safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 21 February 2002

uitlefstreep
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Nuus - News


Boesmans pas nou plase op

[ Top ]


wboesSPOOR kan hulle vat, hierdie Boesmans wat die afgelope jaar al meer as 'n honderd skaapdiewe by Riebeek Kasteel agter tralies gedraf het.

Die fyngeboude manne met die vinnige glimlagte en die klikklak-klanke op die tong is lede van Chris Vorster se Riebeek Plaaswag.

Saam pas hulle 57 plase in die omgewing op en draf maklik die duisende hektaar kaf om die boere se skape uit die potte van die vleisdiewe te hou.

Die sewe woon op die Elandsberg wildsplaas naby Hermon. Hulle meng nie met die plaaslike inwoners nie en

SPOORSNYERS. Boesman spoorsnyers (onder) sit met pyl en boog byderhand by Chris Vorster, die eienaar van Riebeek Plaaswag, om hul strategie te bespreek. Van links is Adriki Dala, Lasarus Dala, Fransisko Mnejenga, Lavis "Meerkat" Munango, Antonio Louw en hul leier Matheus Munango.

word elke drie maande geruil sodat hulle met hul gesinne by Smitsdrift herenig kan word.

Dit is waar die regering die Xû-stam uit Angola hervestig het nadat hulle tydens die grensoorlog by die Weermag se Omega basis in Namibië die soldate as spoorsnyers bygestaan het.

"Maar die mense is arm daar," vertel die hoofspoorsnyer, Matheus Munango. En ons wil werk."

Daarom is hulle gretig om Riebeek se boere uit te help. Die jong mans by Smitsdrift doen spoorsnyerkursusse om soos hulle voorvaders die tekens van die natuur te kan lees.

Voorverledeweek het die manne ná ses uur se spoorsny afgeslagte skape in ystervarkgate versteek gekry.

Die manne het begin grond toe kyk en toe hulle by die arbeidershuise kom, dadelik opgelet daar sit darem ekstra baie brommers teen die vensters van sommige wonings.

Dié huise is deursoek, en siedaar - verdere buit is gevind.

Verlede week het die ratse manne ses uur lank spoorgesny nadat daar by 'n kelder ingebreek en twintig 1,5 liter bottels wyn gesteel is.

Hulle het die besope diewe met bottels en al aangekeer.

Met nagsig, vyf radio's en pyl en boog pas die manne snags die plase op. Enige ongerymdheid word dadelik gerapporteer en dan kom die polisie saam met Vorster en sy twee assistente om die arrestasie uit te voer.

"Dis instink wat hierdie manne wat so na aan die natuur lewe sulke uitstekende spoorsnyers maak," meen Vorster.

Die Boesmans volg ook spore van rooikatte, wat dan in vanghokke gelok en uit die omgewing verwyder word voordat hulle te veel skade onder lammers kan aanrig.

Spoor is ook al gesny om plaasaanvallers en vrugtediewe op te spoor en kapers aan te keer voordat motors geroof kon word.

Waar die Boesmans se "jagveld" tussen Hermon en Wellington eindig, neem die Ovambo spoorsnyers van die Hugenote Plaaswag die leisels oor. Wanneer die nood druk, help hulle mekaar ook oor die grensdrade uit.

Saam met die Hugenote Plaaswagbaas, Deon Jansen, het die Ovambo's, voormalige lede van die Suid-Afrikaanse Polisie se berugte Koevoet-eenheid in Noord-Namibië, al menige huisbreker en sproeierdief in die Bovlei buite Wellington laat les opsê.

* Local  farms are guarded by Bushmen and Ovambo trackers.


Klagtes oor insamelaar

[ Top ]


TWEE welsynsorganisasies het vandeesweek beswaar gemaak teen die optrede van 'n Wellingtonse organisasie, Samaritaan Huis ("House Samaritan"), met 'n kantoor in die Markplein-winkelsentrum.

Die hoof is Frank van der Klashorst, bestuurder van Olyvenhof gasteplaas aan die Perdeskoenpad.

Volgens Dawie de Villiers, bestuurder van Sunfield Homes, het Samaritaan Huis aangebied om fondse namens Sunfield in te samel, maar het die skenkings die tehuis nie bereik nie.

Navrae deur hom het aan die lig gebring dat Samaritaan Huis wederregtelik die fondsinsamelingsnommer (NPO nommer) van 'n ander welsynsorganisasie, Oliver's House in Benoni, sou gebruik.

'n Klag van bedrog weens die misbruik van hul NPO nommer is deur Oliver's House gelê teen 'n werknemer van Samaritaan Huis op Wellington, Phil Peters.

Peters is na bewering verlede jaar by Oliver's House ontslaan weens wangedrag.

De Villiers wys daarop dat alle skenkings aan Sunfield per brief erken word. Hy het 'n beroep gedoen op enigeen wat via Samaritaan Huis skenkings gemaak het aan Sunfield, om dit by hom aan te meld by 864-3124. (Sien bladsy 10).

Maandag het Van der Klashorst aan die Paarl Post gesê hy gebruik nie meer die "geleende" NPO nommer nie. Hy het ontken dat hy enige geldskenkings namens enige organisasie in ontvangs geneem het.

"Daar was al vrugte en dergelike goedere wat ons aan Sunfield oorhandig het.

"Indien ons geldskenkings ontvang, sal ons dit na goeddunke allokeer en 20% kommissie vra," het hy aan die Paarl Post gesê.

Samaritaan Huis samel benewens vir Sunfield ook fondse in vir Paarl Bejaardesorg, Noah (Woodstock), Huis Matzikama (Vanrhynsdorp), Huis Groeneweide (Darling) en Huis Bergsig (Riebeeck-Wes).

Geen skenkings het hierdie organisasies tot dusver bereik nie, het woordvoerders gesê.

Volgens Callie Rischbieter, 'n privaatspeurder wat verskeie klagtes teen Van der Klashorst ondersoek, word daar voorgegee dat hy "'n chirurg is wat 'n beroerte gehad het en nie meer kan praktiseer nie."

Klagtes wat onder meer ondersoek word, is dat R9000 se geldskenkings al deur Samaritaan Huis ingevorder is, wat nie die welsynsorganisasies vir wie dit bedoel was, bereik het nie.

Nog 'n klagte is dat skenkings van voedsel deur kettingwinkelgroepe ter waarde van sowat R5000 ontvang is. Dit is glo deur Samaritaan Huis se gewese kantoorpersoneel huis toe geneem in plaas van salarisse wat nie betaal is nie. Enigeen met verdere inligting kan Rischbieter kontak by 873-2952.

* Local charities have expressed their concern over the activities of a Wellington organisation, Samaritan House, which allegedly did not pay over funds collected for them.


Divorce for Chester

[ Top ]


FORMER Springbok wing, Chester Williams, was officially divorced from his high school sweetheart, Theresa Williams, on 12 February.

Williams, now Springbok sevens coach living in Gauteng, plans on proposing to his girlfriend, Maria Robson, and they are to set a date soon.

Williams's former wife Theresa, who runs a nursery school at her home in Klein Parys, Paarl, said she had no plans to close down the Sporty Bears daycare centre.

She said that the toddlers and their parents had become a part of her life and she owed it to them to continue with the school.

She would not comment on the reasons for the break-up of the marriage after five years, as the divorce settlement precludes any comment from her on the issue. The couple have no children.


Skelm loop sy rieme styf

[ Top ]


'n BLAASKANSIE vir 'n botteltjie wyn was die ondergang van 'n inbreker wat verlede week met 'n armvol buit uit Noorder-Paarl probeer ontvlug het.

Twee ou vriende van Paarl-Oos, Andries Abelse en Izak van der Westhuizen, het hulle in die koelte van die bome by die Langstraatbrug gemaklik gemaak toe die man met die sak goed aangeloop gekom het.

"Ek meen toe dis kartonne en ek vra toe hy moet 'n stukkie boks gee dat ek lekker daarop kan sit langs die rivier," sê Abelse.

"Dit was mos so 'n warm dag. Maar die mannetjie stap rustig aan, en ek ruik hier is iets nie lekker nie."

Abelse (60), 'n KWV tuinwerker wat met rugprobleme afgetree het, besluit toe om hom te agtervolg.

Sy vriend het in sy motor geklim en daarin geslaag om die verdagte in Westhovenstraat voor te keer.

Toe hulle eis dat hy die sak uitskud, het die jong man dit neergegooi en laat spaander.

"Ons het hom met Izak se motor agterna- gesit. Ons het hom gejag, die mannetjie met die wit hemp en die swart jeans.

"Hy is oor die treinspoor en ons is anderkant heen en weer deur Daljosafat, tot by Allandale tronk en terug na Mbekweni se kant.

"Maar ons kon hom nie vang nie. Ek sê toe ons ry jou petrol op, Izak, kom ons los maar.

"Ons het darem die mense se goed vir hulle teruggekry."

Later die aand het Tom Dreyer van MonteRiolaan 'n huisbraak by sy woning in Noorder-Paarl aangemeld, die derde in minder as twee jaar.

Groot was sy verbasing toe die polisie vir hom die wit en blou matrasoortreksel gee met die gesteelde goedere, waaronder 'n dekodeerder, kamera en drank.

'n Fotograaf van die Paarl Post was op die toneel en het foto's van die verdagte geneem voordat hy ontvlug het.

* Two elderly Paarlites managed to scare of a young burglar.


Weldoeners kry 'stank vir dank'

[ Top ]


wkliniek21WELDOENERS wat troeteldiere uit Wellington se mindergegoede woonbuurtes gratis behandel, is beswaard.

Jare lank al het die Dierebeskermingsvereniging en helpers weekliks meer as 'n honderd honde gebad, ontwurm, vitaminestroop ingegee en geënt, alles teen 'n nominale fooi van 50c.

Tot twee weke gelede, toe hulle skielik voor 'n slot aan die hek na die Colibri-saal, waar die diere behandel word, te staan gekom het.

'n Afgetrede veearts, dr Tertius

KLINIEK SKUIF. Die DBV se Dinsdagkliniek word voortaan in die Weltevrede Sportsentrum gehou. Hier versorg dr Tertius Schneider die hondjies wat Reese en Jasmine Williams gebring het. Foto: Susna du Toit

Schneider, met die hulp van 'n opgeleide verpleegster, verbind gereeld gebreekte bene.

"Dis kinders wat met verlepte hondjies hier aankom," sê Charlotte Slater van die DBV. "Ons sien elke Dinsdagmiddag tot 'n honderd honde by die saal.

"Tot onderburgemeester Herman Bailey sê ons doen meer vir Masakhane as vele ander, en nou hierdie klap in ons gesig. Dit is skreiend."

Die uitsluiting is die gevolg van 'n stadsraadsbesluit nadat daar klagtes uit Carterville was oor bosluise en vlooie in die saal.

"Ons is nooit gevra om ons saak te stel nie," sê Slater.

"Dit was 'n eensydige klagte wat nie gestaaf kan word nie. Ons was elke Dinsdag die saal met chloor af en as ons uitgaan, is dit skoner as voordat ons ingekom het.

"Die saal is erg verwaarloos, met meer gebreekte as heel ruite. Maar dit is nie as gevolg van ons aktiwiteite nie.

"Geen munisipale amptenaar het al ooit kom kyk wat ons doen nie.

"Dit is 'n groot slag vir honde-eienaars, want die behandeling is bekostigbaar, professioneel en binne stapafstand van die mense wat dit nodig het."

Verlede Dinsdag is die weldoeners na die Weltevrede sportgronde waar hulle in die toekoms geakkommodeer sal word.

"Daar is nie 'n enkele ruit in die vensters nie, want die gebou is gevandaliseer. Die deure kan nie toe nie en daar is nie elektrisiteit nie," sê Slater.

Die stoepe en vloere is oortrek van menslike ontlasting. Voordat die veearts en die vroue Dinsdag met hul liefdeswerk kon begin, is die Brandweer eers ingeroep om die vloere af te spuit.

"Die afgelope tien jaar sien jy nooit meer geraamtes of mishandelde honde langs die strate nie. En dit is nie die Munisipaliteit wat daarvoor sorg nie, die DBV doen die werk vir hulle," sug Slater.

"En dit is die dankie wat ons kry."

Volgens 'n munisipale woordvoerder is daar besluit dat die DBV 'n alternatiewe lokaal moet gebruik nadat klagtes van die publiek ontvang is omdat mense en diere dieselfde lokaal moet gebruik.

"Die Raad is goedgesind teenoor die diens wat die DBV lewer, maar die Colibrisaal is daargestel vir die gemeenskap en ons moet hul wense respekteer."

* The Wellington SPCA had to move their dog clinic from Carterville to Weltevrede.


Meisies (11) aangeval

[ Top ]


DIE stiefpa van 'n 11-jarige meisie is in aanhouding nadat sy en 'n maatjie Saterdag in 'n wingerd op 'n Paarlse plaas verkrag is.

Die verdagte het sy stiefdogter en die maatjie wat by haar gekuier het, na 'n wingerd gelok onder die voorwendsel dat hy vir hulle sou druiwe pluk.

Drie ander klagte van verkragting is die naweek by die Paarl Polisie aangemeld. In al die gevalle - een 'n 17-jarige meisie - het die slagoffers verklaar dat hulle so dronk was dat hulle eers later besef het dat hulle "gemolesteer" was.

* In Paarl-Oos is 'n baba (11 maande oud) verlede week deur haar pa onsedelik aangerand terwyl sy in die sorg van haar skoonma gelaat is. Volgens die polisie was sowel die pa en die skoonma onder die invloed van drank tydens die voorval.

* In Groot Drakenstein is 'n 57-jarige vrou Saterdag om 15:30 verkrag terwyl sy en 'n buurvrou op 'n plaaspad onderweg was.


Smouse kry meer staanplek

[ Top ]


DIE Munisipaliteit het onlangs bykomende staanplekke goedgekeur met die oog op die verskuiwing van smouse uit Lady Greystraat na Patriotplein (91 stalletjies).

Die ander plekke in die Paarl waar smouse sal mag staan, is by Van der Poelsplein (8 stalletjies), by die taxistaanplek naby Paarl Shoprite (25), by Foodworld supermark (14) en by Broadway-winkel in Chicago (8),

Na vertoë is bykomende plekke nou ook goedgekeur op die hoek van Hoof- en Skoolstraat (3), oorkant die Huguenot Gemeenskapsaal in Jan van Riebeeckweg (6) en oorkant Food O Rama in Bougainvilleastraat (4).

Seisoenale stalletjies sal in Jan van Riebeeckweg oorkant New Orleans (4) asook oorkant die Elektrisiteitsdepartement (2) toegelaat word, en een of twee voor Renato's Supermark in Hoofstraat, Noorder-Paarl.

Altesame 19 stalletjies sal toegelaat word in die sentrale deel van Mbekweni (Mphakalasistraat).

Op Wellington sal 53 stalletjies toegelaat word in Mellingstraat (langs die Markpleinwinkelsentrum) en twee stalletjies op Marchandplein (agter Shoprite).

Seisoenprodukte sal langs Piet Retiefstraat noord van die Dierehospitaal en oorkant die begraafplaas in Jan van Riebeeckweg verkoop mag word.

Smouse sal tussen R50 en R120 per maand betaal, afhangend van die grootte van die stalletjie. Daggeld wissel van R15 tot R30 volgens grootte.

Verdere inligting oor die beoogde smousstaanplekke is beskikbaar by munisipale kantore en biblioteke. Kommentaar moet die Munisipaliteit bereik voor 6 Maart.

* Additional points at which hawkers will be allowed to set up stalls, have been approved in Paarl and Wellington.


Vallei kook

[ Top ]


DIE temperature in die Paarlvallei het vandeesweek naby 40 grade Celcius gaan draai en vandag sal geen uitsondering wees nie.

Paarliete kan weereens vandag verwag om teen minstens 31 grade Celcius behoorlik te sweet.

Op 9 Februarie is 'n snikhete 39 grade Celcius gemeet, wat dit die warmste dag vir die maand van Februarie maak.

Die koudste nag was op 13 Februarie, toe die nagtemperatuur tot 12 gedaal is. 'n Reënval van 31mm is tot dusver gemeet, in vergelyking met 23mm dieselfde tyd verlede jaar.

Vir die plaaslike druiweboere bring die warm weer goeie nuus.

Volgens Derek Clift, tafeldruifboer van De Hoop plaas, is die afgelope tyd se wisselvallige temperature nie gewens vir die tafeldruifbedryf nie.

"Baie boere was nadelig beïnvloed deur die feit dat dit een dag gereën en die volgende dag weer baie warm was. Met die swaar reëns het die druiwe bederf en met die warm weer is die druiwe weer geskroei.

"Maar ons is al feitlik klaar met die seisoen, so ons kla nie juis nie. Die helfte van ons oes was darem nog goed. Maar ons verkies eerder warmer weer as reën," het hy gesê.

Die hoë temperature het ook baie grasbrande tot gevolg gehad. Die Paarlse Brandweer moes in Februarie 23 grasbrande onder bedwang bring.

Die Weerkantoor voorspel 32 grade Celcius vir môre en 30°C vir Saterdag.


Jong man gaan sit vir 15 jaar

[ Top ]


'n PAARLIET, Vinovan Kolms (20) van Springbokstraat, is onlangs tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis in die Paarlse streekhof vir besit van 'n ongelisensieerde wapen.

Kolms, wat vorige veroordelings vir roof en diefstal het, is in Chicago aangekeer met 'n semi-outomatiese pistool in sy besit.

Hy is ook ses maande straf opgelê vir die rig van die wapen op die polisie.

Die aanklaer was Desmond Francke.


Gedenksteen blink weer uit bergkrans

[ Top ]


DAAR is maar enkele Wellingtonners wat die tragiese gebeure van 19 November 1959 nog kan onthou toe die jong student Frans Ferreira tydens 'n bergklimuitstappie gesterf het.

Hy het sy balans verloor toe hy sy hond oor 'n nou rotslysie wou help en na sy dood geval.

Sy ouers het daarna 'n marmersteen 'n hele ent laer af teen die berg opgerig. Hierdie steen, wat skuins na agter in die rots vasgemessel is, weerkaats die laatmiddagson en is dan uit Wellington as 'n skerp lig sigbaar. 

Aanvanklik is 'n spieël langs die steen staangemaak wat veronderstel was om die funksie te verrig en vir baie jare is geglo dat dit die weerkaatsing van die spieël was wat gesien kon word. 

Onlangs het 'n plaaslike inwoner, Bertie Schroeder die lang tog na die baken aangepak, maar kon geen spoor van 'n spieël vind nie.

Willie Koorts, 'n amateur-sterrekundige, is so deur die verhaal aangegryp dat hy nie net daarin kon slaag om die weerkaatsing van die steen op film vas te lê nie, maar ook 'n benaderde tyd kon uitwerk wanneer en van waar die weerkaatsing sigbaar is. 

Die gedenksteen is teen die voetkranse van die regterkantste van die drie Hawekwa-pieke (die sogenaamde W) naby die mikrogolftorings sigbaar. 

Indien die weersomstandighede gunstig is, is die weerkaatsing vir tot tien minute lank sigbaar met die blote oog en heelwat langer met 'n verkyker.

Tans is dit in die noordelike deel van Wellington sigbaar in die laatmiddag (18:50). Die weerkaatsing sal in Maart in die laatmiddag uit die middedorp sigbaar wees (18:30) en in April behoort dit van Vanwyksvlei sigbaar te wees teen omtrent 17:30.

Die lentesigbaarheidsdatums beteken dat kykers later vanjaar weer 'n geleentheid sal kry om dit te sien wanneer die son op pad terug is na sy somer omdraaipunt toe.

Dit sal van einde Augustus in die laatmiddag van Vanwyksvlei sigbaar wees, teen Oktober uit die middedorp en teen middel-November van Wellington-Noord en Berg-en-Dal.

Mense wat die weerkaatsing raaksien, word versoek om Willie Koorts by 864-2642 saans te skakel.

Teken dan besonderhede aan soos die datum en tyd (die begin- en eindtye) en waarvandaan die weerkaatsing gesien is, sowel as vir hoeveel dae na mekaar die weerkaatsing sigbaar was.


Road meetings tonight

[ Top ]


A PUBLIC meeting to discuss a proposed transport master plan for the Drakenstein Municipality will be held simultaneously at two venues tonight at 19:00.

The meetings will take place at the Huguenot Community Hall in Paarl and Val du Charron Girls' School in Wellington.

Africon Engineering International has been appointed to develop the plan, focusing on the Paarl and Wellington municipal areas.

Problem areas to be studied in Paarl include Berg River Boulevard (north and south extensions), Lady Grey Street (upgrading/closure/connection to Klein Drakenstein Road), Van der Stel Street extension, parking within the Paarl CBD, traffic calming (especially Main Street) and provision of taxi bays.

In Wellington the General Hertzog Road connection and upgrading/closure of Church Street will be studied.

The plan is to be completed by the end of the year, after four rounds of public meetings, and will include a planning framework to meet the requirements of the Provincial Transport MEC.

Interested and affected parties may register at the meetings or contact Deon du Plessis on 807-3703 (Drakenstein Municipality) or Paul Fourie on 421-6527 (Africon).


Skote geskiet op aanvaller

[ Top ]


'n KLEINHOEWE-EIENAAR van Klein Drakenstein het Saterdagaand 'n gewapende aanvaller uit sy woning geskiet.

Ivan Eiman (61) was buite sy huis op Pine Hill Stud toe sy dogter, Regan (32), om hulp geroep het.

'n Onbekende man het in die kombuis met 'n vuurwapen teen die kop van sy suster, Johanna (69) gestaan.

Eiman het met sy eie geweer die kombuis ingestorm en 'n skoot in die lug gevuur. Toe die inbreker die vuurwapen na hom mik, het Aiman nog 'n skoot afgetrek.

Die man het op die vlug geslaan, met Aiman wat nog 'n skoot agter hom aangevuur het.

Die Vrydagaand is daar ook gepoog om by die opstal in te breek.

Paarlse speurders het onmiddellik leidrade begin opvolg en onder leiding van speur-insp Jan Thiart Maandag 'n 17-jarige van Milky town woonbuurt in hegtenis geneem.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]