|
EK is die ma van 'n elfjarige dogter wat onlangs aan die Paarl Ussasa atletiekbyeenkoms op 6 Februarie op Daljosafat deelgeneem het.
Dit is die eerste jaar dat ek my kind aan die byeenkoms laat deelneem aangesien ek haar vanjaar kon vergesel. Dit was dan ook beslis die laaste jaar dat ek haar hier sal laat deelneem.
Die gedrag van sekere skoolleerders het die byeenkoms heel onsmaaklik gemaak.
'n Gedurige gesing en gegillery het beteken dat toeskouers nooit kon hoor wat die aankondiger sê nie.
Dit is een ding om atlete tydens 'n wedloop aan te moedig, maar dit is net etiket om as daar 'n afkondiging is, stiller te raak sodat daar gehoor gegee kan word.
Dit was egter nie hier die geval nie.
Daarbenewens het dit meer as een keer gebeur dat van die jonger atlete tydens naellope kruis en dwars oor die bane hardloop sonder dat hulle gediskwalifiseer of deur die beamptes aangespreek word.
Smerige aanmerkings teenoor die meisie-atlete en die feit dat jy gedurig 'n wakende oog oor sportsakke en ander besittings moes hou, is nog twee dinge wat my dwars in die krop gesteek het.
Die aanwesigheid van 'n verdagte groepie ouer kinders wat in gewone drag geklee was, agter die pawiljoen rondgehang het, en beslis nie aan die byeenkoms deelgeneem het nie, het my ook ongemaklik gemaak.
Ek was self vir jare lank 'n atleet en voel dat die atmosfeer wat by byeenkomste soos dié heers nie bydra tot atletiek nie en inteendeel swak is vir die sport.
My dogter blink uit en het die dag eerste gekom in al haar items, maar ek gaan haar beslis nie weer by dié byeenkoms laat deelneem nie.
Besorgde ouer |