|
DIE teatergroep Whaks Daniels & Co, wat in 2000 tot stand gekom het as deel van die Armoede-verligtingsprogram van die ou Wellington Munisipaliteit, het onlangs die stuk "Gatvolgesukkel" op die planke gebring.
Dit is 'n toneelervaring wat deur die gemeenskap vir die gemeenskap self ontwikkel is en spreek maatskaplike vraagstukke soos drankmisbruik en die voorkoming van Vigs aan.
Die aanleer van lewensvaardighede vorm die onderbou van hierdie produksie wat mense eerstens bewus maak van hul eie problematiek en selftrots ontwikkel sodat mense self verantwoordelikheid vir hul eie lewe kan neem.
Die stuk is opgevoer voor 'n wye verskeidenheid gehore en is oor die algemeen positief ontvang.
Vanjaar sal die groep ook bygestaan word deur maatskaplike werkers wat berading na elke vertoning sal bied.
Finansiële ondersteuning van die Drakenstein Munisipaliteit het die groep in staat gestel om tot aan die einde van 2001 te kon optree, maar geldelike hulp van die sakesektor en ander instansies is noodsaaklik as hulle werk voortgesit moet word.
Volgens Marianne Kitching, sameroeper en organiseerder, het die spelers hulle selfs bereid verklaar om sonder enige vergoeding te speel al is die meeste van hulle werkloos.
Daar is egter ander uitgawes soos vervoer, dekor, ligte, plakkate en administrasiekostes wat gedek moet word.
Skakel Marianne Kitching (tel 873-2043) om betrokke te raak by hierdie verdienstelike saak. |