|
HIERMEE lug ek my misnoeë oor swak kliëntediens wat betref my motorradio.
Ek het in Januarie 2003 'n nuwe Ford Ranger 2.5L by Novel Ford gekoop en in November 2003 het my radio onklaar geraak.
Ek het dit na hulle gevat en die diensafdeling het die radio na hulle agente gestuur. Die aanvanklike boodskap was dat daar 'n muntstuk in die radio gevind was.
Na twee maande se wag vir die herstel daarvan, kry ek geen terugvoering insake my radio nie. Ek gaan toe self na die tak waar ek my probleem verduidelik. Hulle belowe dat hulle na my sal terugkom oor die vordering.
'n Maand later moes ek weer ingaan, want ek kry geen terugvoering nie. Hierdie keer word aan my oorgedra dat die radio onherstelbaar is - dit na drie maande se wag.
Dit het my ontstel, want daar was geen woord van soveel skade aanvanklik nie en hulle sou dit herstel het.
Ek vra toe dat my radio teruggestuur moet word met 'n verslag van die probleem. Wel, ses weke later (middel April) was daar geen sig van my radio nie en weereens geen persoon van die tak wat my terugvoering gee nie.
Ek gaan toe weer na die tak en praat weer met die personeel. Hulle is verbaas oor my radio en sal weer aandag daaraan gee. 'n Week later kry ek my radio, maar geen verslag nie.
Ek bel byna elke dag, maar die verslag is nou nog nie gevind nie.
Dit is absoluut pateties, want ek is nou sewe maande sonder my radio.
Tweedens was hul skielike verslag dat dit onherstelbaar is, eers na vier maande en niemand kan dit op skrif gee nie.
Dit lyk baie verdag en ek vermoed daar het meer met my radio verkeerd gegaan behalwe 'n muntstuk.
Dié diens is onaanvaarbaar. Die dag toe ek in die voertuig belang stel, toe val almal oor hulle voete om die bakkie te verkoop, maar nou stel niemand meer belang in die probleem wat ek het nie.
Vir die kliënte daar buite, die bakkie is 'n goeie voertuig, maar die diens is teleurstellend.
Dr Arthur Williams, Pniel
Jurgen zu Bentheim van Novel Ford antwoord: Eerstens sou ek dit waardeer het as dr Williams my gekontak het. Natuurlik is ons jammer oor die ongerief en frustrasies wat hy met sy radio ondervind het.
Ons het dit in November 2003 na die firma "Grid" in Kaapstad gestuur wat ook die alleenreg op reparasies gehad het.
Tot ons verbasing het ons in Desember vasgestel dat die plek vir die Desembervakansie gesluit het.
Die radio is na hulle tak in Johannesburg gestuur vir herstel. Na 'n lang gesukkel en 'n klomp oproepe het ons in Maart uiteindelik gehoor dat 'n muntstuk wat in die radio gevind is, dit wel onherstelbaar beskadig het.
Op dr Williams se opdrag dat hy sy radio wil terughê het ons weer eens lank gesukkel om dit uit Johannesburg terug te kry.
Ons sukkel steeds om die verslag uit hulle uit te kry aangesien hulle die tak in Kaapstad gesluit het en ons Kaapse verwysingsnommer blyk-baar moeilik opspoorbaar is.
Dr Williams is ongelukkig nie die enigste kliënt wat probleme ondervind het nie.
Ons probeer ook nie ons verantwoordelikheid ontduik nie, maar die vertragings en frustrasies was ongelukkig buite ons beheer. As 'n gebaar is ons bereid om 'n nuwe radio teen 50% koste aan dr Williams te verskaf. Ons stem saam dat dit "swak diens" was. |