|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
PAARLIETE is besig om hul vere reg te skud vir môre en Saterdag se groot opruimingsaksie. Van Mbekweni tot Courtrai en van Lemoenkloof tot in Amstelhof - oral is mense gereed om rommel die stryd aan te sê. November is Omgewingsmaand en daarom het 'n groep bekommerde Paarliete besluit om dié maand ook 'n veldtog in die dorp te reël. Vanjaar is ook die amptelike Jaar van die Vrywilliger en daarom is besluit om mense te vra om vrywillig aan die aksie deel te neem. Die organisasie word deur vrywilligers gedoen, met die hulp van die Drakenstein Munisipaliteit. Die gedagte is dat mense môre in hul onmiddellike woon- of werkomgewing opruim en dat almal saam Saterdag die sakekerns takel. Heelwat skole neem môre aan die aksie deel, terwyl 'n groep van die Hawekwa Jeugsentrum die Arboretum gaan skoonmaak. Twee besighede, Avis Van Rental en Akura Engineering, het vervoer aangebied om die vullis te help verwyder. Die Munisipaliteit verskaf swart sakke en handskoene maar mense is gevra om, waar moontlik, hul eie handskoene saam te bring. Vrywilligers is ook gevra om wit T-hemde en denimbroeke te dra, sodat hulle maklik herkenbaar is. 'n Lys van areakoördineerders en telefoonnommers verskyn elders op hierdie bladsy. Mense wat môre wil help, kan die persoon naaste aan hulle skakel en reëlings tref. In Mbekweni word belangstellendes gevra om môre 10:00 by Blue Max Garage bymekaar te kom. Saterdag word daar van 12:00 tot 15:00 'n bewusmakings- en opruimingsaksie in die sakekerns gehou. Mense wat wil help, kan 12:00 agter Checkers in die Paarl of by Foodworld in Klein Drakensteinweg aanmeld, vanwaar hulle sal uitbeweeg. Die Munisipaliteit se skoonmaakdienste ruim jaarliks in die Paarl ongeveer 22 000 kubieke meter vullis op uit straatvee en straat- houers en onwettige stortings. Dit is nou die vullis wat nie by die huis in die vullisdrom gegooi word nie. Dit is gelykstaande aan een rugbyveld, 4,5 meter diep onder die vullis. Of anders gestel, as twee sterk rugbyslotte die een bo op die ander se skouers staan en jy staan bo-op hulle en jy is self hier by die 1,8m lank sal die vullis tot by jou bors kom, die hele rugbyveld vol! Die oplossing lê daarin dat elke inwoner van die dorp verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy eie vullis. Sou jy 'n pastei koop, dan kom die pastei in 'n papiersakkie en baie maal is daar nog 'n tin- foeliehouertjie en dalk ook 'n plastieksakkie daarby. Indien jy nou 'n verantwoordelike inwoner is, sal jy toesien dat jou verpakkingsmateriaal in 'n vullisdrom eindig. Om nog 'n stappie verder te gaan, sal jy seker maak dat jy dit liewer by die huis in die drom gooi en nie eens in een van die straatdromme nie, want dit is goedkoper vir die Munisipaliteit as uit straathouers. Sou die Munisipaliteit vind dat dit nie meer nodig is om straat te vee, onwettige vullisstortings op te ruim en straatvullishouers aan te hou en te diens nie, sal daar 'n besparing van meer as R6,6 miljoen per jaar wees. |
|
||||