safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 22 July 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 29 July  2004 at 17:30

Aida

 Letters - Briewe


Pendelaars ontevrede oor taxi-prysverhoging

[ Top ]


EK is regtig ontevrede oor die prysverhogings van taxi's wat op 1 Julie in werking getree het. Daar is 'n gevoel by die pendelaars dat daar eers met hulle samesprekings gevoer moes word, voordat prysverhogings aangekondig is.

Ek het dit my plig gemaak om met sekere taxi-eienaars en taxi-bestuurders te gesels, en daar is eienaars wat glo dat sekere persone die bedryf wil kaap.

Ek het onlangs met van die voorsitters van die unies in die Paarl gesels, maar almal was nie so vriendelik wanneer ek dit met hulle wou bespreek nie.

Die afstand van die stasie tot by Amstelhof is ongeveer drie kilometer en dis vier rand per pendelaar. In Kaapstad sal dieselfde afstand slegs drie rand kos.

Die probleem in die Paarl is dat die taxibedryf nie reg gereguleer word nie. Daar is hopeloos te veel taxi's vir die aantal pendelaars.

Ek wil voorstel dat die Padvervoerraad moet ondersoek instel oor hoeveel taxi's nodig is vir sekere areas. Ek wil ook voorstel dat daar 'n pendelaarsforum in die Paarl gestig word, wat saam met die eienaars die pryse sal bepaal.

Die toestand van sekere taxi's is ook 'n punt wat aandag nodig het. Die taxi's is stukkend en dit is iets wat veral in die winter 'n probleem is.

Ek het onlangs gebruik gemaak van die dienste van 'n radio-taxidiens en my koste vir vier persone was maar R30 van Lady Greystraat tot by New York (Paarl-Oos).

Die koste van die padtaxi, vanaf die taxi-staanplek tot by die huis, is nou R15 per persoon. Gaan mense nog van die pad-taxi gebruik maak as dit soveel duurder is as die radio-taxi?

Ek wil net graag weet wat in die taxibedryf gaan gebeur as daar 'n nuwe unie gestig word, wat bereid sal wees om pendelaars teen 'n goedkoper tarief te vervoer.

Ek wil mense graag uitnooi wat bereid sal wees om saam met my hierdie forum te stig. Kontak my by 787-2436.

Ek glo dat dit noodsaaklik is dat daar gesels moet word, anders gaan die taxibedryf skade ly in die somermaande.

David Beukes


Verkeer by winkelsentrum-bou perseel pla

[ Top ]


WAAROM die vervoerkontrakteurs met hul groot en swaar gelaaide vragmotors wat gruis wegry van die nuwe winkelsentrumperseel by Tiger Foods die Hoofstraat moet gebruik, gaan ons verstand te bowe.

Hulle is besig met uitgrawings en die grond word weggery na die omgewing van McMillan Bricks & Paarl Brickfields. Nou maak die vervoerkontrakteurs gebruik van Pinestraat en dan in die Hoofstraat en dieselfde roete word gevolg vir die oplaai van die grond.

Buiten die geraas en opeenhoping van die verkeer is dit werklik 'n probleem as ons in ag neem hoe ons Hoofstraat alreeds lyk, vol gate en lapplekke. 

Die inwoners van De Oude Renbaan sukkel om in die verkeersvloei te kom en ons as inwoners sukkel om uit ons inritte te kom.  Hoekom kan hulle nie die volgende roete gebruik nie: Ceceliastraat, Arboretumstraat, onder N1 brug deur, op N1 en dieselfde roete terug. Dan is daar geen geraas en opeenhoping van verkeer in residensiële areas nie.

Om 14:30 op Saterdag 17 Julie het ons via die brandweer gevra vir 'n wetstoepassingsbeampte om hom/haar te kom vergewis van ons probleem. 

Binne 'n bestek van tien minute was 'n ene Charles hier, en ek wil dit graag beklemtoon dat hy baie vriendelik was en dadelik werk gemaak het van ons probleem. 

Die vervoerkontrakteurs is "gere-route" en ons kon die res van ons naweek sonder probleme voortsit. Baie dankie aan Drakenstein Verkeer.

Ek hoop dat daar tydens die volle konstruksieperiode, asook wanneer die sentrum open, deur die Munisipaliteit verhoed sal word dat swaar voertuie van die sentrum af deur woonbuurte ry. Dalk moet 'n gewigsgrens vir voertuie op Pine- en Nuwe Vleistraat geplaas word.

Inwoners Hoofstraat 14F


Rugby-optrede by wedstryd skok talle

[ Top ]


GRAAG wil ek my misnoeë uit-spreek oor die rugbywedstryd wat Saterdag 17 Julie te Wellington plaasgevind het.

As groot rugbyliefhebber en ondersteuner van 'n baie goeie en suksesvolle Wellington Rugbyklub (wat op dié stadium die beste rugbyklub in die Boland is), was dit 'n nare ondervinding wat talle ondersteuners, ouers van spelers, kinders en vriendinne van spelers Saterdag moes deurgaan.

Om te staan en kyk hoe spelers bewusteloos geskop word deur dronk toeskouers en reserwe-spelers van agter af geslaan word, was absoluut 'n nagmerrie.

Kan iemand nie iets doen aan dié klubs wat nie hul toeskouers onder beheer kan hou nie? Boland Rugbyunie is nie in beheer van dié tipe optrede nie.

Drank en geweld is die voorland van dié spelers en mense kry seer en word gevloek en met bottels gegooi en onskuldige mense word aangerand.

Moet iemand eers doodgeslaan word deur die betrokke klubs se toeskouers of doodgeskiet word voor dit stopgesit gaan word?

Rugby is besig om uit te sterf. Die houding waarmee dié tipe klubs na vore kom, is bloot om blanke klubs in die Boland uit te dryf sodat hulle die hef aan die hand het.

Maar wat het geword van goeie sportmangees en op gelyke vlakke presteer?

Hoe moet mens gelyk presteer en almal op dieselfde vlak wees as sulke dinge gebeur? Wie is nou die rassiste en wie begin baklei? Dit is nie die tuisspan se toeskouers wat die mense met bottels gooi, baklei, spelers skop en te kere gaan nie.

Mense moet nou wedstryde begin speel agter slot en grendel en twee meter hoë draadomheining om die veld sit en daardeur maar hoop die toeskouers doen nie iets nie.

Dit is barbaars en vir daardie spelers en toeskouers wil ek sê (want dit is tog die spelers se vriende en familie wat hulle kom ondersteun), julle is nie op dieselfde vlak as ons nie.

Ons probeer julle ordentlik behandel en vriendelik wees, en dít is wat julle dink van die sport en die mense betrokke by rugby.

Julle verdien nie om in dié tipe van liga te speel as julle nie julle toeskouers en spelers kan beheer nie.

'n Klub wat nie sy toeskouers en spelers kan beheer nie, moet sonder enige versagting geskors word sodat hulle die erns van sulke oortredinge kan besef.

Dit is 'n jammerte dat so 'n mooi sport agteruit gaan weens drank en geweld.

As ons nie nou iets doen nie, sterf hierdie sport vir ons kinders uit, want watter ouer wil staan en kyk hoe sy kind bewusteloos geskop word?

Aan mnr Jackie Abrahams wil ek vra: Watter waarborg kan u aan ons plaaslike toeskouers gee dat ons veilig sal wees met rugbywedstryde en wat gaan u persoonlik aan hierdie tipe optrede doen?

Bekommerde toeskouer


Slaan rugbyboewe bloedbek

Editorial

[ Top ]


DIE geweld by 'n klubwedstryd op Wellington Saterdag het weer eens die beeld van die Boland Rugby-unie groot skade berokken.

'n Mens kan net hoop dat Boland Rugby nou die mondskerm van oënskynlike stille verdraagsaamheid uitspoeg, sy tande wys en optree teen die spelers, klubs en toeskouers wat hulle aan dié barbaarse gedrag skuldig maak.

Dit is nou nie alleen 'n gulde geleentheid vir Boland Rugby om weer die vertroue te herstel in die geslaagdheid van sy tugproses nie, maar om ook te wys dat klubs wat vrees vir hul veiligheid langs 'n rugbyveld, nie hul heenkome hoef te vind by organisasies soos Rugga SA nie.

Solank die Unie so-so strawwe uitdien wat nie werklik die situasie genoegsaam oplos nie, gaan Rugga SA voortdurend van ammunisie verskaf word.

Die huidige situasie in klubrugby smeek vir 'n geen-genade, genoeg-is-genoeg besluit wat alle rugbyboewe in die bek sal ruk en dié wat nog daaraan dink om elke Saterdag rugby in 'n volkontak-toeskouersport te verander, se oë sal laat rek.

Daar kan net gehoop word dat die amptenare in beheer van sake besef hoe dringend die behoefte aan streng optrede in klubrugby geraak het. Anders kan klubrugby in die Boland dalk net anderkant die doodlyn beland.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]

[ Top ]