|
'n UNIEKE kuier-aand van kuns, letterkunde en 'n interessante ete word Vrydagaand 28 November by Simonsvlei wynkelder in die Paarl gehou.
Cato Jamneck, talentvolle skilderes van De Rust in die Klein-Karoo, het vroeër in haar lewe 'n draai by Vader Claerhout gemaak.
Die afgelope agt jaar is skilder haar voltydse loopbaan. Sy het veral naam gemaak met haar skilderye oor die Griekwa-psalms van Hans du Plessis.
Hy het aan haar goedkeuring gegee om uittreksels uit "innie skylte vannie Jirre" saam met haar skilderye te gebruik. Daar sal ook ander werke van haar te sien wees.
Johann Nel sal enkele verse uit die digbundels van Hans du Plessis, onder meer die Griekwa-psalms, voordra.
'n Egte, driegang Kalahari-ete word bedien met roosterkoekies, Kalahari-oesters en slaaigoed as voorgereg, lamspastei, volstruissosaties en om die aand se lekker eet mee af te sluit, karringmelkpoeding. Simonsvlei wyne sal bedien word.
Dit vind plaas in die ontvangslokaal van Simonsvlei. Slegs voorafbesprekings word aanvaar en kaartjies teen R100 elk is beskikbaar by Simonsvlei-kelder (863-3040), of skakel Kobus Victor (082-782-1946).
Die uitstalling val saam met Simonsvlei se maandelikse proe-mark en sal vir die publiek oop wees tot Sondagmiddag. |