safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 22 August 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 29 August 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Sport


wsmotherGEEN DEURKOMKANS. Klein Nederburg Sekondêr se verdediging tydens die derbywedstryd teen New Orleans verlede Donderdag was puik. Hier verseker Charlton van Dyk en Fabian Petersen van KN dat daar geen deurkomkans is vir Dusty Williams van NO nie.  Ander uitslae (KN eerste genoem): (Rugby) o.14A 17-5, o.15A 13-8, o.16A 0-8, o.19B 12-5. (Netbal) o.14A 13-9, o.14B 9-15, o.16A 13-9, o.16B 5-9, o.19A 16-16 (Veerpyltjies) dogters 4-2, seuns A 6-1, seuns B 4-3 (Basketbal) d.16 34-4, s.o16 14-29 d.19 36-22 (Sokker) o.15 1-2, o.17 0-2, o.19 0-1 (Vlugbal) dogters 2-1, seuns 1-2 (Tafeltennis) dogters 3-2, seuns A 3-2, seuns B 2-3, (Landlope) dogters 0-1, seuns 0-1. (Hokkie) d.16 2-0. Foto: Leon Steenkamp


Rugby-boewery aan die toeneem

[ Top ]


RUGBY-BOEWERY blyk plaaslik aan die toeneem te wees, met voorvalle van ernstige aanrandings op skeidsregters, toeskouers en spelers van plaaslike klubs wat onlangs by die Westelike Provinsie Rugbyunie aangemeld is.

In 'n voorval Saterdag het skeidsregter Christo Engelbrecht die eerstespan-wedstryd tussen Paarl Rugbyklub en Mountain Rocks wat op Franschhoek gespeel is, ná 25 minute afgeblaas.

Beweerde vloekery, beledigings, dreigemente en bakleiery deur spelers het daartoe aanleiding gegee dat die wedstryd gestop is.

Volgens ooggetuies het dinge reeds met die derdespan-wedstryd begin uitrafel toe dié wedstryd tien minute voor die einde gestaak is, weens vuishoue en spelers wat op die grond geskop is.

Die tweedespan-wedstryd het minder voorvalle opgelewer, maar is ook in 'n gelaaide atmosfeer gespeel.

In die eerstespan-wedstryd het Paarl goed begin en het ná 'n kwartier met 14-0 voorgeloop.

Ná 'n laat hoogvat op 'n Paarlspeler, het Engelbrecht die senter van Mountain Rocks met 'n geelkaart beboet.

Paarl slaag daarna met die strafskop. Mountain Rocks se inskop was foutief en die spanne sak vir 'n skrum op die middellyn.

Toe die skrum opbreek het die vuiste begin swaai.

Engelbrecht het die wed-stryd afgeblaas waarna die bakleiery ook opgehou het.

Daar word verder beweer dat van die noodhulppersoneel in die gesig gespuug en beledig is.

Dié bewerings sal vanaand tydens 'n tugverhoor deur die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie ondersoek word.

Die verhoor van die rugbyklubs van UWK en Pniel Villagers sal ook vanaand voortduur, nadat ondersteuners van albei spanne mekaar getakel het ná 'n wedstryd twee weke gelede op die velde van UWK.

Verlede week het die WPRU die span Windmeul United 'n boete van R1500 opgelê nadat hulle wedstryd op 10 Augustus teen Caledonian Roses in die Agter-Paarl in chaos geëindig het.

Tydens dié wedstryd het skeidsregter, Mark van Zyl, onder die vuiste en dreigemente van Paarlse toeskouers deurgeloop en is sy trui afgeskeur.

Hy is deur 'n toeskouer na die Wellington polisiekantoor geneem en het la-ter vergesel van 'n polisieman sy motor by die veld gaan haal. Een van die grensregters se motors is met klippe bestook. 

Volgens Herman Abrahams, bestuurder van WP Klubrugby, moet Windmeul United die name van die toeskouers teen wie daar skynbaar reeds klagtes ingedien is asook die polisiesaaknommers aan die WPRU verskaf.

Volgens hom sou die skielike vlaag van rugby-boewery Dinsdagaand tydens 'n vergadering van die WPRU se uitvoerende bestuur onder bespreking kom.

"Drie weke gelede was daar een voorval, die volgende week was daar twee voorvalle en hierdie week is daar vier. Sulke gedrag kan nie geduld word nie," het Abrahams gesê.

Hy glo die onlangse fokus in die media op skeidsregters en hul bekwaamheid speel 'n rol.

"As Naas Botha 'n skeidsregter kan uitkryt, glo die man langs die kantlyn dat hy ook kan kritiek lewer - maar ongelukkig bly dit nie net by kritiek nie."

Hoewel hy glo dat drank 'n groot rol speel, is daar wel voorvalle waar dit nie die geval is nie.

"Klubs moet hul toeskouers beter beheer, so nie sal daar beslis teen hulle opgetree word," het Abrahams gesê."   


KN wen met durf

[ Top ]


DIE derbystryd tussen Klein Nederburg en New Orleans is verlede week op skouspelagtige wyse afgesluit toe KN met durf en karakter die hoofwedstryd in sy guns beklink het.

New Orleans moes reeds in die eerste minute met net 14 manne speel nadat Anthony Matthee (stut) afgestuur is weens trappery.

KN het op 'n baie vurige noot begin en New Orleans se doelgebied meedoënloos aangeval.

'n Goeie skrumpoging verseker vir KN 'n vaskopbal en 'n vinnige uitgee na Elgar Watts (losskakel) wat in die hoek oorduik, gee KN hul eerste punte van die wedstryd.

KN se kaptein en skrumskakel, Randall Ruiters het met 'n pragskop van digby die kantlyn geslaag om sy span 7-0 te laat voorloop.

Die hele KN span het uitgetroon met hul verdediging, met spelers wat telkens die NO aanvallers se bene onder hulle uitgeduik het.

Staan-staan aangeë, hegte verdediging deur KN en hanteringsfoute veral na die vleuels het beteken dat NO nie die doelgebied kon betree nie.

Hoewel die New Orleans agterlyn telkens gebruik gemaak het van hul groot voorrymanne Clinton Francis, Francois Julies en Anthony Matthee om met skêr-aangee en stormlopies die voordeellyn te probeer oorsteek, het KN se verdediging gehou.

Minute later kry New Orleans wel hul drie toe Waylin September druk.

Met rustyd is die telling 7-5.

In die tweede helfte het NO met nuwe vaart teruggekom. Matthee druk NO se tweede drie en Hillroy Paulse (15) verdoel om dié span te laat voorloop.

Benewens KN se insinking in die tweede helfte, moes hy ook sonder sy kaptein klaarkom nadat dié 'n geelkaart gekry het omdat hy 'n speler op die grond geskop het.

KN weerhou egter vir NO daarvan om nog punte aan te teken en dryf die wedstryd op die spits in die laaste minute. KN val aan en speel vir die eerste keer in NO se kwartgebied.

Tydens 'n skrum waar NO wat moet ingooi, neem KN weer sy kans waar. Weer haak die KN-pak 'n vaskop en weer is dit vinnige besit aan die agterlyn wat NO onkant betrap en weer is dit Watts wat deur twee verdedigers bars en oorduik vir die drie.

Met die telling op 12-12 en die uurglas wat uitloop was die druk groot. Maar Ruiters, net soos met sy eerste poging, tref die bal perfek en beklink 'n 14-12 oorwinning vir Klein Nederburg in 'n uithaler derby-wedstryd.     


Albions wen net betyds

[ Top ]


DIE eerste rugbyspan van Albions kon Saterdag nog 'n regmerkie agter hul naam maak, nadat hulle in die doodsnikke van die wedstryd met die sterk span van Silvertree afgereken het.

Silvertree het vroeg agter die pale gaan kuier, maar die Paarliete het nie gaan lê nie en kort daarna druk Fadel Moerat (9) om die telling op 7-5 te bring in Silvertree se guns.

Silvertree druk weer 'n onverdoelde drie en die rustyd breek aan op 12-5.

In die tweede helfte het Mark Kruger (10) vir Albions met 'n strafskop laat nader kruip, maar nog 'n drie het Silvertree 17-8 aan die voorpunt gehou.

Die Paarliete se tweede drie kom toe die senter, Lincoln du Preez, 'n kort skoppie vorentoe gee en Elrico Petersen op vleuel die bal in die hoek van die doelgebied toeval. 

Kort voor die einde buit Albions 'n hanteringsfout uit en die flank, Adam Moerat, druk om met 18-17 'n oorwinning voor die neuse van Silvertree weg te raap.

Johan van Rooi, Roderick Allies, Leigh Marquard, Yulin Claasen, Fadel Moerat en Gamaine Poggenpoel het 'n barshou vir Albions gespeel.

Young Gardens het Saterdag op Gardens Park teen hulself verloor deur die wedstryd op 'n skinkbord vir Primrose te gee.

Die 10-6 nederlaag beteken dat Gardens weer eens na die laaste plek op die punteleer val en dat hulle al hul oorblywende wedstryde moet wen om in die Premier A-liga te bly.

Chesley Theo het met twee strafdoele vir Gardens geslaag en is as speler van die wedstryd aangewys.

Paarl Rangers het die naweek lusteloos vertoon teen Hamediehs.

Rangers het 25-3 verloor nadat hulle rustyd 3-0 agter was. Eugene Collins het die Paarliete se strafskop geskop.


Boland maak dit 5 in 'n ry

[ Top ]


SEUNS wat as graad 8 kannetjies by die Hoër Landbouskool Boland ingestap het, kon Saterdag as trotse matrieks luidkeels saamjuig ná dié skool se vyfde agtereenvolgende interskole-sege oor die Hoër Landbouskool Oakdale.

Die eerste helfte van dié kragmeting is sonder veel hoogtepunte voltrek, met net Boland se Tobie Botes (9) wat met 'n strafskop kon slaag om die rustydtelling op 3-0 te bring.

Boland het deurgaans die meeste aanvalswerk gedoen, maar hul kanse verbrou sodra hul in Oakdale se kwartgebied gekom het. Foute deur Boland het die besoekers kans gegee om die Swarttruie met lang skoppe terug te jaag.

In die tweede helfte het Botes die tuisspan nog drie punte in die sak besorg danksy 'n strafskop.

Kort daarna raap Chris Buckle (haker) 'n losbal op ná 'n hanteringsfout deur Oakdale en druk om die telling 11-0 te maak.

Hierna slaag Botes weer met 'n strafskop terwyl die Oakdale-pak 'n oordryf-drie bewerkstellig aan die hand van die stut, Danie Barnard.

Die span van die Agter-Paarl was deurgaans in beheer en hul hegte verdediging het tot op die einde vir Oakdale uitgehou om die wedstryd 14-5 te wen.      

Ander uitslae (Boland eerste genoem): o.14C 17-0, o.14B 31-5, o.14A 13-8, o.15C 5-21, o.15B 16-13, o.15A 27-13, o.16C 5-36, o.16B 6-17, o.16A 10-8, o.19F 24-11, o.19E 10-10, o.19D 13-7, o.19C 20-3, o.19B 21-15.


Nog 'n derby dié naweek

[ Top ]


DIE tradisionele derbystryd tussen Paulus Joubert Sekondêr en Noorder-Paarl Sekondêr vind vanjaar vir die 37ste keer plaas wanneer dié skoolspanne mekaar pak.

Tien kodes neem vanjaar deel en die o.19A rugbywedstryd wat verlede jaar 8-8 gelykop geëindig het, beloof om weer eens groot opwinding te verskaf.

Dié hoogtepunt op beide skole se sportkalender skop vandag met 'n oud-leerder-funksie in die Club Sinatra af.

Sondag om 10:00 word 'n diens by die Bethel Congregational kerk gehou.

Die sportwedstryde begin op 27 Augustus om 13:00 met sokker, hokkie, basketbal, veerpyle, skaak, tafeltennis, landloop en vlugbal by Paulus Joubert.

Woensdag vind die twee oudstudente-rugbywedstryde op Daljosafat plaas. Die vier laerskole, Magnolia, Paulus Joubert, Nederburg en Amstelhof, sal ook vanaf 18:00 speel.

Die volgende dag sal die rugby- en netbalwedstryde op onderskeidelik die Faurestraat Stadion en die Du Toitstraat-bane beslis word.

Die  o.19A rugbywedstryd om 16:00. Die dag se verrigtinge sal met 'n dans by Club Dejam afgesluit word.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za