|
MET hul koppe hoog in die wolke het leerders van plaaslike hoërskole onlangs by New Orleans Sekondêre Skool bymekaar gekom, waar die Suid-Afrikaanse Lugdiens die model van 'n Boeing ten toon gestel het as deel van die "Vulindlela" projek.
Dit is 'n Nguni woord wat beteken "om die pad oop te maak" en baie droom nou van vliegtuie loods.
Die projek besoek gemeenskappe in landelike gebiede, townships en informele woonbuurte.
Tuli Mkatshwa, bestuurder van Gemeenskapsake van SAL, het gesê dat dié projek, wat in 1996 reeds geloods is, gemik is daarop om leerders in veral voorheen benadeelde gemeenskappe in te lig oor die moontlikhede van 'n loopbaan in die vliegwese.
"Daar is te veel stereotipes oor watter soort mense aanvaar word in die vliegwese en ons wil daardie stereotipe verander.
Ons wil leerders sover as moontlik inlig oor 'n loopbaan in die vliegwese en hulle daarvan bewus maak dat hulle, met die nodige opleiding en kwalifikasies, ook eendag 'n vlieënier kan wees," het sy gesê.
Brosjures en loopbaaninligting word aan die skole gelewer.
Skoolhoof Dennis von Willing het gesê dat die leerders entoesiasties was oor die moontlikheid van 'n loopbaan in die lugwese.
"Hulle belangstelling was definitief geprikkel en daar is 'n hele paar leerders wat nou besef dat hulle ook tot dié bedryf kan toetree," het hy gesê. |