|
EIENAARS van pruimkleurige motors kan weer ontspan, die polisie het die vermeende moordenaar wat met so 'n voertuig in die Paarl op vlug was, in hegtenis geneem.
Jafta Storm (36), vragmotorbestuurder op 'n plaas by Windmeul en pa van vier, is aangekla van moord en verkragting.
Speur-insp Nardie Groenewald was ses weke lank op die spoor van die eienaar van 'n pruimkleurige Toyota Cressida, nadat 'n jong vrou laas lewend in so 'n motor gesien is.
Evelyn Carelse (23), 'n Paarlse huishulp, het Saterdagnag 12 Julie 'n rygeleentheid saam met 'n onbekende man van 'n kuierplek in Lady Greystraat aanvaar.
Haar naakte lyk is die volgende dag teen 'n plaaspad in Klein Drakenstein ontdek.
Nádat die verdagte motor in die Paarl Post beskryf is, het die publiek die polisie van elke sodanige motor verwittig.
"Die oplettendheid en samewerking van die publiek was wonderlik," sê insp Groenewald.
Dit was 'n anonieme oproep wat die speurder uiteindelik verlede week op die regte spoor gebring het. Die motorbestuurder het ook baie gelyk soos die beskrywing deur ooggetuies.
Die man is vir ondervraging na die polisiestasie gebring, maar nie dadelik in hegtenis geneem nie. Hy wou graag sy vrou en kinders gaan groet by hul woning aan die Bo-Daljosafatpad.
Daar gekom het die man die hasepad gekies deur Fairyland. Sy motor is toe gekonfiskeer vir forensiese toetse.
Kort daarna het sersant Greg Goodman en Lionel Fortuin van die plaaswagpolisie 'n telefoonoproep uit Wellington gekry dat Storm hom wil oorgee.
Storm het Maandag in die Paarl Landdroshof voorgekom. Die saak is tot 25 Augustus uitgestel sodat hy 'n prokureur kan aanstel. Die verhoor sal in die Hooggeregshof wees.
"Ses weke lank het ek al die pruimkleurige Cressidas afgetrek en deurgegaan," sê Groenewald.
"Daar is veral 'n bejaarde man van Pniel, wat toevallig ook baie lyk na die gesigsamestelling wat in die Paarl Post was, wat sal dankbaar wees dat die motor opgespoor is.
"Verskillende polisiebeamptes het hom keer op keer van die pad getrek en sy pruimkleurige motor deurgekyk."
* The alleged murderer of a young Paarl woman, who was last seen in a maroon motor vehicle, has been arrested after a six week search. |