|
'n LEGENDARIESE Paarlse geneesheer, Piet Rens (84), is Sondag na 'n kort siekbed weens kanker oorlede.
Dr Rens het sy hele professionele lewe (van 1952) in die Paarl gepraktiseer, en het tot kort voor sy dood nog pasiënte gesien.
Hy was so geliefd onder veral sy senior pasiënte, dat hy op hul aandrang genoop was om sy praktyk voort te sit ten spyte van sy ouderdom.
Dr Rens is gebore op Mkhoma in Malawi, waar sy ouers sendelinge was, en het gematrikuleer aan die Hoër Volkskool op Heidelberg (Transvaal).
Hy het na matriek 'n meestersgraad in Sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna hy besluit het om hom as geneesheer te bekwaam aan die Universiteit van Pretoria. Daar het hy op die Studenteraad gedien.
Hy was alombekend en gerespekteer in sy professie, en was onder meer verskeie kere voorsitter van die plaaslike tak van die Mediese Vereniging. Hy was van 1965 bestuurslid van Paarl Hospitaalraad.
Hy was 35 jaar lank distriksgeneesheer en was twintig jaar lank (van 1975 tot 1995) op deeltydse basis mediese beampte van Paarl Munisipaliteit, waar hy betrokke was by die bestuur van die Sonstraal TB Hospitaal.
Hy het in sy vrye tyd graag gejag en kleipiering geskiet. Hy was ook 'n kuns- en musiekliefhebber en was voorsitter van die Daljosafat Kunsstigting.
Hy het hom die laaste tien jaar toegelê op chirurgie, en het gereeld spesialiste bygestaan met operasies. Die laaste operasie waarby hy geassisteer het, is in Maart uitgevoer, kort voordat hy siek geword het.
Dr Rens word oorleef deur sy eggenote Ina, en kinders Albrecht van Johannesburg, Marié van die Paarl en Nicolaas van Kaapstad.
Die begrafnisdiens is vanoggend om 10:00 in die NG Toringkerk.
* Well-known Paarl doctor Piet Rens has died of cancer. |