safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
uitleg2mouthpiece
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 22 January 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 30 January  2004 at 17:00

 Letters - Briewe


Salf stadsraad sy gewete op dié wyse

[ Top ]


ONS is uiters ontevrede oor die Drakenstein stadsraad se besluit om die historiese sportterein, die Kraal, regoor die Huguenot-gemeenskapsaal te verkoop.

Ons het jare lank onderhandel om die Kraal te bekom vir 'n fietsrybaan van internasionale standaard, maar Yorkshire fietsryklub se tender om die Kraal teen 'n nominale bedrag te bekom, is nou geïgnoreer.

Reeds in 1987 het die destydse bestuurskomitee aanbeveel dat die "Huguenot sportterrein" op 'n langtermyn-grondslag aan die Yorkshire fietsryklub beskikbaar gestel word vir internasionale byeenkomste.

Die klub het reeds vroeër daardie jaar 'n raming van raadgewende ingenieurs gekry oor die koste van 'n fietsrybaan. Die koste was tussen R250 000 en R450 000 afhangend van die werk wat verlang sou word.

Die saak is daardie tyd aan verskillende staatsdepartemente voorgelê, maar nie een sien sy weg oop om die klub finansieel by te staan nie.

In 1989 reageer Lifestyle Leisure Centres op 'n beroep van die stadsraad om te help met die ontwikkeling van 'n sportkompleks op die terrein.

Die maatskappy stel voor dat 'n veeldoelige binnehuis-sportsentrum opgerig word, gekombineer met Lifestyle Leisure Centre en ook sekere buitenhuise geriewe. 'n Hotel is ook op die tafel.

Hulle vra vir 'n vyftigjaar huurkontrak en raam die ontwikkeling tussen R15m en R20 miljoen.

 Geld bly egter die tameletjie en pleidooie by staatsdepartemente en die privaatsektor lewer niks op nie.

Hier is baie fietsry-talent in die Paarl en dit gaan verlore omdat ons nie voldoende geriewe het nie.

Die Faurestraatbaan voldoen nie meer aan die vereistes van moderne fietsry nie. Die baan is sowat 460 meter lank, terwyl die tendens nou is vir bane nie langer as 333 meter nie.

Die platheid van die baan bring mee dat die prestasies van die jaers daaronder ly, aangesien hoër snelhede behaal word wanneer die hellings meer skuins is.

Dit is interessant dat die ontwikkelaar van die beoogde winkelsentrum R1,1 miljoen betaal vir die grond en as teenprestasie 'n skenking van R400 000 moet gee vir sportontwikkeling op die grond agter die gemeenskapsaal.

Sal dit ons stadsraad se gewete salf?

Kevin Green


Hoekom stop vir trein wat nie loop?

[ Top ]


DIE spoorlyn in Groot Drakenstein is tans heeltemal in onbruik. Daar het 3 jaar laas 'n trein op hierdie spoorlyn Franschhoek toe geloop. 

Die spoorlyn is al hoe meer aan die verval en heelwat skoonmaak en herstelwerk is nodig voordat 'n trein weer van die spoor gebruik sal kan maak.

Die Stellenbosse verkeersowerheid het dit goed gedink om die stoptekens op die pad te hernuwe.

Op Sondag 28 November het ons 'n provinsiale verkeersbeampte in sy motor by die betrokke oorweg sien sit. Die doel was duidelik om te kyk of die motoriste daar stilhou.

My vraag is: gaan padveiligheid nou bevorder word deur motoriste te beboet wat nie op die "dooie" spooroorgang stilhou nie?

Kundiges sal kan uitwerk hoeveel brandstof motors en vragmotors vermors deur by hierdie betrokke spoorlyn se oorgange stil te hou en weg te trek. 

Motoriste word nie net verplig om by die Groot Drakenstein oorgang stil te hou nie maar ook by die oorgang na Klapmuts by Simondiumstasie. 

Die vermorsing van skaars en duur fossielbrandstowwe net in hierdie vallei moet astronomies wees, geneem die getal voertuie wat van hierdie paaie gebruik maak. 

Waarom word die stoptekens nie verwyder of toegemaak totdat die spoorlyn weer gebruik word nie, indien ooit?

M Goosen

Spoornet skryf voor watter tekens benodig word, afhangend van sig by die kruising. Volgens 'n woordvoerder is 'n amptelike besluit om die spoor te sluit  nog nie geneem nie, dus is die verkeersowerhede verplig om die bestaande padtekens te handhaaf. - Red.


Beloftes van groot geld was vals

[ Top ]


DIT is skokkend watse planne mense maak om geld te maak - en in die proses word desperate werklose mense ingeloop, elke keer met 'n belofte van hoogs betalende werk.

So het daar in November en Desember 'n hele rits advertensies in die geklassifiseerde advertensies van koerante (ook die Paarl Post) verskyn waarin geadverteer word "Big Salary - no experience" of "Employment guaranteed", asook "Job offer".

Mense wat gereageer het, is genooi om na 'n kantoor op die eerste verdieping van die Schneidergebou in die Paarl te gaan, waar aan hulle gesê is om R350 vir 'n "internetpakket" te betaal.

Hulle sou kamstig R3500 'n maand verdien deur "webwerwe te verkoop".

Ek het my R350 betaal, 'n selfoon gekoop sodat ek kontakbaar sou wees, en 'n rekening by Absa geopen op hul versoek, waarin my "salaris" inbetaal sou word.

Maar skielik is die kantoor nou gesluit, die telefoonnommer op die deur lui net, en my bankrekening bly leeg. Die internetpakket wat ek sou kry sodat ek per epos kan bemark, het ook nooit opgedaag nie.

My onkoste tot dusver insluitend die selfoon en honderde oproepe beloop al R2000 - vir niks.

Wees dus gewaarsku - daar is nie iets soos groot geld vir min werk nie. Dis net die bedrieërs wat die groot geld maak en ons gewone mense ly daaronder.

Corné

Ongelukkig kan die Paarl Post nie alle advertensies se betroubaarheid waarborg nie. Mense moet op hul hoede wees wanneer werk beloof word maar 'n betaling vooraf vereis word. - Red.


Dam was goeie plan

[ Top ]


IN reaksie op my brief oor die geld wat vermors is met die aankoop van grond en beplanning van 'n dam in die boloop van die Witterivier (Bainskloof), trek Dries Strydom die koste in twyfel.

Ek was op die Wellingtonse stadsraad ten tye van die beplanning van die dam en weet dus van al die geld wat spandeer is. Hy is wel korrek dat dit miskien minder as 15 jaar gelede is (na 1994) dat die Minister (Kader Asmal) besluit het om die projek te kelder weens omgewingsoorwegings.

In die toekoms sal ons nog dié besluit berou.

Tienie Malan


Paneelkloppery moet stop

[ Top ]


AS belastingbetaler rig ek 'n versoek deur Paarl Post aan Drakenstein Munisipaliteit om die werkery aan motors in buurte te stop.

Daar word in verskeie netjiese woonbuurte aan motors gewerk - veral oor naweke. Die paneelkloppery en spuitverf veroorsaak dat die gasdampe 'n mens se huise binnedring.My kind het  nou asma ontwikkel.

Die Munisipaliteit moet die reëls toepas - moenie ons afjak en sê ons moet polisie toe nie.

Hulle moet gaan werk in 'n gebied wat daarvoor gesoneer is en huur betaal soos ander sakemense.

Moedeloos, Paarl-Oos


Maak skool 'n fees

Editorial

[ Top ]


GROOTOOG het honderde graad eens vandeesweek hul skoolloopbaan aangepak, met ouers en grootouers wat aangedaan toekyk.

Vir die meeste kleingoed, met 'n hele paar jaar by speel- en kleuterskole agter die blad, is dit deesdae nie meer 'n skrikwekkende ervaring nie.

Te oordeel aan die verwese gesigte van ma's en pa's, besef hulle egter terdeë dat dit die eerste stap op die pad na onafhanklikheid en grootmenswees is.

Die klein mensies begin hierdie nuwe, opwindende fase van hul lewens terwyl daar gestry word oor duur skoolgelde, busvervoer en kurrikulums.

Hopelik sal dié grootmens-kwessies nie 'n negatiewe skadu werp op die leerders se skoolloopbane nie.

Dit is noodsaaklik dat alle rolspelers - ouers, onderwysers en owerheid - 'n omgewing skep waarbinne leerders veilig voel en gemotiveerd is om te leer.

Die twaalf jaar op die skoolbanke bepaal tot 'n groot mate 'n kind se ingesteldheid tot ontwikkeling en voortgesette leer in die res van sy lewe.

Laat almal poog om skool 'n fees vir elke leerder te maak.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za