|
DIE ergste vloede die afgelope eeu in Wellington het die dorp gister 50 jaar gelede getref, met net een brug vir verkeer na die Noorde wat staande gebly het - Malansrivier Brug.
Dié sementbruggie oor die Kromrivier is onlangs weer tot sy eertydse glorie herstel en staan gereed vir die winter se waters.
Meer as 100mm reën het die oggend van 19 Mei 1954 oor Wellington uitgesak - dit nadat daar die vorige dag uit die voue van 'n sterk noordewind 75mm water geval het.
Op Bainskloof self, is 250mm reën gemeet en die pas is vir die eerste keer in sy honderdjarige bestaan weens spoelskade vir verkeer gesluit.
Die half-toegegroeide vore gelaat deur rotse en grond wat daardie dag teen Sneeukop se hange afgegly het, is vandag nog sigbaar.
Bejaardes wat daardie dag in stomme verbasing na die vloedgolf gestaar het, onthou hoe die Kromrivier later nie in 'n stroom gevloei het nie, maar al breër gestoot het.
Eers oor die oewers en riete, toe oor bamboesbosse en aangrensende boorde en by die deure van geboue in, het die malende golf die klippe in die rivierloop soos 'n kwaai seemonster rondgerol.
Ontwortelde bome het soos die Queen Mary bo-oor die onsigbare wingerde geseil, onthou 'n boer die dag toe hy as 29-jarige magteloos saam met sy pa voor die krag van die water gestaan het.
Toe alles verby was en met opruiming kon begin word, het net een brug staande gebly, en verkeer uit die dorp moes 'n week lank oor die plaas gaan totdat ander brûe herstel is.
Die Malansrivier Brug is in 1919 op die plaas Groenfontein, setel van die ou Malan-familie, gebou.
Jan van der Merwe, algemeen bekend as Jan Sement, die baasbouer van daardie tyd, kon trots wees op sy handewerk.
Hy het net gewerk met sand uit die Blousloot, aan die westekant van Groenberg. Die sand is soos diamante in lopende water gewas en na die boupersele gekarwei.
Die sand uit die Kromrivier was gebluste graniet en niks werd nie het hy gesê, en hy sou homself nooit verwerdig om daarmee te bou nie.
Sy boumengsel, het hy verduidelik, was een deel sement en 17 dele Blouslootsand en handgekapte klip. Sement was daardie dae skaars, en is die land ingebring in houtvate uitgevoer met bruinpapier.
Die einste Jan Sement, in latere jare burgemeester van Wellington, het maar gesukkel met die Engelse taal.
Ouer mense onthou vandag nog sy ontmoeting met Prins George in 1934, toe hy die hooggeplaaste besoeker groet met: "And please send greetings from Wellington to your father and your mother."
Malansrivier Brug het later in onbruik geraak toe 'n breë verbypad van Hexberg, deur die Bovlei, na Bainskloof aangelê is.
Die van Malan, het in die vierde geslag van die plaasakte verdwyn toe Lang Kootjie Malan net dogters agtergelaat het en 'n Bosman Groenfontein van sy skoonpa gekoop het.
Vandag, 50 jaar nadat die brug tydens die verwoestende vloed van 19 Mei staande gebly het, is die brug weer tot sy eertydse glorie herstel.
'n Nasaat van die Malans was die dryfkrag agter die restourasie. Want, glo die vyfde geslag Bosman, Malansrivier Brug moet altyd daar wees vir die nageslag.
En vir ingeval die nuwe pad nie die volgende vloed weerstaan nie.
* A historic bridge on a farm near Wellington has been restored. |