|
"DIT is nou die ideale geleentheid vir die Boland Rugby-unie om Rugga SA 'n nekslag toe te dien deur die regte besluite te neem en te wys dat dié Unie wel tande het".
Dit is die mening van Dolf Stemmet, president van Wellington Rugbyklub, nadat die wedstryd tussen sy klub en Roses United wat Saterdag gespeel is, slegs tien minute geduur het.
Vuisgevegte tussen toeskouers en spelers het kort na die afskop van die eerstespan-wedstryd uitgebreek en Stemmet het sy spelers van die veld gelei nadat die skeidsregter nie hul veiligheid op die veld kon verseker nie.
Wellington was op daardie stadium 5-0 voor.
Volgens Stemmet het van Roses se toeskouers die Wellington-slot, Gerdus la Grange, "half-bewusteloos" geskop nadat 'n groep spelers tydens 'n losgemaal by die kantlyn uitgeboender is.
Die vuiste het oor en weer geklap maar die situasie is deur die skeidsregter, Amos Kampi, onder beheer gebring.
'n Tweede voorval het kort daarna plaasgevind toe 'n plaasvervanger-speler van Wellington, Attie Krynauw, vir Roses se sekretaris, Asraf Brink, oor sy taalgebruik aangespreek het.
Brink wat op die eerste verdieping balkon van die klubhuis gestaan het, het na bewering die trappe afgehardloop en Krynauw geduik, waarna die vuiste weer geklap en choas losgebars het.
Willem Small, woordvoerder van Roses United, ontken dat die voorvalle deur Roses spelers of toeskouers begin is.
Volgens hom was La Grange se beserings te wyte aan 'n ongelukkige val.
"Hy (Krynauw) het met sy kop op 'n stuk sement wat langs die veld gelê het, geval. Nou word daar gesê hy is half-bewusteloos geskop. Dit is nie korrek nie," het Small gesê.
Hy voer ook aan dat 'n Wellington toeskouer eerste na Brink geslaan het, en dat dit die vonk vir die vegtery was.
Slegs een derbywedstryd in die afgelope vier jaar tussen dié twee klubs het sonder enige voorvalle verloop.
"Die wedstryd vroeër vanjaar op Pelikaanpark was redelik sonder insidente, maar een van ons spelers moes steke kry nadat sy kop oopgetrap is," sê Stemmet.
Moorreesburg Rugbyklub het vroeër dié seisoen alle bande met Boland Rugby verbreek en by Rugga SA aangesluit nadat hul wedstryd teen Roses United ook deur geweld omvergewerp is.
"Ek het 'n probleem dat dié twee geïsoleerde voorvalle gebruik word om 'n sekere beeld van Roses United te skep," het Small gesê.
"Ons het die seisoen al meer as tien wedstryde gespeel en as ons 'n voorval op ons tuisveld gehad het, sou ek gesê het: 'Ja, ons is die sondebokke.' Maar dit is nie so nie.
"Dié beeld is nadelig vir die klub se funksionering en bestaan. Een van die dae wil geen klub meer teen ons speel nie, want ons is moeilikheidmakers en dan sukkel ons om borge te kry.
"Ons is baie ongelukkig oor die negatiewe publisiteit wat die klub tans kry en dit gebeur net as ons teen wit klubs speel. Ek weet nie of daar 'n verskuilde agenda is om ons as 'n probleem-klub te brandmerk nie," het Small gesê.
Volgens Stemmet het Wellington geen rede om hulle tot vuilspel en geweld te verlaag nie.
"Wellington Rugbyklub is 20 punte voor op die Superliga A1 punteleer. Hoekom moet ons op die veld gaan om met 'n bakleiery te wen?
"Ons het nege spelers in die Boland Amateurspan en vyf in die Boland o.20-span. Daarby het ons ook vir die Klubkampioenskappe gekwalifiseer. Hoekom sal 'n klub in dié posisie so sy status wil weggooi?" het Stemmet gesê.
Volgens Small was die gebrek aan 'n omheining 'n groot probleem.
"Ons het Wellington Rugbyklub voor die wedstryd aangesê om 'n heining, soos deur Boland vereis, aan te bring aangesien 'n derby-wedstryd altyd 'n groot skare lok en daar sonder omheining nie voldoende beheer sal wees nie," het Small gesê.
Volgens Stemmet vereis Boland dat daar net 'n afskorting tussen die toeskouers en die veld moet wees en nie noodwendig 'n "fisiese draad" nie.
"Dit kan die vorm van 'n gespande lint ook aanneem. Die Boland president, Jackie Abrahams, het Vrydag opdrag gegee dat die veld met 'n lint afgesper word, wat ook gedoen is.
"As 'n ou agter drade moet rugby kyk, dan behoort hy in elk geval nie by 'n rugbywedstryd nie," het Stemmet bygevoeg.
Volgens Stemmet is Rugga SA nie 'n oplossing vir die geweld by klubwedstryde nie.
"Ons oorweeg glad nie om op dié stadium by Rugga SA aan te sluit nie.
"Die regte strukture om die probleme op te los, is in plek in die grondwet van Boland Rugby Unie - dit moet net toegepas word.
"As Engeland van sokkerboewery ontslae kan raak, moet ons dieselfde kan doen by rugby."
Albei klubs asook die skeidsregters en lynregters se verslae oor die wedstryd moet vandag by Boland ingedien word. Die dissiplinêre komitee sal Dinsdag sit en 'n uitspraak lewer.
Volgens Stemmet oorweeg van die Wellington-spelers siviele regstappe teen spelers van Roses United.
* The chairman of Wellington Rugby Club has appealed to Boland Rugby Union for strong action following violence in a club match. |