safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 23 May 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 30 May 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Nuus - News


Veediewe beveg

Malané Bosman

[ Top ]


wwhiskyIn die Agter-Paarl lyk dit deesdae soos 'n toneel uit die Wilde Weste, met plaaswagte wat te perd die weivelde van boere se beestroppe en skaapkuddes patrolleer teen veediewe. En hulle behaal sukses.

Vyf maande gelede het die oud-polisieman Marius Jacobs, sy drie assistente en hul vier Owambo spoorsnyers die veld hul woonplek gemaak.

Vandat hulle met bakkies, motorfietse, perde en te voet 30 plase patrolleer, het die diefstalle merkbaar afgeneem.

Dis veral die aanjaag van vee na die Bloekombos plakkerskamp by

OPGESAAL. Perde, soos die vurige Whisky, word nou deur Marius Jacobs ingespan om te help in die stryd teen veediewe in Agter-Paarl. Foto: Malané Bosman

Kraaifontein wat stiller geword het.

Verskeie arrestasies is al gemaak, maar die boere en plaaswag is gefrustreerd.

Selfs met skaapwol aan 'n verdagte se klere en slagtoerusting en slaapvleis in sy besit, is dit algemeen dat 'n jaarlange opgeskorte vonnis opgelê word.

"Die veediewe is saans al teen tienuur in die veekampe. Hulle het meer as drie uur nodig om die beeste tot by Bloekombos of Mbekweni te jaag.

"Dis baie wreed. 'n Hakskeensening word afgesny en 'n tou word om die bees se bek en pote vasgebind sodat hy moet krom loop en geen weerstand kan bied nie.

"Hulle word met ysterpenne gesteek sodat hulle aan die beweeg bly."

Die skade is erg vir die eienaars - teen sowat R2 000 'n ooi en R9 000 'n bees. Die grootmaaktyd is verlore, en die vervangingswaarde is hoog. Dan is daar die stukkende drade wat herstel moet word.

"Maar net so erg soos die trauma vir die boer, is die trauma vir die dier," sê die plaaseienaars.

Die diefstalprobleem is met volmaan op sy ergste, al word daar byna weekliks gepoog om skape in die Klapmuts omgewing te steel.

 Van die vee word lewendig teruggekry, maar ook dan moet baie vankant gemaak word weens die trauma en beserings wat hulle opgedoen het.

Volgens 'n woordvoerder van Agri Wes-Kaap verloor die provinsie jaarliks meer as R400 miljoen weens veediefstal.

Dit bring 'n verlies van 1 500 werksgeleenthede in die landbou te weeg, word beraam.

"Eers was dit net skape, en nou is dit beeste ook. Ons kan nie so aangaan nie. Baie dink aan verkoop. En dan, waarmee of waarheen dan?" vra 'n boer.

Jacobs meen: "Ons vermoed die diewe kry hul inligting van plaaswerkers. Niemand kan sommer in die donker nag die diere opspoor en met kronkelpaaie aanjaag nie.

"Smokkelbakkies is 'n euwel, want vir die dwelms en drank betaal sommige plaaswerkers met inligting.

"Al wat regtig kan help vir veediefstal en plaasaanvalle, sal beheerde toegang in 'n sirkel om die plase wees."

* Guards on horseback have now been employed to safeguard sheep and cattle on Agter-Paarl farms.


Veediewe se vet moet braai

Malané Bosman

[ Top ]


MET die veediefstalle in die Agter-Paarl op sy ergste verlede jaar, was daar nie meer 'n plaas in die omgewing wat die duur verliese vrygespring het nie.

Daar is toe saamgespan en houthutte is vir plaaswagte Marius Jacobs en sy manne op die roetes opgerig waarlangs die diewe die vee aanjaag.

Die veediewe loop soos die kraai vlieg deur plaasheinings en oor paaie op pad na Bloekombos en Mbekweni.

Verlede week is 13 skape van Christo Briers-Louw se plaas Eenzaamheid gesteel. Die Klapmuts polisie het dié skape in 'n hut in Bloekombos opgespoor en veilig teruggebring.

In die hut is al voorheen gesteelde vee opgespoor. Niemand in die woonbuurt ken blykbaar die eienaar van die hut wat behalwe vir 'n bed, geen ander meubels bevat nie.

Op die plaas Groenfontein van Smuts du Toit is daar een nag sewe skape gesteel. Du Toit het die diewe agternagesit en die spore gevolg totdat hy ses van die skape byna 10km van sy plaas af, teruggekry het.

Die sewende skaap was reeds in 'n digte vlei geslag. Die verdagtes, vermoedelik van die Bloekombos plakkerskamp, het ontvlug.

Die volgende keer het 30 skape van Du Toit se plaas aan die noordekant van die N1 spoorloos verdwyn.

Drie en toe weer tien skape is van die buurplaas Rockridge gesteel. Ook hulle is nie weer gesien nie.

Die plaaseienaar, Robert Edwards, het tydens 'n derde diefstal van skape die diewe in digte mis tot by die spoorlyn agtervolg. Twee mans is aangekeer.

Twaalf ramme is van Pieter Briers-Louw gesteel.

Boere, plaaswerkers, plaaswaglede en die polisie het hulle agtervolg en die vee naby die N1 Engen motorhawe teruggekry, sowat 17km van hul weikamp af. Die diewe het in die nag verdwyn.

Die skape was op pad Bloekombos toe, en moes oor die nasionale pad gejaag word, het 'n polisieman gesê.

Na die soveelste diefstal het Briers-Louw, soos baie van sy bure, nou van sy skaapkuddes begin ontslae raak.

By Albert Kotze se plaas Otterkuil is een nag 45 swartkop Persiese stoetskape aangejaag.

Ses-en-twintig lammers en ook van die ooie kon op die lang pad nie byhou nie, en is keelaf gesny en in die veld gelos.

Twaalf van die diere is lewend teruggekry, maar Kotze het die nag R61 000 skade gely.

Op MW Hanekom se plaas Brakfontein naby die Lady Loch brug is daar op Oujaarsaand 16 skape geslag.

Onlangs is op Pieter Carstens se plaas, Brandenburg in die Agter-Paarl, 'n man van Bloekombos op heterdaad met 'n strop en 'n slagmes in 'n skaapkraal betrap. Hy is in hegtenis geneem, en is op borgtog vrygelaat.

"Hy is van veediefstal aangekla," sê Jacobs.

"Maar of die klag sal staan, weet ons nie. Volgens die nuwe wetgewing is die klag betreding, al is die verdagte in die kamp met sy slaggereedskap.

"Die onus rus op die ondersoeker om te bewys dat die motief diefstal was."

Die karkas van 'n R6 000 Sussex bees wat op die plaas Klipvlei van Nicolaas Geldenhuys gesteel is, is teruggevind nadat spoorsnyers die spore na Mbekweni gevolg het. Die twee mans wat op heterdaad betrap is, is in hegtenis geneem.

"Nou is daar is alweer 'n nuwe sindikaat uit Mbekweni aan die werk," sê Jacobs.

Die polisie hoop dat forensiese getuienis sal bydra tot 'n meer beduidende vonnis wanneer Ernst Tsele en Toto Motshoya van Silvertown, Mbekweni, op 'n aanklag van beessteel skuldig bevind word.

Dié twee is met toue en slagtoerusting betrap, maar hulle ontken aandadigheid aan 'n misdryf.

Hulle het nie die toegestaande borg van R1000 elk betaal nie en bly in hegtenis tot 'n volgende hofverskyning op 3 Junie.

Verlede maand is daar op Brakfontein 'n Angus bees en drie dae later 'n skaap geslag. Die ooi se lammetjie is in die veld agtergelaat en nou word "Izak" deur Jacobs hans grootgemaak.

'n Sussex stoetbul van R9000 is op die plaas Primo van Jan Greeff aan 'n kragpaal doodgewurg toe die dier hom verset het.

Die dooie bul is die oggend ontdek, asook die diefstal van 'n Angus bul daardie nag. Die spoorsnyers het die slagplek in Mbekweni ontdek.

Twee weke gelede is twee Sussex koeie, elk R4000 werd, op Klipvlei gesteel. Een van die koeie wat losgeruk het, is later verwilderd, met 'n tou om die nek, in 'n weiveld gevind.

Die ander een is sowat ses kilometer van die plaas, in Windmeul, vasgemaak gekry.

Jacobs en sy span het die diewe voorgelê totdat hulle twee uur later vir hul buit teruggekeer het.

Hulle is in hegtenis geneem en beslag is gelê op vangtoue en tange waarmee drade in hul pad geknip word.

* There is hardly a farm in Agter Paarl not yet targeted by thieves who drive off livestock worth hundreds of thousands of rands.


Munisipale skuld word 'n tameletjie

Susan Botha

[ Top ]


OM die munisipale begroting vir die nuwe boekjaar wat op 1 Julie begin op te stel, kos fyn beplanning, want die groot skuld van belastingbetalers bly 'n tameletjie.

"Ons oorleef nou net," het Speaker Jean Smit onlangs gesê van die kopseer van die skuldlas van R74 miljoen.

"Ons wil die begroting opstel met ons mense se werklike behoeftes in gedagte," het raadslid André van der Spuy de Villiers (DA) gesê by 'n spesiale perskonferensie om Drakenstein Munisipaliteit se begrotingsproses te verduidelik.

Raadslid De Villiers is voorsitter van die korporatiewe dienste komitee onder wie die begroting ressorteer. Ook by die konferensie was Smit, Hennie Barnard (hoof: finansiële dienste) en Hertius Carstens (skakelbeampte).

De Villiers sê niks rondom die begroting is nog gefinaliseer nie, maar die proses sal teen die einde van Mei voltooi wees.

Een van die groot mikpunte is om gelykheid in die streek te kry en enige verskille sal oor vyf jaar uitgefaseer word.

Hy het verduidelik dat die begroting verdeel word in 'n kapitaalbegroting en 'n bedryfsbegroting.

Die kapitaalbegroting kyk na institusionele koste, langtermyn projekte en laastens na behoeftes vir nuwe projekte.

"Alles word aan die GOP gekoppel en wat ons nie self kan finansier nie, moet ons op die oop mark fondse voor gaan soek."

Die bedryfsbegroting, wat werkskapitaal moet voorsien, se bronne is belasting (14,5%), elektrisiteit (47,8%), water (10,2%), reiniging (6,2%), riool (5,6%), huur (2,6%), subsidies (1,5%) en ander (11,5%).

De Villiers sê dit is nie 'n maklike taak om vyf dorpe saam te voeg in een groot munisipaliteit nie en daar is nog baie groeipyne.

"Op die oomblik is daar 'n onsekerheid by personeel en dit gaan gepaard met nie-optimale benutting. Hulle vat nie regtig voor nie," het hy gesê van die transformasieproses waarvolgens nog net die top-amptenare permanent aangestel is.

Hy het bygevoeg dat die organigram nou goedgekeur is en dat hulle hoop om die proses voor die einde van Junie af te handel.

Daar rus 'n wetlike verpligting op die raad om die begroting hand aan hand met die GOP (Geïntegreerde Ontwikkelingsplan) op te stel en Drakenstein het hierdie pad geloop, het De Villiers gesê.

"Die opkoms by GOP-vergaderings was nie altyd na wense nie, veral die meer gegoedes staan apaties teen die proses," was sy klagte teen die geleentheid wat inwoners gehad het om hul behoeftes en verwagtinge te stel.

Smit het sy stem hierby gevoeg: "Daar bestaan 'n verkeerde persepsie dat die GOP ten koste is van iemand wat iets het.

"Daar is geld nodig om aan verwagtinge te voldoen. Daarvoor moet ons skuld invorder, want kontantvloei stel ons in staat om gemeenskapsgedrewe projekte te begin."

Hennie Barnard het sy standpunt ondersteun en gesê daar sal baie meer gedoen moet word om uitstaande skuld in te vorder.

"En ons moet die mense so ver kry om ook nie te mors nie, want dit kos ons baie geld."

Drakenstein sit op die oomblik met sowat R74 miljoen agterstallige skuld en dit raak elke maand R1,2 miljoen meer.

De Villiers sê daar word nou R10 miljoen werkskapitaal begroot vir slegte skuld, hoewel dit eintlik R14 miljoen behoort te wees.

Smit het die gevolge van agterstallige skuld só opgesom: "Die koek word nie groter nie en dit bring twee probleme mee.

"Eerstens, om mense se aansprake te probeer ontmoet, probeer 'n mens om aan soveel mense moontlik iets te gee, maar dis te min, dus boer jy agteruit.

"In die tweede plek raak jou vermoë om ongelykhede te probeer regstel, afgekap."

Een van die tameletjies waarna die begroting nou kyk, is die kwessie van gratis water en elektrisiteit, soos deur die sentrale regering versoek.

In Drakenstein kry inwoners reeds van verlede jaar af 6 kiloliter water per huishouding per maand gratis. Dit kos die Raad R2,3 miljoen rand per jaar.

Sou die 40 eenhede gratis krag bykom, sal dit 'n bykomende R7,2 miljoen rand beteken.

Barnard het verduidelik dat die maklikste sou wees om sulke kostes van die kragtariewe te verhaal, maar dié word deur die Nasionale Elektrisiteitsreguleerder bepaal, wat dit verhoed.

Die enigste ander plek is belasting, en dit sal 'n bykomende 12,5% verhoging op belasting meebring. Smit sê hulle sal graag hierdie gratis dienste wil verskaf, maar die DA is van mening dat Drakenstein dit nie kan bekostig nie.

De Villiers het dit beklemtoon dat armoedeverligting 'n prioriteit is vir die DA en daarom word daar nou gekyk na 'n spesiale fonds om mense te help.

Nog 'n kopseer is behuising. De Villiers sê mense verstaan nie altyd dat dit nie 'n plaaslike owerheid se verantwoordelikheid is nie, maar dat die finansiering van behuising by provinsie en die sentrale regering lê: "Ons kan net die klimaat skep."

Smit het dit beklemtoon dat die Munisipaliteit net suksesvol kan wees as dit soos 'n sakeonderneming bedryf word."Dit pla my dat die grense tussen onderneming en sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheid al dowwer word.

"Die Munisipaliteit is nie 'n welsynsorganisasie nie. Die gemeenskap behoort homself te organiseer en dan met moontlike oplossings en versoeke na die Munisipaliteit toe te kom.

"Nou moet ons die probleem aanspreek uit eie bronne," het hy gesê.

Mense wat meer inligting rondom die begrotingsproses wil hê, is genooi om met hul wyksraadslid in verbinding te tree.

* The Drakenstein Municipality's budget process is hampered by the huge debt of ratepayers, amounting to R74 million.


Aksie gevra teen rondloperdiere

[ Top ]


wskut21'n VERGADERING gaan eersdaags gehou word met die eienaars van die vee wat al die ergernis veroorsaak met hul rondloperdiere by Vlakkeland op die Paarl/Wellington pad (R301).

Robert Germishuys, wie se vrou en dogtertjie in 'n ongeluk betrokke was as gevolg van 'n bees in die pad, het besluit dit is tyd om daadwerklik op te tree en die eienaars gaan sien.

Hulle het toe besluit op 'n vergadering op 14 Junie  by Ikhwezi, waar daar gepraat sal word oor die merk en beheer van vee.

Die veediefstaleenheid en die Paarl

MOTORSKUT? Die Paarlse diereskut staan gepak met voertuie. Daar is nie 'n bees in sig nie, hoewel beeste daagliks motoriste se lewens in gevaar stel op die hoofpad tussen Paarl en Wellington. Foto: Susan Botha

landelike beveiligingsbeampte sal ook teenwoordig wees.

Die kwessie het ook vandeesweek by die bestuursvergadering van die Drakenstein Munisipaliteit gedien.

Intussen is daar ook beweer dat rondloperdiere nie geskut word nie, omdat die munisipale skut vol motors staan waarop die verkeersafdeling beslag gelê het.

Volgens die DBV kan diere nie onder dié omstandighede aangehou word nie.

Germishuys het ook heelwat reaksie ontvang op die petisie vir optrede teen die rondloperdiere.

Hy doen 'n beroep op almal wat sy sentiment deel en die petisie wil ondersteun om hom te skakel by 082-775-1039, of te faks na 872-5462.

Hy doen ook 'n ernstige beroep op pendelaars wat in ongelukke betrokke was weens die rondloperdiere, om hom te kontak, sodat die inligting aan die assuransiemaatskappye deurgegee kan word.

* A Wellington couple has launched a petition to force the Drakenstein Municipality to act against the animals which cause a traffic hazard when they wander onto the Paarl-Wellington road. No animals can be impounded while the municipal pound is filled with impounded vehicles.


Troetelgans veilig danksy jong 'speurders'

[ Top ]


'n GANS is 'n ding waarvoor 'n man maar versigtig loop, want dié gevlerkte gevaarte se skerp bek kan 'n mens lelik karnuffel.

Maar 'n groepie heldhaftige seuns van Debussystraat, Groenheuwel in die Paarl, het nie eens twee keer hieraan gedink toe drie kwajongens onlangs 'n troetelgans probeer steel het nie.

Die gans is een van twee mak ganse wat aan Hendrik Cloete behoort. Die tweetjies wei bedags maar so tussen die huise in die doodloopstraat agter die Daljosafat-stadion.

Die jongklomp in die buurt lol nie met die twee nie, maar hou darem so 'n wakende ogie oor hulle.

Bradley Davids (14) vertel dat hy en sy klompie maters verlede Dinsdag buite gespeel het, toe drie kwajongens die een gans gryp en laat spat.

"Ons kon hulle nie net los nie en het agterna gehol," verduidelik hy met 'n trotse glimlag.

Amper 'n kilometer ver het hulle die gansdiewe gejaag, voordat dié bes gegee en hul buit gelos het.

Bradley was gewapen met 'n swart sak om die gans weer terug te neem na sy regmatige eienaar.

Die agt maters sê hulle is van kleins-af beste maats en as hulle kan help, sal hulle nie misdaad in hul gebied duld nie.

"Met jongmense soos dié, het ek hoop vir die toekoms," het 'n dankbare Cloete gesê.

Hy het spesiaal sertifikate laat druk om die klompie vir hul speurdiens te vereer en te bedank.

* A Paarl man has rewarded youngsters who saved his goose from thieves.


Betoging oor motoris nog vry is

Malané Bosman

[ Top ]


wbetoog21TERWYL twee gesinne sukkel om sonder moeders die mas op te kom, is die Paarl-Oos gemeenskap woedend dat die man wat die motor bestuur het wat hulle doodgery het, deur die hof op waarskuwing vrygelaat is.

"Dit terwyl die man reeds 'n opgeskorte vonnis vir dronkbestuur opgelê was," sê die kinders in trane.

Die kinders was deel van 'n groot groep

BETOGING. Vriende en familielede van twee vroue wat onder 'n motor gesterf het in Paarl-Oos, het verlede week voor die Paarlse Landdroshof betoog tydens die verskyning van die beskuldigde wat op vryborg is. Foto: Uh-Albry Reitz

ontevrede inwoners wat voor die Paarl Landdroshof betoog het oor die "vry-rondloop" van Karel Coetzee (63) van Klipbokstraat, Chicago.

Mary van Schoor (45) van Steenkampstraat en Katriena Hendricks

(37) van Nicollstraat het gesterf toe hulle in Desember verlede jaar ná die Paarlse Kersliggiefees huis toe gestap het.

'n BMW het die pad verlaat en die twee vroue van agter op 'n sypaadjie in Klein Drakensteinweg getref. Hendricks het onder die motor beland en Van Schoor is teen 'n muur vasgepen.

Hulle kinders, Hendricks se man en ander huisvriende is rakelings misgery.

Vandag trek die agtergeblewenes swaar. Van Schoor was die gesin se enigste broodwinner. Haar drie seuns woon by haar bejaarde moeder. Ashwill (21) probeer werk kry terwyl Eldeno (17) en Gilian (11) nog skoolgaan.

"Hier gaan dit maar swaar. My pensioengeldjie reik nie eens tot by die kos, die huis, die krag en die doodsboekie nie," bertel haar ma.

Twee van Hendricks se kinders, Merentia (20) en die klein Ruby-Ann (7), woon by hul ouma terwyl die derde dogter, Anthea (16), by haar pa is.

Die strafbare manslag verhoor is verlede week weereens uitgestel, hierdie keer tot 24 Junie.

"Die staatsgetuies was nie gedagvaar nie," het Coetzee se prokureur, Keith Sheldon, gesê.

Hy het bevestig dat Coetzee verlede jaar vir dronkbestuur aangekeer is en in Desember, toe die vroue gesterf het, gewag het vir 'n verhoordatum.

Hy is in Maart vanjaar skuldig bevind aan die dronkbestuurklag en 'n boete van R3 000 opgelê, waarvan die helfte opgeskort is. Sy bestuurslisensie is vir drie maande ingetrek.

Die twee sake is nie deur dieselfde polisiebeamptes of staatsaanklaers hanteer nie.

Terwyl ontevrede gesinslede probeer sin maak uit die situasie, verduidelik 'n hofwoordvoerder: "'n Opgeskorte vonnis word eers in werking gestel wanneer die persoon deur 'n hof skuldig bevind word aan 'n volgende oortreding."

* Members of the community have staged a protest at the Paarl court building because a motorist accused of killing two pedestrians, is walkling free despite a previous conviction for drunken driving.


Hijacking terror

[ Top ]


EMPLOYEES of a Paarl pizza business had a harrowing experience when the taxi in which they were travelling home at night, was hi-jacked in Mbekweni.

Four men wearing balaclavas, two armed with pistols, surrounded the vehicle at 22:30 on Tuesday 7 May when one of the passengers was stepping out of the vehicle in the OR-settlement.

The hi-jackers forced the man back into the taxi, pushed the driver aside and drove off with the four hostages.

"We were terrified," one of the victims said.

"They drove towards Stellenbosch and stopped in a forest on the road near Kayamandi. We were told to get out.

"The men took our driver's cellphone so that he could not call for help."

The stranded people flagged down the first car.

"It was a police vehicle, and they immediately gave chase," a victim said.

The police intercepted the taxi at Kayamandi, but the hi-jackers managed to escape.

"We are better now," the man told the Paarl Post.

"Our hearts are stronger, but our heads still hurt."


Goeie bestuur kan skool laat slaag

[ Top ]


HOEWEL armoede leerders se prestasie strem, kan effektiewe en gemotiveerde skoolbestuur wel 'n sleutelfaktor wees om 'n deurbraak te maak, het Wes-Kaapse Minister van Onderwys, André Gaum, onlangs op Wellington gesê by 'n kongres van onderwysbestuurders.

Die driedaagse jaarkongres van die Education Management Association (EMASA), is onlangs vir die eerste keer op Wellington gehou.

Hierdie onderwysvereniging wat in Maart 1998 gestig is, het ten doel om almal saam te snoer wat ernstig voel oor hulle professionele belang in die bestudering en praktyk van onderwysbestuur.

EMASA se oogmerk is om onderwysbestuur en -ontwikkeling te bevorder binne die konteks van rekonstruksie en transformasie van die Suid-Afrikaanse onderwyssektor.

Die lede van EMASA is akademici wat spesialiseer in die vakgebiede onderwysbestuur, onderwysreg en onderwysbeleid, onderwyspraktisyns (departementshoofde, skoolhoofde en bekleërs van bestuursposte aan tersiêre inrigtings), werkgewers in die onderwyssektor, onderwysverenigings, NGO's en verwante diensverskaffers.

Tydens sy rede het Gaum homself en sy departement vereenselwig met die werk van EMASA en hulle geloof vir dit wat in 'n relatiewe kort tyd bereik is.

Hy het daarop gewys dat "effektiewe onderwys vir almal" die visie vir die Wes-Kaapse Provinsie is, maar dat 60% van Kaapse skole as arm beskou kan word.

Hy het die bekende korrelasie tussen armoede en leerderprestasie as probleem genoem.

"In baie gevalle, egter, het effektiewe en gemotiveerde skoolbestuur wel 'n groot verskil gemaak. Ek beskou dit as 'n sleutelfaktor vir wyer deurbrake.

"Onderwys, met 'n toekenning van R4,53 miljard tans, is reeds verantwoordelik vir bykans 'n derde van die ganse Wes-Kaapse begroting wat daarop dui dat die provinsie onderwys as primêre prioriteit beskou."

Gaum het drie strategiese doelwitte en uitdagings vir sy departement gestel: effektiewe onderrig en leer, goed-bestuurde institusies, en veilige onderrig- en leeromgewings.

Hy het genoem dat die Provinsie reeds wesenlik daarmee gevorder het om ontwikkelingsrugsteuningprogramme nader aan skole te bring om hulle sodoende prakties en daadwerklik by te staan om vooruitstrewende en selfonderhoudende sentrums van onderrig en leer te word.

Vir spesifiek hierdie doel is daar reeds op 1 Julie verlede jaar sewe Onderwysbestuur-en-Ontwikkelingsentrums in die Provinsie in die lewe geroep, een in elk van die onderwysdistrikte. 

By die kongres is verskeie interessante aktuele referate gelewer en die resultate van navoring bekend gemaak. Verder het kongresgangers ook van die geleentheid gebruik gemaak om te netwerk en nuwe idees uit te ruil.

By die afsluitingsdinee het Vincent Landey, plaaslike kampushoof van die Kaapse Technikon, 'n spesiale toekenning ontvang vir die voortreflike reëlings waarvoor hy en sy komitee verantwoordelik was.

* Good management (or the lack thereof) can make or break a school, provincial Minister of Education André Gaum told education managers at a congress in Wellington.


Ondersoek na lede van Raad wat inmeng

[ Top ]


DIE Speaker van die Drakenstein stadsraad, Jean Smit, is gevra om 'n moontlike oortreding van die gedragskode vir raadslede te ondersoek, ná beweerde inmenging in die keuringsproses vir munisipale polisiekandidate.

Deon Heyns, voorsitter van SA Munisipale Werkersunie (Samwu), sê hulle het 'n amptelike klag by die munisipale bestuurder, Jacques Carstens, ingedien oor inmenging van DA raadslede in die proses.

Die klagte volg nadat instrukteurs van die Phillippi Opleidingsentrum sowat 'n honderd aansoekers op Vrydag 10 Mei deur 'n fiksheidstoets gesit het op Faurestraat-stadion onder die wakende oog van raadslede en lede van die munisipale vakbond.

'n Groep van veertig kandidate is deur die instrukteurs gekeur om Phillippi toe te gaan vir psigometriese toetsing.

Na bewering het van die DA-raadslede daarop aangedring dat vier ekstra kandidate by die oorspronklike veertig gevoeg word.

'n Raadslid het die betrokke mense verlede Woensdagoggend ook by die bus besorg. Hulle is toe saam Phillippi toe vir die psigometriese toetse.

Volgens Samwu sal die saak by die volgende arbeidsforum bespreek word.

* An investigation has been launched into alleged interference by DA town councillors in the process of selecting candidates for training as municipal policemen.


Aanval in Dutoitskloof

[ Top ]


TWEE van die vier rowers wat Sondag twee Matie-studente by 'n gewilde hengelplek in Dutoitskloof aangeval en vir dood agtergelaat het, is in hegtenis.

Philip Hills (20) van Stellenbosch en Francois de Bruin (23) van Grabouw het hul motor by 'n keerwal sowat 'n kilometer oos van die Du Toitskloof Lodge gelaat en die rivier oorgesteek om forelle te vang.

Toe hulle die middag so teen 17:30 na hul motor teruggekeer het, het vier mans hulle oorval terwyl hulle nog in die rivierbedding was.

Hulle het van 'n sementstellasie op die wal 'n vuurwapen op die studente gerig en gedreig om hulle te skiet.

'n Groot klip is teen Francois se kop gegooi. Toe hy val, is Philip ook met klippe gepeper.

Die studente is met hul veters en vislyn vasgebind, weer met klippe geslaan en daar gelaat. Hul selfone en beursies is gebuit terwyl die visgereedskap onder plantegroei versteek is.

Philip het homself losgewikkel en die sowat 100m tot by die pas gekruip. Sy motor was weg.

'n Motoris het die bloeiende jong man agter op sy bakkie gelaai en na die Rawsonville polisiestasie gejaag.

Terwyl Philip in die hospitaal op Worcester opgeneem is, het noodredders en die polisie uit die Paarl en Rawsonville hulle na die rivier gehaas.

Teen 19:00 het hulle die bewustelose Francois bereik. Hy het verskeie skedelfrakture opgedoen en het dieselfde nag 'n breinoperasie ondergaan.

Hy is steeds in 'n koma en daar word vir sy lewe gevrees.

Philip is buite gevaar, maar verkeer steeds in erge pyn. Gesigfrakture, gebreekte wangbene, ander kop- en oogbeserings moet herstel word.

'n Beskrywing van die blou Mazda 323 is Sondagaand wyd uitgesaai. Twee-uur die nag is die voertuig  by Ladismith opgemerk.

Een van die kapers is by die motor in hegtenis geneem. 'n Tweede verdagte (ook 19 jaar oud) is later Maandag aangekeer. Hulle is van Worcester.

* Two students have been attacked while fishing in Du Toit's Kloof. The police have arrested two of the four attackers.


Seuns op kiskar beseer

[ Top ]


TWEE seuns het verlede week nouliks die dood ontkom toe die kiskar waarop hulle gery het, in Blue Moonstraat in Milky Town, Paarl, aan 'n trekker vasgehaak en hulle onder die voertuig beland het.

Die twee was Saterdagmiddag besig om in die straat af te ry, toe  hulle die swaar voertuig getref het. Die kiskar het aan die sleepwa van die trekker vasgehaak en die seuns het onder die wiele beland.

Logan Andries (11) en Jeremia Swart (15), albei van Cocktailstraat in Milky Town, was onmiddellik na die Paarl Hospitaal gehaas.

Swart is reeds dieselfde dag ontslaan en Andries die volgende dag. Die twee seuns het net erge skaafwonde in die voorval opgedoen.

* 'n Man van Wellington, Jonathan du Toit (26), het Sondag bekken-, rug- en nekbeserings opgedoen, toe hy in 'n botsing tussen twee voertuie betrokke was in Stokeryweg, Wellington. Hy is in die hospitaal opgeneem.

* In 'n ander voorval het Andries Matau bors- en gesigsbeserings opgedoen toe die bakkie wat hy bestuur het, op die N1 buite beheer geraak en die pad verlaat het. Hy is in die Paarl Hospitaal behandel.

* Andries Nathan van Wellington het Sondag ligte hoofbeserings opgedoen nadat hy deur 'n motor in Hoofstraat omgery is.

Hy is in Paarl Hospitaal behandel.

* Petronella Samuels (16) van Marienasingel 6, Wellington, is verlede Vrydag lig beseer nadat sy deur 'n motor in Desmorestraat omgery is


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]