|
DIE hospitaal is geen kind se gunstelingplek nie - en die lang ure sonder vermaak maak dit nog erger. Boonop gaan die kindersaal mank aan belangrike toerusting wat verouderd is en vervang moet word.
By die kindersaal word jaarliks ongeveer 4000 pasiëntjies tot 12-jarige ouderdom behandel. Daar is ook 'n neonatale-afdeling waar vroeggebore babas so klein as 800g versorg word.
Volgens pediater dr Mary Fischer is die befondsing vir spesiale toerusting maar skraps. Toerusting soos ventilators, respirators en fototerapieligte moet dringend vervang word. Ander bydraes is ook welkom.
"Daar is soms kinders van 10 tot 12 jaar wat vir weke tot streng bedrus gedoem is. Enige vorm van vermaak soos 'n televisiestel, videomasjien, speletjies en besoeke (vooraf gereël) sal baie welkom wees," sê sy.
'n Oorhoofse verwarmer word ook benodig en klere vir erg behoeftige kinders kan ook aan die eenheid geskenk word.
"Die pediatrie-departement is geseënd met 'n besondere toegewyde en goed opgeleide personeel wat elke dag 'n stukkie sonskyn bring in die lewens van die siek pasiëntjies," sê sy.
Die eenheid se mure is vol blomme en al strokiesprentkarakters geverf wat dit vir die kind makliker om by die omstandighede aan te pas, maar speelgoed werk nog beter om die kinders meer gerus te laat voel.
Volgens suster Leticia Koopman is daar nie altyd genoeg speelgoed vir die kinders nie. Daar is ook 'n tekort aan inkleurboeke, inkleurpotlode en vetkryt.
"Twee kinders kan met dieselfde speelding in die hospitaal speel nie. Siektes kan deur middel van die speelgoed oorgedra word," verduidelik sy.
Om dié rede vat die kinders gewoonlik die speelgoed saam met hulle huis toe.
Skenkings word verwelkom en kan inbetaal word by die tjekrekening Hospitaal Raad Paarl Hospitaal: Pediatrie (400400105) by die Paarl tak (kode 632005).Vir navrae, skakel dr Fischer by 072-268-5857.
* Paarl Hospital's pediatric ward requires donations from the public. |