|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
GRAAD agts wat nie by Bergrivier en Weltevrede Sekondêr op Wellington plek kon kry nie, kan hul 2003 skooljaar vandag by 'n nuwe junior sekondêre skool in Weltevrede begin. Dié tydelike monteer-eenhede, wat later 'n permanente skoolgebou gaan word, bestaan uit sewe klaskamers en sal graad sewes, agts en neges huisves. 'n Heining, badkamergeriewe en elektrisiteit moet nog aangebring word. Woedende ouers van Wellington het verlede jaar protes aangeteken teen die tekort aan klaskamerspasie in plaaslike hoërskole. Hulle het tydens 'n vergadering met die onderwysdepartement gedreig om "die dorp tot stilstand te bring", indien daar nie dringend 'n oplossing gevind word nie. Volgens Lukas Slingers, prinsipaal van Bergrivier Sekondêr, kan sy skool slegs 264 graad agts en Weltevrede sowat 350 huisves. "Die nuwe kernskool behoort die probleem op te los. Permanente klaskamers gaan later van tyd rondom die monteer-eenhede gebou word. "'n Prinsipaal is op kontrakbasis aangestel en afhangende van die getal leerders wat ingeskryf het, sal die aantal opvoeders bepaal word. Botallige onderwysers sal waarskynlik tydelik by dié skool aangestel word," het hy gesê. Tommy Davids, 'n voormalige Afrikaans onderwyser aan Bergrivier Sekondêr en nou kringbestuurder, is die waarnemende hoof van die nuwe Wellington Middelskool. Die drie onderwysers, wat almal verlede jaar aan Weltevrede Sekondêr verbonde was, is Christiaan van Rooi van Wellington en Lorraine Kearns en Ronetia Lovember van Wellington. Skoolboeke is reeds ontvang. Die nuwe leerders sal vir eers in die uniforms van hul vorige skole aantree, totdat op 'n nuwe uniform besluit is. Tot tyd en wyl sal met sport by ander skole ingeskakel word. Daar sal so gou moontlik 'n ouer-onderwysersvereniging gestig word, sodat oor skoolfooie besluit kan word. Die pos vir skoolhoof sal ook dan geadverteer word. * A new junior secondary school is opening its doors in Wellington. |
|
|||||