|
DIE leiertjellis van die Kaapse Filharmoniese Orkes is die solis in die konsert Saterdag op die La Motte Wynlandgoed buite Franschhoek.
Peter Martens, ondersteun deur die doyen van Suid-Afrikaanse begleiers, Albie van Schalkwyk, tree om 19:00 in die Ou Wynkelder op hierdie historiese landgoed op. Martens, 'n Kapenaar van geboorte, het reeds op 18-jarige leeftyd die die Wêreld Jeugorkes in Interlochen, Amerika, gelei.
Daarna het hy onder die voorste internasionale tjelliste in Europe studeer voordat hy hom in Pretoria gevestig het. Sedert die begin van 2001 is hy terug in die Kaap as lid van die Kaapse Filharmoniese Orkes, waarvan sy vrou die konsertmeester is.
Albie van Schalkwyk, mede-professor aan die Universiteit van die Vrystaat, is een van Suid-Afrika se mees veelsydige kamermusici en 'n gesogte begeleier.
Die uitvoering begin met Martens wat JS Bach se Vierde Suite vir Onbegeleide Tjello speel. Dit word gevolg deur F Schubert se "Arpeggione" Sonate vir Tjello en Klavier, en die Sonate in D mineur van Shostakovich. Die uitvoering sluit af met Piazzolla se ongewone, virtuose werk vir tjello en klavier, Le Grand Tango.
Kaartjies, wat 'n vingerete en landgoedwyn insluit, by Angela, tel 876-3119. |