|
DIE De Poort museumdorp wat in Suider-Paarl beoog word, gee vandeesweek 'n tree nader aan die werklikheid sedert die Paarl Post 'n jaar gelede vir die eerste keer daaroor berig het. Hersonering van die grond vir die ontwikkeling van dié dorpie naby Paarlstasie word vandag geadverteer en sal na verwagting binne die volgende paar maande afgehandel word.
De Poort se hooftrekpleister sal die uitbeelding van die wamakersbedryf tussen 1875 tot 1895 wees. Dié bedryf het daardie tyd 'n opbloei in die Paarl beleef om fortuinsoekers na die goud- en diamantvelde te dra. La-ter is die waens ook na die oorlogsfronte toe. Dit is hierdie era van ekonomiese vooruitgang van die vallei wat deur De Poort voorgestel gaan word in 'n aktiewe lewendige museumdorpie. Die waversameling van die Drakenstein Munisipaliteit is in die bekwame hande van die De Poort-komitee geplaas en sal verskuif word sodra gepaste huisvesting in die erfenisdorpie gebou is, waar dit uitgestal word. Die versameling bly die eiendom van die Munisipaliteit. By hierdie spesiaal-ontwerpte gebou word 'n opelugarena beplan waar die vaardighede van die hanteerders van waens, perde en muile ten toon gestel gaan word aan die publiek.
'n Lid van die De Poort-komitee is reeds hard aan die werk om muile af te rig sodat besoekers ritte kan onderneem op replikas van veerwaens en ander rytuie soos wat deur Domingo, Retief en ander plaaslik gebou is.Tydens beplanning is die behoud van die dennebome op die terrein in gedagte gehou. Gevolglik word die meeste geboue op die rand van die grond geplaas.'n Skool, stadsaal, winkeltjies, tipiese huise en menige ander geskiedkundige voorstellings van die era word beplan vir die aktiewe museumdorpie.
Die winkels wat op die grense beplan word, sal 'n dubble doel dien: na buite sal hulle hedendaagse goedere verkoop, maar aan De Poort se kant moet die winkels, winkelassistente en die ware wat te koop aangebied gaan word, eie wees aan die negentiende eeu. Entrepreneurs kan een of beide bedryf soos hulle dit verkies. Om die gebied ten beste te benut, sal parkering op die perseel van Spoornet verskaf word. Dit is in beginsel goedgekeur deur die betrokke owerhede. Sover moontlik is die geboue wat gebou gaan word, eie aan die era en sommiges sal herinner aan ou Paarlse geboue wat gesloop is.
Onder hulle is die ingang in Tabakstraat wat herinner aan die ou Paarl Wyn- en Brandewynmaatskappy, die stadsaal grensend aan Hoofstraat het elemente van die ou stadsaal wat afgebrand het en die ou negosiewinkel van weleer in Stasiestraat is ook herkenbaar. Die projek het die ondersteuning van die Drakenstein Munisipaliteit en Raad en dit is positief ontvang deur die gemeenskap. Dit word gesien as 'n belangrike stimulus vir toerisme in die gebied.
Die loodskomitee van De Poort (almal vrywilligers) het lang ure gespandeer om bande op te bou met 'n wye spektrum van organisasies en instellings sodat die hele poging so verteenwoordigend as moontlik kan wees. Raadslid Herman Bailey, die onderburgemeester, is afgevaardig om namens die Munisipaliteit op die De Poort Raad te dien, met raadslid Johann von Wielligh as secundus.
'n Lewensvatbaarheidstudie is verlede jaar uitgevoer met fondse bewillig deur die Wes-Kaapse regering. Dit het getoon dat nie net broodnodige direkte werkskepping bevorder sal word nie, maar dat die hele omliggende gebiede finansieel op verskeie maniere kan baat vind by die projek en 'n toename in toeriste.
De Poort word ook beskou as 'n belangrike katalisator om verskillende toerisme-besienswaardighede in die omgewing saam te snoer om toerisme te bevorder: waaronder stoomtreine, Het Gesticht, die Slaweroete, Madiba-huis, die Taalroete en Roete 62. Die twee erwe tussen Turk en Pinestraat (een provinsiaal en die ander munisipaal) gaan saamgevoeg word en sal, na kommentaar deur die algemene publiek, hersoneer word vir spesiale besigheidsregte en toerisme.
Die Raad het reeds in beginsel die huur van die grond aan De Poort goedgekeur vir 25 jaar met die opsie om te hernu. Alles dui daarop dat die projek 'n bate vir die Drakenstein-area gaan wees, veral vir die gebied om Paarlstasie waar ou geboue na verwagting opgeknap sal word om in te skakel. Besoekers aan De Poort sal teruggevoer word na 'n lewendige, aktiewe dorpie eie aan die tydperk van 1875 tot 1895 en getrakteer word op verskeie spesiale ervaringe:
* Werkers in die kompleks gaan in eietydse kostuums geklee wees;
* Orkeste gaan musiek maak soos in vervloë dae;
* Kinders en volwassenes sal kan deelneem en leer van speletjies van ouds;
* Besoekers sal afgeneem word in kostuums van die era;
* Die Kaapse Berede Polisie sal marsjeer en hul passies toon met ou gewere;
* Families sal pieknieks tipies van die era onder die bome kan hou;
* Handvaardighede van die tydperk sal gereeld ten toon gestel word.
* Vir die kooplustiges sal daar unieke eietydse artikels te koop wees.
Vir navrae, skakel Frances Graves by 863-3902 of epos fegraves@mweb.co.za. Kommentaar op die planne moet die Munisipaliteit bereik voor 17 Mei.
* The Municipality has advertised a site in Suider Paarl for rezoning for the purpose of building the proposed De Poort heritage village. |