|
Andrew Murray gespeel het nie, of watter hoë aansien hy oorsee geniet nie," gesels Melanie van Zyl, administratiewe
bestuurder van die NG Moederkerk Wellington, as sy die reaksie van talle buitelandse besoekers weergee.
Volgens haar moet die gemeente se koster, Eric van Zyl, gereeld die kerk oopsluit vir belangstellende besoekers,
terwyl Grietjie Joubert ook groter besigtigingstoergroepe deur die gebou neem.
"Nou het ons meer as net 'n paar los papiere om vir hulle te gee."
Al is dit al byna 90 jaar sedert hy gesterf het, geniet dr Murray steeds hoë aansien internasionaal vir sy geestelike
werke, en is hy een van die mees gelese geestelike skrywers. Volgens die brosjure is talle van sy sowat 250 publikasies reeds in verskeie Westerse en ook Oosterse tale vertaal.
Die brosjure gaan egter nie net oor dr Murray nie. Brokkies is ingesluit oor die ontstaan van die dorp, die oprigting
van die kerkgebou, die toring en die standbeeld van dr Murray, asook die NG Sendingkerk.
Interessanthede soos die destydse sitplek-protokol word aangeraak, asook die herbou van die Marthasaal op 'n ander
terrein vanuit sy oorspronklike materiaal, nadat die gemeentevroue kapsie gemaak het teen die moontlike sloping daarvan.
Volgens die brosjure is die NG Gemeente Wellington een van slegs twee NG-gemeentes waar kollektestokkies nog gebruik
word om kollektes tydens eredienste in te samel (die ander een is die Strooidakkerk).
Die kerkgebou is 'n nasionale gedenkwaardigheid, en word allerweë as een van die mooistes in die Boland beskou.
Die brosjure bevat ook sketse en gepaste foto's van onder meer die oorspronklike kerkgebou, die NG Sendingkerkgebou
en van die belangrike figure in die stigting van Wellington.
Benewens sy waarde vir toeriste, glo Melanie dit bied ook ideale inligting vir nuwe intrekkers in die gemeente.
Die brosjure, met sy treffende volkleurvoorblad, is teen R5 te koop by die kerkkantoor, die Wellington Museum of die
toerismeburo. Dit word in Engels of Afrikaans uitgegee.
Dit is moontlik gemaak danksy die welwillende ondersteuning van die plaaslike gemeente, die Vriende van die
Wellington Museum en Bybel-Media.
|