safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday: 22 May  2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 29 May 2003 at 17:00

Nuus - News


Skilpad met twee koppe broei uit

Leon Steenkamp

[ Top ]


wfreaky01AS daar nou 'n skilpad is wat kan kopstukke praat en dit nogal met homself, dan is dit 'n maand-oue skillie wat onlangs in 'n agterplaas in Wellington uitgebroei het.

Noël Daniels, eienaar van vyf wees-skilpaaie wat 'n hok met sy lovebirds, budgies en duiwe deel, het beslis kop gekrap toe dié eienaardige skillie sy verskyning maak.

Twee eiers het uitgebroei, een doodnormale skilpad en een met twee koppe - en as hulle so vir jou loer, lyk hulle presies identies.

Die tweekop-skilpad met 'n dop van sowat vyf sentimeter in deursnee, lyk op die oog af heel gesond. Albei koppe vreet en dit is behoorlik 'n

BO: BEKNOP. Dis bietjie beknop in dié dop van die maand-oue skillie met twee koppe. Foto: Leon Steenkamp

kop-aan-kop resies om eerste by die smullekker gras en saggemaakte konynpille uit te kom.

Maar dit is ook net dán wanneer hy koppe bymekaar sit en saamwerk om oor die weg te kom.

"As die regterkop regs wil gaan, dan werk die regterkantse pote goed saam, maar as die linkerkop anderkant toe beur dan werk daardie kant se pote nie so lekker saam nie," verduidelik Daniels wat hy al waargeneem het.

Gelukkig beweeg 'n skilpad maar traag en is daar genoeg tyd om te besluit watter kant toe - solank een van die koppe nou net nie van plan verander nie.

Volgens prof Le Fras Mouton, reptiel-kenner by die Soölogie Departement van die Universiteit van Stellenbosch, het hy nog nooit van so 'n geval onder skilpaaie gehoor nie.

"Ek het al wel van akkedisse met twee koppe gehoor," het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat sodanige mutasie soms by diere, ook soogdiere, voorkom.

Volgens Mouton is die skilpad waarskynlik 'n rooipensskilpad ook bekend as die ploegskaarskilpad (Chersina angulata) wat algemeen in die westelike en suidelike kusgebiede voorkom.

Hopelik sal die beknopte situasie in dié skilpadjie se dop in die toekoms nie 'n hewige kopstampery tot gevolg hê nie.

* A two-headed tortoise is the latest arrival in a Wellington household.


Redder doodgery

Malané Bosman

[ Top ]


'n MAN het die naweek sy lewe verloor toe hy 'n vrou en haar baba uit die pad van 'n aankomende motor in Noorder-Paarl gestoot het.

Sophia Daniels (foto) was Saterdag om 17:15 met haar baba op haar rug langs die Paarl-Malmesburypad noord van die slangsentrum onderweg.

Saam met haar was 'n vriendin, Denise Smit, en dié se dogter.

Eric Montyi (39), 'n inwoner van Khayelitsha wat plaaswerk in die omgewing doen, het die vroue na hul wonings op die Windmeul Eierplaas vergesel.

'n Geskokte Daniels het aan die polisie vertel hoe hulle op die buitenste rand van die teer in die rigting van Wellington gestap het toe Montyi besef het 'n motor peil van voor op hulle af.

Hy het 'n waarskuwing geskree en Smit en haar dogter, Geraldine (11), het teen die wal afgeduik en in 'n sloot beland.

Montyi het Daniels net betyds uit die pad kon stamp. Die syspieëltjie van die motor het haar teen die arm gekap voordat ook sy en die 14 maande-oue Dilan, wal-af geval het.

Die voertuig, 'n ou model Chevrolet motor waarvan die lisensie in 2000 verval het, het in Montyi vasgeploeg en tien meter verder ook by die wal afgery.

Die bestuurder, Francois Anthony Gerber (55), 'n loseerder by Bergrivier Boulevard 105A, is in 'n polisievangwa gelaai sodat bloed-alkoholmonsters geneem kon word.

"Die motor het draai-draai aangekom, en toe reguit op ons af, al was ons op die buitenste rand van die skouer," het Daniels hierdie week gesê.

"Die drie mans in die motor het niks oorgekom nie. Die een het met twee arms vol biere van die ongeluk af weggestap terwyl ek mense probeer stop het."

Gerber het Maandag in die Paarl landdroshof op aanklagte van strafbare manslag en dronkbestuur verskyn. Hy is op borgtog van R500 vrygelaat tot sy volgende verskyning op 7 Junie.

Dit was die vyfde noodlottige ongeluk op dié 200m deel van die pad uit Noorder-Paarl die afgelope drie maande.

In Februarie is 'n plaaswerker, Daniel Pretorius, teen die pad doodgery en in April het nog 'n plaasbewoner, Rosie Keyster, daar voor 'n voertuig gesterf.

Ook verlede maand het Ngonwelele Nzatshwalwi en Monwawisi Ncozini van Wellington in hul stilstaande motor gesterf in 'n kettingbotsing skuins oorkant die ingang na die slangsentrum.

"Ek is bitter bang vir dié pad," het Daniels gesê.

"Maar ons moet hier stap, al is dit van nou af in die sloot, want langs die teer is daar nie stapplek nie. Die mense ry hier dronk en te vinnig. En van Februarie af is dit nog erger. Toe is die pad oorgeteer en daar is nou nog net swart teer, met geen geverfde strepe nie."

* A pedestrian died while saving his companions.


Relletjie oor verkeershoof

Susan Botha

[ Top ]


DIE politici in die stadsraad baklei nog verbete, maar munisipale bestuurder Jacques Carstens het Dinsdag sy voet neergesit en Japie Cornelissen aangestel as nuwe verkeershoof van Drakenstein.

Dit volg na 'n amperse relletjie Maandag toe die vakbond Samwu (SA Munisipale Werkersunie) 'n vergadering van die raad se uitvoerende komitee binnegedring het om te praat oor die aanstelling.

Amptenare van die voormalige Paarl, Wellington, Saron en Gouda moes na die munisipale samesmelting weer geplaas word binne die Drakenstein Munisipaliteit.

Twee kandidate, Japie Cornelissen (Paarl verkeershoof) en Francois Davids (Wellington verkeershoof), het aanspraak gemaak op die pos van verkeershoof en die afgelope twee maande stoei die plasingskomitee hieroor.

Cornelissen is 'n lid van Samwu, terwyl Davids by die vakbond Imatu is. Volgens 'n tegniese evaluasie van die twee moes Cornelissen die pos kry, maar die komitee kon nie tot konsensus kom nie.

Na 'n geredekawel Maandag, het die voorsitter (burgemeester Herman Bailey NNP), besluit om Samwu tien minute te gee om hul saak te stel.

"Ons verstaan daar is 'n dispuut binne die ANC/NNP-koalisie in die raad oor die aanstelling en nou kom niks tafel toe nie," het Roger Oersen, streeksekretaris van Samwu, gesê.

"Politiek is nou groter as dienslewering," het hy gesê en gedreig dat Cornelissen 'n interdik teen die Raad sal kry ten opsigte van die hantering van die saak.

Die hele dilemma het begin toe die voorsitter van die plasingskomitee, raadslid Harlan Cloete (ANC), die personeelafdeling opdrag gegee het om 'n aanstellingsbrief aan Cornelissen te skryf. Dié brief is in goeder trou deur die munisipale bestuurder, Jacques Carstens, onderteken.

Lede van die NNP het hiervan gehoor en die munisipale bestuurder daarop gewys dat daar nie konsensus was nie. Die gevolg was dat Cornelissen minute later 'n tweede brief gekry het om die eerste een te kanselleer.

Samwu het Maandag daarop aangedring dat die tweede brief teruggetrek word en Cornelissen dus as verkeershoof aanvaar word.

"U optrede is onverantwoordelik. U speel met mense se lewens. Plasings word nou 'n politieke speelbal," het Oersen gesê en bygevoeg dat hulle nie sal toelaat dat politiek hulle lid se plasing bepaal nie.

Hulle het aangedring op 'n antwoord en gedreig om Drakenstein onregeerbaar te maak as hulle nie ernstig opgeneem word nie.

Ná 'n reses van die NNP/ANC koalisie het raadsheer Bailey verduidelik dat onderhandelings op 'n dooiepunt uitgeloop het en die kwessie toe onder die aandag van die provinsiale politieke leiers gebring is.

Dié leiers het gevra dat 'n regsmening ingewin word voordat enige verdere besluite geneem word.

Op grond hiervan het die NNP-lede in die plasingskomitee Maandag die gedagte van 'n tegniese komitee om die saak te evalueer, verwerp het.

Die munisipale bestuurder het hier 'n stuiwer in die armbeurs gegooi: "Hoewel ons die politieke proses respekteer, moet plasings hanteer word volgens bepaalde feite."

Hy het gewaarsku dat dit nie tot die voordeel van Drakenstein is om sodanige besluite aan hoër politieke gesag oor te laat nie: "Ons moet ons eie werk doen."

Samwu het met die munisipale bestuurder saamgestem en geweier om te wag vir die afhandeling van die politieke proses. Hulle het gevra dat die aangeleentheid Dinsdag afgehandel moet word.

Hierop het Bailey gesê die munisipale bestuurder moet vir homself besluit, maar hulle gaan voort met die politieke proses.

Dinsdag het Carstens besluit dat sy weë sal skei van die politieke partye s'n en 'n tegniese komitee aangestel om die evaluasie van die twee kandidate deur die plasingskomitee te ondersoek ten opsigte van korrektheid.

Die bevinding was dat die plasing van Cornelissen korrek gedoen is en gevolglik is die tweede brief teruggetrek en Cornelissen dus aangestel.

Albei vakbonde is dienooreenkomstig in kennis gestel.

* There has been a furore over delays in appointing a traffic chief for Drakenstein.


Werker val ver na sy dood

[ Top ]


'n WERKER het hierdie week vyftien meter ver na sy dood geval by 'n Paarlse veevoerfirma.

Xolani Adonis (35) van die OR woonbuurt op Wellington was as kontrakteur by Meadow Voere werksaam toe hy Maandagoggend twee verdiepings deur oop vloere getuimel het.

Hy was na bewering op soek na gereedskap toe hy 'n deur oopgemaak en vorentoe in 'n leegte getrap het.

Die vloerplate van drie verdiepings was verwyder om 'n masjien na die vierde verdieping te hys.

Xolani het ernstige hoofbeserings opgedoen en was bewusteloos toe ambulanspersoneel hom op die vloer van die aanleg bereik het.

Adonis is dadelik na Paarl Medi-Clinic vervoer waar hy later die dag beswyk het.

Meadow Voere wou geen kommentaar lewer nie. 'n Interne ondersoek is gelas om die oorsaak van die voorval vas te stel.

'n Polisie-ondersoek sal bepaal of die werker weens nalatigheid gesterf het. Insp Jacques Mouton (807-000) ondersoek.

* A Wellington man fell to his death at Meadow Feeds in Paarl on Monday.


Man kry 12 jaar na wrede aanval

[ Top ]


DIE aanrander wat 'n bejaarde vrou in haar woning in Suider-Paarl wreed aangeval het, sal 12 jaar gevangenisstraf uitdien.

Elroy Thomas (20) het die Saterdagoggend in Januarie verlede jaar deur die veiligheidshek voor die voordeur in Nuwe Eskdalestraat, De Zoete Inval, om kos gebedel.

Silvia Smook (75) was in die woning besig met stofsuig toe die man om die huis geloop en by die agterdeur ingekom het.

Hy het haar met 'n byl in die gesig en keel gekap en toe sy bewusteloos neerval, begin om die videomasjien te ontkoppel.

Bure wat haar gille gehoor het, het die aanvaller verjaag.

Die man is drie dae later deur speur-insp Victor Carolus in 'n opslaanhut by die baksteenwerke in Suider-Paarl in hegtenis geneem. In sy woning is 'n vrag gesteelde goedere ontdek.

Thomas is skuldig bevind aan vier aanklagte van huisbraak in De Zoete Inval, asook poging tot moord. Hy verskyn eersdaags op 'n verdere aanklag van huisbraak, waarmee hy eers later verbind kon word.

Mev Smook sterk steeds aan ná die aanval.


Buurtwag bring rus en vrede

Susan Botha

[ Top ]


"VERSKOON my, Meneer, ons is van die Noorder-Paarl Buurtwag. Mag ons weet wat u hier doen?"

Só spreek lede van die nuutgestigte buurtwag deesdae verdagte mense in die woonbuurt aan.

Die wag staan nog in sy kinderskoene, maar die afgelope drie weke is daar reeds 70 verdagte persone geïdentifiseer.

In twee gevalle is misdade ook voorkom. Die eerste hiervan was verlede Woensdagaand toe een van die patrollies vier verdagte mans opgemerk het.

Die mans is voorgekeer en die polisie laat kom. Die mans is gevisenteer en 'n loper vir Toyota-voertuie is in een se skoen gevind.

Saterdagmiddag het hulle 'n verdagte aangekeer ná 'n poging tot verkragting.

'n Meisie (14) was saam met 'n huisvriend te voet onderweg na die plaas in Noorder-Paarl waar sy woon. By die Langstraatbrug het die man na bewering probeer om haar aan te rand.

'n Vrou van Pieter Wiumstraat het haar gille gehoor en hulp aangebied. Hulle was per motor op pad na die meisie se huis toe, toe hulle Deetlefs du Toit (voorsitter van die tussentydse buurtwagkomitee) teëgekom en die inligting aan hulle gegee het.

Du Toit-hulle het kort daarna op die verdagte afgekom, waar hy in Pieter Wiumstraat gestap het.

Hy is voorgekeer en die Polisie is geskakel. Die meisie en haar ma is ook na die toneel gebring, waar sy haar aanvaller geïdentifiseer het. Die man is in hegtenis geneem.

Du Toit sê hulle is vasbeslote om Noorder-Paarl 'n veilige en rustige woonbuurt te maak.

Die lede wat reeds gewerf is, doen op die oomblik voetpatrollies of patrolleer die area met hul motors.

Robert Larke van die Noorder-Paarl Posagentskap, tesourier van die wag, het  drie motorfietse beskikbaar gestel om na ure te gebruik vir patrollies.

Du Toit sê hulle beplan om veiligheidskameras aan te bring en wil ook veilige huise identifiseer waar veral kinders deur die dag hulp kan kry.

Kaptein Aubrey Marais, projekbestuurder vir buurtwagte by Paarl polisie, het sy tevredenheid uitgespreek oor die werk wat tot dusver gedoen is.

Hy sê misdaad het dramaties afge-neem in Noorder-Paarl en het die wag geloof vir hul betrokkenheid.

Die wag vergader vanaand om 19:00 in Noord-Eind Primêr se skoolsaal.

Mense wat wil aansluit of meer inligting verlang, kan Du Toit (082-969-7200) of Larke (083-460-3393/4) skakel.

* The Paarl North Neighbourhood Watch has improved security in the area.


Lang vingers word gou vasgevat

Leigh Reitz

[ Top ]


'n DIEF moet sy storie ken as hy met die manne in blou van die Paarl Polisie wil mors.

Maandagoggend om 21:00 hoor konst Eugene Conradie en insp Robert Muller oor die radio van 'n vrou wat in Waterkantstraat van haar handsak beroof is.

Die twee laat nie op hulle wag nie en kies onmiddellik koers na waar die beangste slagoffer, 'n werknemer by Paarl Hospitaal, toe nog steeds verslae staan.

"Die vrou het gesê dat die verdagte in die rigting van Pick 'n Pay gehardloop het en ons ry ook toe in daardie rigting, terwyl ons uitwerk watter roete hy sou gekies het," het konst Conradie vertel.

En hul poging het toe vrugte afgewerp. Die verdagte, 'n 21-jarige van Mbekweni, was rustig besig om in die Pick 'n Pay parkeerarea deur die inhoud van die handsak te snuffel toe hulle daar aankom.

"Toe hy ons gewaar, het hy onmiddellik weggehardloop, weer in die rigting van Waterkantstraat. Ons het hom sowat twee meter van die misdaadtoneel vasgetrek en kon die handsak nog met alles daarin, weer aan die verligte eienaar terugbesorg."

Die slagoffer, wat anoniem wil bly, was net bly dat sy haar besittings kon terugkry.

"Ek was op pad werk toe, toe die man my in Waterkantstraat nader en 'n mes uitgepluk het. Hy het gemik-mik na my toe. Dis toe dat ek sommer my handsak eenkant toe gegooi en begin gil het.

"Toe het hy met my handsak wegge-hardloop. Ek is dankbaar dat die polisie-manne so gou kon reageer," het sy gesê.

Sindile Ngalo (26) het Maandag in die Paarlse Landdroshof verskyn.

* Two alert policemen apprehended a suspect minutes after he stole a woman's handbag in central Paarl.


Skool opsetlik beskadig

Malané Bosman

[ Top ]


VIER-EN-SESTIG vensters van Bergrivier Hoërskool op Wellington is Sondag deur vandale gebreek.

Dit is die tweede keer die afgelope vyf maande dat die skool aan Champagnestraat so erg deurloop.

Die skoolopsigter, Jeffrey Smith, het Sondag om 13:00 die skoolperseel gesluit nadat 'n kerkdiens daar gehou is. Toe hy Maandag om 06:00 oopsluit, het hy die chaos ontdek.

Daar was 64 vensters met gebreekte glas. Klippe waarmee die booswigte die ruite uitgegooi het, het gesaai gelê in die klaskamers.

Handvatsels is van die klaskamerdeure afgebreek en verwyder.

"Vandale rig gereeld skade aan," het 'n moedelose Smith gesê. "Maar dit is die tweede keer dat byna al die ruite stukkend gegooi is."

Die skade beloop meer as R5000.

Daar is later vasgestel dat daar ook ingebreek is by 'n sinkgebou op die perseel. Dit is nog nie duidelik of daar van die bougereedskap weggedra is nie.

'n Saak van opsetlike saakbeskadiging word deur speursersant Theunis Steyn van Wellington ondersoek.

'n Beloning word uitgeloof vir inligting wat kan lei tot 'n suksesvolle arrestasie. Skakel insp Steyn by 873-1141 of Bergrivier skoolhoof Lucas Slinger by 873-2301.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za