safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Wednesday 20 March 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 27 March 2002

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

People - Mense


Ver in die wêreld agter motor aan

Malané Bosman

[ Top ]


wmalan20DIE blou E-Type Jaguar waarmee 'n afgetrede Wellingtonner jare gelede Suid-Afrika se paaie platgery het, pronk vandag in 'n museum in Londen.

En LB Malan (85) is genooi om langs sy eertydse vuurwa die gaste te woord te staan.

In 1964 het Malan, toe 'n koringboer op Ladybrand in die Vrystaat, besluit daar is vir hom net een motor: die baie spesiale E-Type Jaguar. Maar dit was onverkrygbaar.

Sy navrae is destyds begroet met die woorde "Are you alive or are you dreaming?"

VUURWA. LB Malan en sy blou vuurwa van weleer.

As dié nuwe motor oor drie jaar in Suid-Afrika aanland, het die verkoopsman gesê, is daar vir hom 500 name op 'n waglys. Malan moet dus maar agter in die ry inskuif.

"Ek sê toe dankie, bel die lugredery, bespreek die eerste vlug na Engeland en haal vyf dae later die vliegtuig."

Hy het net eers by die motorhandelaar in Suid-Afrika sy tjek afgelaai, 'n kwitansie gekry en die adres van Jaguar se fabriek buite Londen aangeteken.

Daar aangekom is dié voorwaartse Afrikaner met stywe bolip begroet, veral toe hy sê: "I'm here for my motor-car."

Toe 'n blou E-Type voor hul neuse van die produksielyn afkom, het Malan laat hoor: "That's my motor-car. I paid for it in Cape Town."

Die Engelsman het kopgeskud en gesê: "You're a shrewdy. Dié blou motor is vir 'n prins bedoel."

Waarop Malan glo geantwoord het: "Te hel met royalty. Ek het 6000 myl gekom vir my kar en die prins is mos net hier anderkant, hy kan weer kom."

Malan kon selfvoldaan terugvlieg terwyl sy droommotor per skip agterna gekom het.

So het die Jaguar nege jaar lank met die ON 574 registrasienommer gepronk, totdat hy ingeruil is op 'n nuwer sportmotor, 'n Toyota Supra.

Malan het dit nie geweet nie, maar die E-Type het intussen teruggereis na Southampton waar daar dubbeld die prys van 'n nuwe Jaguar vir hom aangebied is.

Die koper, 'n Skotse oogspesialis, het die geskiedenis van die motor nagevors en het met die ON nommerplaat by die Suid-Afrikaanse ambassade aangeklop.

Dit was in 1994, en Malan was toe al afgetree op Wellington. Sy Bolandse telefoonnommer is opgediep en so kry hy 'n oproep van oor die water.

"Mister Melên .....this is Dr Hutchinson.... I bought your car."

Malan se vrou Anne vertel: "Ons gaan kuier toe by die dokter in Edinburg en op 15 Oktober 1994 is ons na 'n restoureerder waar LB se motor soos nuut staan.

"Dis waar ons gehoor het die ligblou-sitplekbekleedsel is net vir royalty gebruik, nie vir die publiek nie."

Verlede jaar het die Malans weer 'n oproep uit Engeland gekry.

Dr Hutchinson het die motor aan die Britse Museum in Londen geskenk.

Die blou Jaguar gaan daar 'n ereplek beklee en Malan moet asseblief die geskiedenis van die motor boekstaaf en dit aanstuur.

"And we would love to have you there, in person."

Of hy sal gaan?

"Natuurlik, ek reis enige plek."

* A Wellington man has been invited to visit the British Museum in London, where the E type Jaguar he owned in 1964, is now being exhibited.


Menseregtedag - kan ons dit regtig vier?

Leo Crisp

[ Top ]


MET Menseregtedag môre word die demokratiese grondwet van Suid-Afrika gevier.

Rastafariër Daniel Bastiaan sê dis ook 'n geleentheid om te dink aan die duisende mense wat hul lewens verloor het om die voorheen benadeelde gemeenskap hul geregtigheid te gee en die geleentheid te gee om die demokrasie te geniet. 

"Die plaaslike gemeenskap het 'n ryk geskiedenis as dit by die veg vir geregtigheid, verandering en menseregte kom.

"Mense soos Adri Faas, Vivian Mathee en baie ander het hul lewens opgeoffer. Dit het gely tot baie veranderinge nie net in die Paarl nie, maar ook die land," het hy bygevoeg. 

Môre herdenk ons ook die 'Sharpeville Slagting' in 1960, toe 69 mense wat teen die gebruik van passe betoog het, doodgeskiet is.

Terwyl die grondwet eis dat burgers die reg tot vryheid en veiligheid het, is Valenzo Davids nie so seker hoe veilig hy regtig is nie, met die toenemende misdaad in die vallei.

"Ek is baie ontevrede dat misdadigers wat moord, diefstal en aanrandings pleeg net agteroor gaan lê en 'n 'luxury' leefstyl geniet in gevangenisse.

"Ek dink die doodstraf moet teruggebring word as die moord en geweld nie ophou nie. Vroeër jare was daar nie so baie misdaad soos nou nie," het hy gesê.

Randall Williams voel dat menseregte nou meer vir misdadigers baat as gewone bur-gers en doen 'n beroep op mense om hul regte te ken en toe te pas.

"Kinders jonger as 18 jaar het spesiale regte, soos om nie mishandel te word nie."

Freek Cupido van Chicago, Paarl-Oos, dink ook meer kan gedoen word om mense bewus te maak van hul regte en hoe die owerhede dit misken. 

"As ek die polisie bel oor misdaad in my buurt, reageer die polisie op hul eie tyd.

"Daar is mos nou nie regverdigheid as dit so aangaan nie - 'n mens se regte word jou hierdeur ontneem," het hy gesê.

Anchel Human, 'n matriekleerling wat in Noorder-Paarl woon, stem saam.

"Indien jy 'n saak maak teen iemand weens 'n misdaad, is die kans dat die reg sal seëvier, baie min."

Sy dink dat menseregte beteken dat elkeen besluite kan neem oor hul eie toekoms.

"Maar soms maak mense misbruik van hul regte."

Deon de Lange sê hy dink die grondwet gee gelyke regte vir almal, maar is ontevrede met die regering se hantering van die HIV/Vigs epidemie

"As daar 'n geleentheid is om lewens te red of as die medici voel dat die dwelm nevirapine jong babas van moeders met HIV/Vigs kan red, dan moet dit gratis aan mense gegee word," sê De Lange.

Hy voeg by dat mense hul regte moet ken en die nodige inligting moet kry oor HIV/Vigs en hoe om dit te bekamp.

Die grondwet sê dat jy die reg op 'n gesonde omgewing het. Maar Angeline van Coller van Carterville sê sy is so ongelukkig met haar plaaslike regering, sy dink nie sy geniet al haar regte nie.

"My straat sou al in 1994 geteer gewees het en niks het daarvan gekom nie. Die strate is vol vullis en die raadslid wat ons ingestem het, kan ook nie vir ons help nie.

"Ons dreins is geblok, wat die gebied onhigiënies maak. Watter regte het ek as 'n huis-eienaar?" vra sy.

Die grondwet sê ook dat almal toegang tot gesondheidsorg het en dat die regering moet verseker dat almal toegang tot voedsel, water, gesondheidsorg en maatskaplike sekerheid het.

Maar Simon Nkonke van Thembani-plakkersgebied in Mbekweni meen dat hy geen menseregte het nie.

"Mense soos ek, wat nie blyplek het nie en wat in 'n plakkerskamp woon sonder lopende water en toiletgeriewe, het nie regte nie," sê hy.

Hy voel hy verdien 'n huis en ander geriewe.

* Local residents are doubtful whether to celebrate Human Rights Day, as they feel many of their rights are infringed by rising crime and poor municipal services.


Oorlede

[ Top ]


'n BEKENDE inwoner van Safcol La Motte by Franschhoek, Aron Mtonga, is Maandag in die ouderdom van 84 jaar oorlede.

Hy het sy lewe lank vir die ou Departement Bosbou op La Motte gewerk as arbeider. Mtonga was ook in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog soldaat gewees.

Hy was die oudste van die Mtongas op Franschhoek, wat hulle tuisland Zambië verruil het vir Suid-Afrikaanse burgerskap.

Hy laat sy vrou Anna en kinders Aron, Afrika, Jane, Semi en Lettie agter. Die begrafnis is Saterdag om 14:00 te Stinkhoutlaan 141, La Motte.


Wellingtonners vereer

[ Top ]


DIE Wellington Rapportryers het weer hulle tweejaarlikse merietetoekennings gemaak aan verdienstelike instansies of persone in die dorp.

Sakeman Slabbert Burger en sy vrou Paula is vereer vir hulle ontbaatsugtige diens aan die Wellington-Noord gemeenskap, onder meer deur verskaffing van vervoer aan bejaardes.

SCB Smit is vereer as medegrondlegger van die toerismebedryf in Wellington. Charlotte Cupido (oudonderwyseres) het 'n toekenning ontvang vir haar lewenslange betrokkenheid by kultuur-, kerk- en gemeenskapsaktiwiteite.

Jan Orffer van die plaas Limietrivier is vereer vir sy bydrae aan die Wellington gemeenskap en veral die landelike gemeenskap.

Joubert Cillié (88) van die plaas Vrugbaar het die gemeenskap op vele terreine gedien, en sal veral onthou word vir sy ywer om Wellington as speelhoofkwartier van die Boland Rugbyunie te vestig.

Patrick Ross word as landdros vereer vir sy merkwaardige diens aan Wellington, as leier op sportgebied en as rolmodel vir die jeug in sy gemeenskap.

Louise Grobler, adjunkhoof van Hugenote Hoërskool, is vereer vir die wyse waarop sy sedert 1984 'n groot aantal Wellingtonse seuns en dogter in vasvra, debat en redenaarskompetisies afgerig het met prestasies op nasionale vlak en daardeur ook blootstelling vir Wellington verkry het. 


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za