safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 23 January 2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 30 January 2003 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Sport


wJump23SKY HIGH. Benjamin Makhabane in the white shirt of Mbekweni Sundowns and Xolane Zenzwa of Cosmos, meet in mid-air during their big derby clash in the Castle Third Division match on Saturday. At half time the scores were level at 0-0. A few minutes into the second half, however, Cosmos took the lead when the left wing, Thulani Manqwane scored. Cosmos won 1-0. Pic: Leon Steenkamp 


Nuwe Boland bloed

Leon Steenkamp

[ Top ]


DAT Waylain September leef vir krieket is duidelik. Tydens die onderhoud is dit moeilik om sy aandag te behou en moet dié kranige speler telkens sy oë wegskeur van die wedstryd tussen sy span, Boland, en Griekwas wat deel uitmaak van die SA Plattelandtoernooi.

Wanneer nog 'n paar Boland paaltjies kort op mekaar val en hy sy kop mismoedig skud, besef jy hoe sterk bruis krieket deur sy are.

Dit is dus geen wonder dat hy die enigste Boland speler is wat vir die SA Skolespan gekies is nie. Hy is ook een van twee Boland spelers wat in die Boland o.19 krieketgroep opgeneem is. Die Boishaaier, Vince Pennazza, is die ander speler.

Waar die gewone seun as o.9 tjokker met krieket kennis gemaak het tydens die Bakers Mini kriekettoernooie, was dit nie die geval met Waylain nie.

"Ek het eers in Standerd 1 op Dalweide Primêr begin krieket speel," sê die 18-jarige wat vanjaar in Graad 11 aan New Orleans Sekondêr is.

"Ek was van die begin af meer gefokus op boulwerk," vertel die hotklou. Hoewel hy vandag 'n linkshandige draaibalbouler is, was dit nie altyd die geval nie.

"Ek het begin as snelbouler, maar in 1999 toe ek o.15 was, het 'n rugbesering gemaak dat ek nie meer so vinnig kon boul nie. Dit is toe dat my afrigter, Derick Ruiters, voorstel dat ek begin draaiballe boul."

Ná twee maande se oefening kon hy die bal laat toertjies doen, en sedertdien is daar vir hom niks lekkerder as die kompetisie tussen bouler en kolwer nie.

"Ek hou van die spel - om te boul, kolf en te vang, dit is alles vir my lekker. Dis veral lekker as jy op die veld is en jy kan 'n paar woorde na die kolwer se kant toe gooi. Ek speel die 'game' lekker hard," som hy sy spel op.

Amper net so oorheersend as sy toewyding tot krieket, is sy ondersteuning van sy provinsie. Dit kom veral duidelik na vore wanneer mens hom vra wie sy rolmodelle is.

"Justin (Ontong) en Con (de Lange)," sê hy. Geen van die grootkanon oorsese draaiboulers nie? "Nee, net daardie twee. Hoewel ek links boul en Justin regs, kan hy baie doen met die bal en 'n mens kan baie by hom leer. By Con wat ook links boul, kan jy net soveel leer," vertel die jong man met 'n lojale blik in sy oë.

Hoewel hy tydens die SA Skolespan se onlangse wedstryd teen WP (WP het met sewe paaltjies gewen) twaalfde man was, was sy verkiesing tog die hoogtepunt van sy krieketloopbaan tot dusver. Daar is egter nog baie wat hy wil bereik.

"My mikpunt vir die jaar is om Boland se senior B-span te haal en om daarna vir Boland te speel," sê Waylain wat vanjaar sy tweede jaar vir Paarl-Oos Krieketklub speel.      

Hoewel krieket ruimskoots nesgeskop het in sy hart, is rugby ook een van Waylain se voorliefdes.

"Ek speel haker, een van die lekkerste posisies wat daar is. Jy is die 'main' ou daar voor en jy beheer die pak," vertel September, wat al twee keer vir New Orleans se eerste span in die derby uitgedraf het en verlede jaar vir die Boland Akademiespan gespeel het.

Maar as hy moet kies tussen krieket en rugby? "Krieket al die pad," sê hy nog voor die vraag geuiter is.

Hy is 'n aanvallende bouler deur en deur, maar hy beaam dat hy wel aan sy kolfwerk wil skaaf om 'n meer gebalanseerde speler te word. Sy respek vir 'n goeie kolwer word geïllustreer wanneer hy die sterkolwer, Jacques Kallis, uitsonder as sy rolmodel in die Protea-span.

Sy beste prestasie met die bal het hy in 2001 behaal in 'n skoolwedstryd teen Vredenburg waar hy vier paaltjies vir die verlies van net drie lopies ingeoes het. Van sy 10 boulbeurte was nege leeg.

Volgens Deon Muller, afrigter van die Boland krieketspan, is Waylain beslis 'n talentvolle speler.

"Hy het die eienskappe om in 'n goeie speler te ontwikkel, daarby is hy ook 'n linksdraaibalbouler en hulle is maar yl gesaai. Hoewel hy 'n bouler is, het hy al in die middelkolforde 'n paar 30- en 40-talle aangeteken en kan hy in dié opsig ook groei," vertel Muller.

Hy het bygevoeg dat hy Waylain al twee keer genooi het om saam met die Boland span te oefen en dat Ontong en De Lange albei "baie beïndruk" was met sy vermoë om die bal te draai.

Hy het beaam dat Boland goed na die jong speler gaan kyk om te verseker dat hy eersdaags sy plek in provinsiale krieket kan volstaan.

September is die eerste Boland speler wat sedert 1997 in die SA Skolespan opgeneem is. Die huidige Boland snelbouler, Willem du Toit, was die laaste speler wat dié prestasie behaal het.

"Dit is goed om te sien dat die ontwikkelingsprogramme wat daar gestel word, vrugte afwerp," het Pietie Williams, hoof-uitvoerende beampte van die Boland Krieketraad gesê.


Sesman-kriekettoernooi die naweek

[ Top ]


DIE Wellington Krieketklub hou Saterdag sy 14de jaarlikse Three Ships Ses-'n-kant kriekettoernooi by die Pen Bassonveld op Wellington.

Toeskouers wat baie sesse en sommer hope aksie wil ervaar, moet die 16 spanne van Hermanus, Tulbagh, Noordhoek, Kaapstad, Darling en omliggende dorpe kom ondersteun.

Wedstryde begin om 08:30 en duur die hele dag.

Kos- en koeldrankstalletjies, 'n braaivleis-ete die aand en kontantkroeg is beskikbaar.

Vir meer besonderhede kan Marius Groenewald by 082-976-1379 geskakel word.


Harde kompetisie wag in Paarl Post prettrap

[ Top ]


DIT is lankal nie meer 'n geheim dat die Paarl en sy omliggende gebiede 'n skatkis van roetes vir fietsry-entoesiaste inhou nie. Maar presies hoe taai jy moet wees om die bulte hier in die Boland aan te vat, sal Saterdag tydens die jaarlikse Paarl Post Wynroete Prettrap duidelik word.

Fietsryers wat in die 78km padwedren gaan deelneem, sal reeds vroeg uit die vere moet wees vir die wegspringtyd van 06:30. Daarby sal deelnemers wat nog die oggend wil inskryf, reeds vroeër by die wegspringplek by die Markstraatbrug moet aanmeld.

Die feit dat die ryers ligapunte met dié wedren kan inpalm, sal beteken dat daar hard gespook sal word vir goeie posisies.  

Toeskouers kan die fietsryers by die vierrigting-stopstraat op Klapmuts inwag. Dit is 'n ideale uitsigpunt, aangesien die 78km hier verby strek en dit ook die draaipunt is vir die 38km wedren.

Nog 'n goeie staanplek is op die Helshoogtepas, waar die fietsryers al sowat 50km sou afgelê het.

Die voorlopers hier sal 'n redelike duidelike prentjie gee van wie eerste oor die wenstreep sal jaag, met die beste klimmers wat hier die krane sal oopdraai om voordeel uit die steil pas te trek.

Die pas, wat 360m styg, sal sowaar die ryers se kragte tap en behoort 'n interessante deel van die wedren te wees.

Diegene wat nie kans sien vir die lang roete nie, kan inskryf vir die 38km padresies wat tot by Klapmuts en terug strek.

Fietsryers wat die teer eerder vir die stof en klip van die berghange wil verruil, kan vir die 38km en 22km bergfietswedrenne inskryf.

Die langer roete kronkel deur die Paarlberg Natuurreservaat wat fietsryers 'n aanskoulike uitsig oor die hele Paarlvallei gee. Of daar gaan tyd wees om dit te aanskou, is egter 'n ander vraag aangesien dié roete geen lammetjie is nie en enige bergfietsry-entoesias tot die uiterste sal beproef.

Vir 'n minder uitmergelende uitdaging kan geleentheidsryers deelneem aan die korter roete wat tot by die Taalmonument en terug strek.

Met gedeeltelik bewolkte weer - sonder reën - wat voorspel word, sal dit ideaal wees vir fietsry in teenstelling met verlede jaar se stortreën toestande.

Inskrywingsvorms vir die prettrap wat deur die Paarl Rotariërsklub aangebied word, is beskikbaar by Hein Kroff Fietse en Hugenote Fietse. Vir navrae skakel Mercia by 863-3333.

Die kort-roete wedrenne begin om 7:00.  


Schalk swoeg saam met Stormers

[ Top ]


DIE jonge Schalk Burger het verlede week as deel van die Stormers oefengroep 'n proesel gekry van wat dit behels om deel van 'n Super 12 span te wees.

"Sjoe, ek sê vir jou dit was hard. Ons span het 26 uur lank gestap om by die eindpunt te kom," sê die 19-jarige flank oor die 100km bergstaproete wat deel uitgemaak het van die Stormers se weeklange oefenkamp op Tulbagh.

Hoewel hy erken dat sy tyd saam met die Stormers oefengroep 'n baie goeie ondervinding was, is hy versigtig om nie sy rugbyloopbaan te vinnig vooruit te hardloop nie.

"Jong ek weet nie, dis taai. Die ouens help jou met advies en so, maar as ons op die oefenveld is, gluur ons maar vir mekaar. Maar 'n mens kan dit verstaan, elke speler wil graag 'n plek in die finale groep hê."

Burger het vandeesweek nog saam met die Stormers geoefen ter voorbereiding vir hul vriendskaplike wedstryd teen die Bulls wat Saterdag op Nuweland gespeel word. Hy is een van die reserwes vir dié wedstryd.

"Daar is 'n kans dat ek vir die finale Stormers groep gekies kan word, maar op dié stadium weet ek glad nie wat aangaan nie. 'n Man gee maar jou beste en hoop die mense sien jou raak," sê Schalk wat Paarl Gim se eerste rugbyspan in 2001 gelei het.

Sou sy wens nie waar kom nie is daar nietemin heelwat rugby op sy program.

"Ek is nog jonk en kan nog vir twee jaar o.21 speel en dan is daar ook nog die moontlikheid van 'n plek in die Renegades span," sê die blonde kop wat deel was van die Springbokkies wat verlede jaar die o.21 Wêreldbeker trofee verower het.

Die proewe vir die SA o.21 span wat vanjaar in die junior Wêreldbeker-kompetisie in Engeland deelneem, begin in Maart.

As Burger nie vir die Stormers gekies word nie, sal hy binnekort by die Renegades-kamp aansluit wat Maandag in Bloemfontein begin oefen het. Dié span speel oefenwedstryde teen die Cats en die Bulls (twee).

"Maar, jis, ek sal dit darem geniet om vanjaar al Super 12 rugby te speel. Dit sal sommer baie lekker wees," hoop Burger wat reeds lyk na die volgende Paarlse speler wat groot naam in Suid-Afrikaanse rugby gaan maak.


Klubs begin oefen

[ Top ]


* Die Paarl Vrouekrieketklub begin Maandag van 17:30 tot 19:00 by die Parysveld oefen en daarna elke Maandag- en Woensdagaand. Almal is welkom om aan te sluit. Vir inligting, skakel Audrey by 873-2301.

* Die Windmeul Rugbyklub nooi alle belangstellendes om die voorseisoense oefeninge by te woon wat Dinsdae en Donderdae om 19:00 by Windmeul skoolveld plaasvind. Die klub hou op 8 Februarie 'n oefenkamp op Yzerfonteinstrand en op 28 Februarie 'n piekniekdans in die Paarl Gemeenskapsaal. Vir inligting skakel Jannie Japhta (083-968-4840) of Marcel Cornelissen (862-7135).

* Die Paarl Netbalklub se fiksheidsoefening begin op 4 Februarie om 18:00 by die Du Toitstraat tennisbane. Alle belangstellendes word genooi om die oefeninge by te woon. Oefentye is Dinsdae en Donderdae 18:00. Vir navrae, skakel Annelie 084-556-7633.

* Die Wellington Korfbalklub begin hul seisoen op 4 Februarie om 19:00 by die Wellingtonbane langs Boland Stadion se B-veld.

* Die Newtons Rugbyklub het Maandag begin oefen. Oefeninge sal voortaan elke Maandag, Dinsdag en Donderdag om 19:00 by Newton Park plaasvind onder leiding van afrigter, Athol Ontong.

* Die Wellington Rugbyklub het Dinsdag begin oefen en sal voortaan elke Dinsdag en Donderdag by die Boland Stadion se B-veld oefen. Die klub hou sy jaarvergadering op 6 Februarie om 18:30 by die Flappie Lochner saal. Vir navrae skakel Dolf Stemmet by 083-303-0960.

* Die Violets Rugbyklub oefen Maandae en Donderdae om 18:30 by Daljosafat en Dinsdae by die Paarl-Oos swembad. Navrae: Barnard Johnson 072-520-6061.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za