nommer nege," het hy bygevoeg.

Smith hoop dat Van Wyk en Fransman Saterdag 'n fiksheidstoets sal slaag wat hul beskikbaar sal maak vir Sondag se eendagkragmeting. "Die kanse lyk goed, sowat 80% sê die fisioterapeut," het Smith gesê.

Die ervare Wiaan Smit sal weereens Sondag vir Jonathan Clark vervang, terwyl Cliffrod Prinsloo in die plek van Rupert Bailey sal speel en Euley vir Walters sal vervang.

In die driedagwedstryd was Boland vroeg  in die moeilikheid toe Henry Davids met die eerste bal uitgevang is deur Riad Bhayat vanaf die boulwerk van Garth Roe. Die paaltjies van Warren Hayward en Jonathan Clark het in die tweede en derde beurte gevolg met die telling op 1/3.

Die res van die top-orde kolwers - Wimpie Louw (8), Ryno Arendse (5) en Wesley Euley (2) - het ook uit die bus geval.

Dit het sake in hande van die stertkolwers, Brandon Adams (63nun), kaptein Wallace Albertyn (31), Jacques van Wyk (18), Bardo Fransman (14) en Pepler Sandri (5nun) gelaat om hul span van 'n vernederende klein totaal te red. Boland kry uiteindelik 168/9.

'n Goeie vertoning deur die boulers het egter die Noordwesters tot slegs 219 beperk, met Fransman as die groot held met syfers van 5/36 in 17bb, vier leeg.

Adams (3/47 in 16bb, 4 leeg) het ook goed geboul, terwyl Albertyn en Sandri elkeen een paaltjie laat kantel het.

Boland (243/10) het in hul tweede beurt beter gekolf, maar die teiken van 193 was nie genoeg nie.

In die eendagstryd het Noordwes 241/5 behaal.

'n Uitblinkbeurt deur die nommer drie kolwer, Wiaan Smit, het 'n stewige fondasie vir die Boland gelê. Sy 94 lopies van 94 balle het 10 grenshoue en 'n ses ingesluit en goeie beurte deur Euley (43nun) en Arendse (23) het verseker dat Boland die teiken in die laaste beurt kon behaal.

Die Boland-span is Jonathan Clark, Rupert Bailey, Ryno Arendse, Henry Davids, Wimpie Louw, Brandon Adams, Henri Fourie, Wallace Albertyn (k), Leroy Walters, Mario Olivier  en Hilroy Paulse.


Sokker maak reg vir Boland-SAFA

[ Top ]


AS alles volgens plan verloop, sal die amptelike sokkerliggaam, die Suid-Afrikaanse Sokker Assosiasie (Safa), volgende jaar ook 'n tuiste in die Boland hê.

'n Tussentydse bestuur van die huidige Drakenstein Sokker Assosiasie hou tans samesprekings met sokkerklubs en -spanne in Drakenstein om alle sokker onder dié streek-vaandel te verenig.

Volgens Lutfie Hendricks, sameroeper van die tussentydse bestuur, wil hulle sokkersake in die Drakenstein, asook distrikte van Stellenbosch, Worcester en Witzenberg in rat kry, sodat Boland Safa vanaf 2006 as 'n liggaam kan funksioneer.

"Boland Safa is reeds deur die moederliggaam goedgekeur. Sokker funksioneer vanjaar nog onder die Boland Sokker Assosiasie (BSA) en in dié tyd wil ons besonderhede soos ligas en dies meer uitklaar," sê Hendricks.

Die BSA is in 1994 gestig en het sokker in die provinsie tot nuwe hoogtes geneem. In 'n poging om die sport egter verder vorentoe te neem, moes die hulp van die nasionale liggaam, Safa, ingeroep word.

Die Drakenstein Sokker Assosiasie bestaan al 'n geruime tyd, maar kon nog nooit werklik die sokker in die streek suksesvol bestuur nie.

Die betrokkenheid van die nasionale sokkerliggaam beloof egter om dié sport hier en in die res van die Boland meer doeltreffend te ontwikkel en te bevorder.

Die Drakenstein se interimbestuur het onlangs met 24 plaaslike sokkerklubs - 12 van Wellington, vier van Klapmuts en agt van Paarl - vergader rakende die samesmelting onder die Drakenstein vaandel.

Hy beaam dat die groot getal klubs in een dorp ook 'n probleem is.

"Baie van die klubs is eintlik maar net 'n span. Paarl-Oos het nog nooit werklik 'n groot sokkerklub gehad nie. Dit is om dié rede dat ons, die twee klubs van Victorians en Langvlei Villagers, besluit het om saam te smelt en die nuwe klub, Double V United te vorm," sê Hendricks.

Albei dié klubs het verlede jaar in die BSA se Superliga gespeel, tesame met nog 'n Paarl klub, Green Hills United. Laasgenoemde het egter onttrek en so sy status verloor.

Double V United wat in Amstelhof gesetel is, spog nou met 'n groter getal klublede en Hendricks hoop dit sal 'n tendens onder klubs begin om eerder minder maar groter te raak.

"Die Drakenstein Sokker Assosiasie kan vanjaar 'n vierde span in die Boland se Superliga inskryf. Vier spanne van elk van die vier distrikte maak die superliga uit. Daarby word daar ook vanjaar 'n nuwe Premierliga in die Boland bekend gestel."

Volgens Hendricks sal Double V United en Saints United, wat verlede jaar die onafhanklike Wellington Sokker Assosiasie se liga gewen het, maar intussen by die Drakenstein liggaam aangesluit het, vanjaar in die Superliga speel.

Dit beteken daar is nog twee plekke in dié liga oor asook vier plekke in die Boland se Premierliga wat deur Drakenstein sokkerspanne gevul moet word.

"'n Mini-rondomtalie toernooi wat op 19 Februarie afskop, sal bepaal watter spanne in die orige posisies sal speel.

Hy het bygevoeg dat daar van "klubs" wat vir die ligas in aanmerking wil kom, vereis sal word om minstens twee senior en twee junior spanne te hê en om ook hul klub in die onderlinge Drakenstein-liga te verteenwoordig. Hulle hoop om so minder klubs met groter diepte te weeg te bring.

Oor die kwessie van velde, sê Hendricks, vergader hulle vandag met die Wes-Kaapse Departement van Sport asook Dinsdag met die plaaslike munisipaliteit.

"In die verlede moes daar 'n wedstrydrooster en registrasiegelde aan die Munisipaliteit voorgelê en betaal word.

"Aangesien dit nooit gedoen is nie, was die gebruik van die velde eintlik onwettig en was dit nooit onderhou nie.

"Maar ons gaan probeer wegkom van daardie boendoe-bedrywighede," het Hendricks gesê.

Benewens Hendricks bestaan die interimbestuur uit Michael Blaauw (ontwikkeling), Frans Krotz (vroue-sokker), en Yvette Grain (sekretaresse) asook ses klubverteenwoordigers.

Belangstellendes kan Hendricks (862-2898 of 082-339-4041), Grain (862-2180 of 073-705-2531), Blaauw (073-202-6672) of Krotz (084-421-3880) skakel.


Silwerware vir Paarl Krieketklub

[ Top ]


DIE Novel Paarl krieketspan het Saterdag op sy tuisveld verseker dat die beker vir die eerste ronde van die Bolandse Premierliga-kompetisie vanjaar in sy vertoonkas sal pronk, toe hy nege punte verdien het in sy onbesliste wedstryd teen Worcester United.

Brackenfell, die enigste span wat 'n skraal hoop had  om moontlik die Paarliete verby te steek, het in elk geval hulle kanse verongeluk deur teen Hermanus te sneuwel, en al wat nou in die oorblywende twee eerste ronde wedstryde oorbly, is vir die ander spanne om te spartel vir 'n plek in die Top Agt kompetisie.

Paarl (228/8) moes hard werk in sy toegelate 60 boulbeurte teen die ervare James Albanie en Garfield Goetham.

Aanvangskolwer Carlo Crotz (33) het beïndruk met ses grenshoue, maar het soos vele ander sy paaltjie weggegooi met 'n onverantwoordelike hou.

Leroy Walters (31 nie uit nie) het goed kom vasskop in 'n vennootskap van 87 lopies om die agste paaltjie, wat oorheers is deur die aggressiewe Ultallyn Ernstzen (61).

Nadat die ligavoorlopers gestruikel het op 137/7, het Ernstzen die wa deur die drif kom sleep, met vier sesse en vier grenshoue in sy beurt van 67 balle.

Met 44 lopies in hul eerste 11 boulbeurte deur Sarel Pretorius en Arno Cuttings (37) het die besoekers gehoop om op te skuif na die derde posisie op die punteleer, maar die ervaring van Anwell Newman (2/23) het 'n stokkie daarvoor kom steek.

Cuttings is terug kleedkamer toe ná 'n goeie vangskoot in die glippe deur Dave Callaghan, en dit was daarna gou duidelik dat die teiken buite die besoekers se bereik is.

Nel (26), Loff (20), Baxter (20) en Du Plessis (24) het almal hard probeer, maar vasgeval teen die akkurate Faghrie Jacobs (2/15 in 12 boulbeurte).

James Amsterdam (34 nie uit nie) se vasberadenheid teen die einde het gesorg dat Worcester 'n sesde punt verdien met 'n totaal van 188/8 danksy sy twee grenshoue in die laaste boulbeurt van die dag.

Paarl II het hul opponente in Worcester laat sweet in die hitte danksy 'n stewige basis voorlangs deur hul kaptein Marco Walters (57 4x9).

Die Paarliete het 'n reuse 288/6 aangeteken in 'n onbesliste kragmeting, maar 11 punte uit die wedstryd was genoeg om die tweede ligakampioen bo-aan die punteleer te hou.

Die 21-jarige Kurt Martin (104) was Paarl se uitblinker met die eerste hondertal van sy loopbaan, aangeteken van slegs 96 balle.

Martin het veral beïndruk met sy dryfhoue, en het 12 grenshoue en twee sesse geslaan.

Sy sesde paaltjievennootskap van 156 lopies met Clint Philander (57 4x9) was die hoogtepunt van die wedstryd, en Philander, wat self slegs 68 balle trotseer het, het gewys dat hy slaggereed is vir die tweede helfte van die seisoen.

Nege boulers is deur die Paarlse kaptein ingespan, aangesien die tuisspan nooit werklik in die prentjie was nie. Van der Merwe (41), Minnaar (30) en Bailey (35) was die enigste kolwers wat die oog gevang het in Worcester se beurt (193/8 in 60bb) om te sorg dat die tuisspan vier punte kry.

Paarl II, III en IV speel Saterdag tuis teen onderskeidelik Paarl-Oos, Brackenfell en Stellenbosch Distrikte, terwyl Paarl I op New Orleans in 'n opwindende derby-wedstryd teen Paarl-Oos I te staan sal kom.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]