|
'n GROOT kultuurfees gaan van 12 tot 14 September op Wellington gehou word om die 150ste herdenking van die opening van Bainskloofpas te herdenk.
Die pas is in September 1853 geopen en het, totdat die Du Toitskloofpas in 1949 oopgestel is, as hooftoegangspoort na die Noorde diens gedoen.
Daar is verskeie interessanthede langs die pas te sien:
* Brandewyndraai: 'n Onbekende korrespondent van die Worcester Standard het in 1915 vertel hoedat hy een oggend op pad berg-af na Wellington opgemerk het hoe die waspore voor hom op die gruispad gewys het dat die wa wat voor hom daar af is by elke draai al nader na die afgrond se kant geneig het.
So kry hy toe die wa om een van die draaie onder in die rivier lê, met die span osse veilig in die pad met slegs 'n kort stukkie afgebreekte disselboom aan hulle trektou vas.
Die drywer het nie eintlik seergekry nie, maar die vrag van brandewyn en rosyntjies het saam met die water weggespoel.
Jare later het 'n sekere Retief van Wellington vir hom vertel van een oggend toe hulle drinkwater uit die sloot so snaaks gesmaak het; dit natuurlik as gevolg van die brandewyn waarvan die Retiefs toe niks weet nie. Van daar die naam Brandewyndraai.
* Bain se tonnel: Daar is oorblyfsels van 'n murasie naby Bain se tonnel. Niemand kan verklaar wat die moontlike gebruik van 'n gebou op daardie plek was nie.
Hoewel die posisie van die bandietstasie aan die westekant van die pas nog nie vasgestel kon word nie, is dit redelik seker dat hierdie murasie een van Bain se oorblyfsels moet wees.
* Gawie-se-water: By die randsteen wat Gawie-se-Water aandui, tuimel 'n sterk stroom water teen die skuinste af op pad na die Kromriviervallei aan die Wellington kant ver onderkant die pas. Dié kom uit die Witterivier wat eintlik aan die anderkant van die bergrif vloei.
Boere van die Wagenmakersvallei, soos Wellington toe bekend was, het reeds op 23 April 1815 aan Goewerneur Charles Somerset per brief toestemming gevra om 'n sloot deur die berg vanaf die Witterivier, wat in die Breërivier invloei, na die Kromrivier, wat na die Bergrivier vloei, te grawe.
Toestemming is gegee, maar weens 'n tekort aan geld is dit nie uitgevoer nie. In 1849 vra hulle toe weer toestemming en dit word toegestaan - maar weer kortwiek 'n tekort aan geld die projek.
Bain bied toe aan om die voor te grawe en hy stel selfs voor dat 'n tonnel deur die berg gegrawe kan word om as watervoor sowel as pad te dien.
Die Kromrivierboere het egter gevoel hulle kon dit vir goedkoper as Bain se kwotasie doen en Gawie Retief het met die werk begin. Dit is uiteindelik in 1860 teen drie maal die prys van Bain se aanvanklike kwotasie voltooi.
* Die "Spookhuis": Bainskloof se "Spookhuis" is reeds gedurende 1979 gesloop, maar dit het vir meer as 30 jaar reisigers se aandag getrek waar dit hoog bokant Gawie-se-Water teen die berg gestaan het. Die eiendom waarop dit geleë is, is amptelik as Oostenberg bekend. Hugo se familie het die huis Wolkerus gedoop.
Hierdie eiendom is op 15 Augustus 1839 as plaas aan JJ van der Merwe toegeken.
Daarna het die Wellington Electric Light Power Syndicate dit in 1892 bekom, toe De Beers Consolidated Mines in 1899 en daarna PJ Hugo in 1938.
Na Hugo se dood is dit in 1946 aan die Paarl Munisipaliteit verkoop.
Hugo moes eers 'n pad skuins bokant die pas vanaf die Nek tot bokant Gawie-se-Water laat bou voordat die bouwerk aan die huis kon begin.
Hy het nooit die huis betrek nie daar hy ernstig siek was en dit is nie seker of Hugo ooit die eindproduk self gesien het nie, want hy is op 15 Maart 1941 oorlede.
Wolkerus het op 22 Februarie 1949 afgebrand nadat die wind vonke van 'n veldbrand op die riet-dak gewaai het.
Hierdie indrukwekkende sesslaapkamerwoning het 'n murasie geword en was daarna die slaapplek vir menige droster. Vandaar die naam "spookhuis" wat daaraan toegeken is.
Op 21 November 1978 is 'n jong Harlé-egpaar deur John Smith by die murasie vermoor - eers die man by Junction Pool, en daarna sy eggenote Jane naby die spookhuis.
Die murasie is toe gedurende 1979 gesloop en deesdae is net die fondasiemerke en 'n stutmuur nog getuie van dié eens indruk-wekkende herehuis wat daar gestaan het. |