|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE bekende groep Eden tree eersdaags in die Paarl en Wellington op. Vrydag 13 September is hulle by Boland-stadion op Wellington en Maandag 16 September in die Polisiekollegesaal in die Paarl. Die program begin om 19:00 en kaartjies is R30 elk. Kaartjies vir Wellington is by Sonja 082-639-0461 en vir die Paarl by Annaline Hopkins (083-591-2124 of 874-1313) of Ralie Malan (864-0351). Eden is Suid-Afrika se antwoord op die boyband-manie wat die musiekwêreld getref het. Daar is wel een verskil: Eden sing ook in Afrikaans! Al die regte bestanddele vir sukses is daar: besonderse stemme en harmonieë, jeugdige voorkoms, wonderlike dansroetines en liedjies. Eden bestaan uit Sean, Jaco, Johan en Paulo. Sean is 'n gevestigde akteur (tans in 7de Laan) en Jaco het uitgebreide ondervinding van musiekteater (Rocky Horror, Josef, ens). Hy was ook saam met Joe Niemand laasjaar se Crescendo wenner. |
|
|
|
|
DIE US Drama Departement bied binnekort "Die Nagtegaal se liefde" deur Timberlake Wertenbaker, vertaal deur Arnold Blumer, aan. Die ervare Janice Honeyman, wat die regie behartig, was onder meer verantwoordelik vir die onlangse Vatmaar. "Die Nagtegaal se liefde" is gegrond op 'n Griekse mite van twee susters van Athene, Filomela en Prokne. Filomela word deur Prokne se man Tereus verkrag, en hy sny haar tong uit om te verseker dat sy hom nie verkla nie. Aan albei susters word ook vertel dat haar suster dood is. Na 'n tydperk woon Prokne 'n fees by waar sy 'n poppespel sien wat deur Filomela aangebied word. Sy besef die waarheid en as wraak vermoor sy haar en Tereus se kind, Aitis. Voor Tereus iets kan doen verander Filomela in 'n Nagtegaal, Prokne in 'n Swaeltjie en Tereus in 'n Hoep-Hoep. Dit word opgevoer van 29 tot 31 Augustus en van 5 tot 7 September in die HB Thom Teater om 20:15 saans. Kaartjies te koop by die deur. Vir blokbesprekings en navrae skakel Sarina Knoetze, 808-3216. |
|
|
|
|
DIE nuwe Dowwe Dolla-vertoning van Margit Meyer-Rödenbeck, "Dowwe Dolla doen dit staan-staan!" is tot 31 Augustus te sien in die On Broadway-teater in Kaapstad. "Hoe ry die boere sit-sit so!" en dis van al die gesit dat hulle lyk soos hulle lyk, sê sy. Kyk Dolla is eintlik 'n voorstaander van lê, maar vir variasie het sy besluit van nou af sal dit staan-staan wees. Vir 'n korte wyle het Dolla besluit sy wil nie so vingeralleen deur die wêreld gaan nie en sy besluit toe om te trou met die kulkunstenaar. Maar Dolla bly Dolla en een man was darem net 'n bietjie te vervelig. Dolla is weer enkel en dit gee haar baie ruimte om so staan-staan alles uit te probeer. Besprekings vir On Broadway by 421-6668 of 418-8338. |
|
|
|
|
BOU jou eie kiskar of gebruik verlede jaar se kiskar, maar skryf in vir die kiskarkompetisie wat op Saterdag 28 September aangebied word as deel van die Stokkiesdraai-fees op Wellington. Die kompetisie word aangebied in Generaal Hertzog Boulevard, by die aansluiting met Blouvleiweg. Registrasie is die oggend van 06:30 tot 07:30. Daar is twee kategorieë: graad 1 tot 3 en graad 4 tot 7. Seuns en meisies neem aan dieselfde kompetisie deel. Almal sal vanjaar 'n gelyke kans hê en leerders mag nie 'n kar deel nie. Elke kiskar doen eers 'n tydtoets en dan ry die karre wat min of meer dieselfde tyd behaal het, teen mekaar. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 13 September. Kry vorms by die Stokkiesdraai-feeskantoor te Kerkstraat 47 of skakel Linda of Estie by 873-3988. Vir navrae oor die kompetisie skakel Gerrit van der Merwe, 864-2405. |
|
|
|
|
MAANDE se harde werk en toewyding het Vrydag vir die Paarl Teaterklub vrugte afgewerp toe die klub se jongste produksie, "Die Vark en die Gousblom", staande deur die gehoor toegejuig is na afloop van die vertoning. "Die Vark en die Gousblom" is 'n melodrama in drie bedrywe en is gebaseer op Bill Johnson se "Dirty Work at the Crossroads". Dit is in Afrikaans vertaal en verwerk deur die regisseur, Pieter Strümpher. Volgens Strümpher is dit altyd moeilik om te beluit op 'n gepaste stuk vir 'n nuwe produksie, veral omdat die grootte van die verhoog, die tegniese toerusting en die beskikbaarheid van spelers in ag geneem moet word. "Nadat ek die stuk in Afrikaans vertaal en verwerk het om dit prakties opvoerbaar te maak, is ek met gemengde reaksie begroet - sommiges was selfs van mening dat dit hopeloos te moeilik is. "En ja, melodrama is seker een van die moeilikste style om baas te raak, veral vir spelers wat nie professionele opleiding gehad het nie. "Ek het egter volle geloof en vertroue in die vermoëns en veral toegewydheid van die spelers gehad. Na maande se harde werk en 'n spanpoging duisend het ons 'n produksie waarop ons erg trots op kan wees." Ten einde die spelers te help om die moeilike styl te bemeester en vir drama- en dialoogafronding, het Strümpher gebruik gemaak van die dienste van Joey de Koker. "Ons is opregte dank aan Joey verskuldig vir haar insette en die ongelooflike kennis van haar vakgebied wat sy bereid was om met ons te deel. Hierdeur is 'n beter, meer afgeronde en geloofwaardige produksie verseker," het Strümpher gesê. Die "Vark en die Gousblom" word nog tot 31 Augustus in die Ou Meulteater opgevoer. Kaartjies kan by Print Right (872-7209) bespreek word. Meer inligting is beskikbaar op die Ou Meulteater se webtuiste www.meulteater.co.za. |
|
|||||