|
DIE Boland o.21 netbalspan het verlede week in Potchefstroom die interprovinsiale toernooi goed begin deur hul eerste wedstryd teen die WP oortuigend met 43-31 te wen.
Die span het deurgaans afgeronde en gedissiplineerde netbal gespeel wat gereeld deur die opposisie en toeskouers gekomplimenteer is.
Die spanne was egter uiters mededingend in die rondomtalie-wedstryde. Die Boland-span moes ná sewe wedstryde Vrydagoggend nog die OP klop om hul plek later die middag in die eindstryd teen Vrystaat te verseker.
Boland klop OP, wat uiteindelik derde eindig in die toernooi, oortuigend 57-25.
Die Vrystaat, wat vier SA o.21-spelers insluit, was op papier die gunsteling om die titel te wen en was die enigste span teen wie Boland in die uitklop-wedstryde 52-51 verloor het.
Boland saam met hul afrigter, Mariana van Zyl, was egter gefokus en het van meet af die pas aangegee.
Ratsheid op los balle wat die gevolg was van voortdurende druk van al sewe spelers, akkurate voer- en doelwerk, asook konsentrasie, het Boland ná die eerste kwart 17-5 laat voorloop.
Vrystaat het egter nie gaan lê nie en was ná die derde kwart slegs vier doele agter.
Puik onderskeppings en volgehoue konsentrasie het Boland die vierde kwart 13-11 en ook die wedstryd 46-40 laat wen.
Michelle Hess is in die SA o.21-span opgeneem wat tans in die Cosana-toernooi tussen verskeie Afrikalande speel. Claudia Basson, Zsa-Zsa Temmers en Deidré Gerstner is ook in die SA o.21 oefengroep opgeneem vir 2005 se o.21 Wêreldbekertoernooi.
Die volledige tellings van die Boland-span: Boland klop WP 43 - 31, Boland klop Gauteng-Sentraal 43-33, Boland klop Zululand 44-41, Boland verloor teen Vrystaat 51-52, Boland klop Noordwes-Suid 52-41, Boland klop Gauteng-Noord 52-27, Boland klop Gauteng-Oos 73-30, Boland klop OP 57-25, Boland klop Vrystaat 46-40. |