|
"Eintlik is hier nie geleentheid in Suid-Afrika om opleiding te kry nie," vertel Charl wat pas terug is ná 'n besoek aan werkswinkels in Oostenryk.
Hy is deur die Internasionale Klassieke Musiekfees geborg om twee maande in Oostenryk onder die wê-reldbekende vioolrestoureerder, Frans Unbelhör, te gaan werk.
In dié tyd het hy ook tyd bestee by 'n strykstokmaker in Wenen.
"Die viool is 'n kosbare instrument. Dit kan reggemaak word, maar dit is baie duur en die regte werkswinkelpraktyke is noodsaaklik."
Charl beskou dit as 'n besondere eer en voorreg om die opleiding te kon ondergaan.
"Dit is 'n baie streng beheerde beroep in Europa.
"Gewoonlik moet 'n aspirant-restoureerder 'n driejaar-vakleerlingskap by 'n skool ondergaan.
"Daarna gaan werk jy by 'n restoureerder en eers as hy dink jy is gereed, kan jy registreer."
Hy vertel van sy ondervinding in die werkswinkel: "Ek het maar met eenvoudige takies begin, soos om deur die bondel perdesterthare te gaan en hare te soek wat glad genoeg is vir die strykstok.
"Hierna het ek begin met die opstel van viole. Dit vat baie tyd: net om die bruggie te sny, kan ure neem.
"Alles moet honderd persent reg wees, anders beïnvloed dit die klank."
Charl vertel dat viole nog weinig verander het van die oorspronklike ontwerp.
"'n Standaard viool is 356mm lank. Selfs net 'n sentimeter meer, maak dit 'n baie groot viool."
Dan is daar die strykstok - en min leke sal seker ooit besef hoeveel tyd en aandag gaan in dié stukkie hout wat al die hemelse klanke uit die viool tower.
"Dit word van Pernambeukehout gemaak en kom uit Brasilië," verduidelik Charl.
Hy vertel dat vroeë Europese setlaars dié hout gebruik het om kratte te maak vir die versending van goedere na Europa.
"Hier het die strykstokmakers van destyds vinnig die waarde besef van dié elastiese hout met sy geweldige fyn grein.
"Deesdae is dit die enigste hout wat gebruik word vir strykstokke."
'n Stok weeg tussen 59 en 62 gram.
"Alles word met die hand gemaak en wanneer 'n mens 'n stok skaaf, werk jy met 'n 100ste van 'n millimeter."
Die perdehare wat vir die strykstok gebruik word, weeg sowat 4,6 gram en by die strykstokmaker waar hy geleer het, word dit met 'n spesiale knopie aanmekaar gebind.
"Ek het meer as 'n dag lank gesukkel om dié knopie reg te kry, met die strykstokmaker se vrou wat elke keer net haar kop skud en my werk lostrek..."
Maar aanhouer wen, en uiteindelik is Charl daar weg met 'n sertifikaat in die herstel van strykstokke.
En nou terug in Suid-Afrika, is Charl weer doenig in sy werkswinkel op Wellington. Behalwe restourasiewerk, is hy ook besig om 'n strykstok te maak.
"Kwaliteit-instrumente is skaars in Suid-Afrika en as daar restourasiewerk te doen is aan hulle, word hulle gewoonlik oorsee gestuur."
Hy vertel dat die maak en restourasie van viole en strykstokke 'n lewenswyse is in Europa.
"Kinders word van heel kleinsaf grootgemaak om te onderskei tussen die verskillende vakmanne se werk."
Hy sal graag sy kennis wil deel, "maar dit is nie almal wat die geduld het vir die geweldige fyn werk nie.
"Dit moet 'n passie wees."
Charl het sy liefde vir die viool by sy pa geërf. Sy pa was predikant en van sy vroegste herinneringe is aan sy pa wat viool speel of dan in sy werkswinkel werk aan die instrument.
"Ek was drie jaar oud toe ek probeer het om 'n kitaar te maak, sonder veel sukses."
Hy vertel dat niemand eintlik sy belangstelling in die viool opgemerk het nie, totdat hy op tienjarige ouderdom gevra het om les te neem.
Toe het die gogga hom behoorlik gebyt: "Ek het selfs so ver gegaan as om Vivaldi te speel by ons standerdvyf-afskeid," lag hy oor dié katastrofiese ervaring.
Maar niks kon hom keer nie: "Ek was gefassineer deur die klank."
Met groot erkentlikheid teenoor die kompleksiteit van dié besondere instrument, vervolg hy dan: "Eers op 40-jarige ouderdom het ek besef wat ek doen..."
Charl kom uit 'n baie musikale familie. Sy oom, Josias van der Merwe, het as pianis jarelank in Engeland opgetree. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het hy 'n ruk opgehou, maar op 75-jarige ouderdom het die klawers hom weer betower.
Sy ma oefen nou, op 78, Beethoven se werke, en sy pa, reeds oor die 80 jaar oud, oefen nog elke dag viool.
Charl het nooit die viool as formele studierigting gekies nie. Hy het wel in sy pa se teologiese voetspore gevolg en was 18 jaar predikant by die VGK-gemeente in Bovlei.
Dit was 'n moeilike stap vir hom om uit die bediening te tree, maar daar het nuwe uitdagings en moontlikhede vir hom gewink.
Behalwe die restourasiewerk en maak van strykstokke, is hy ook deesdae betrokke by Ronnie se musiekklasse vir kinders van die agtergeblewe gebiede van Kaapstad.
"Om vir hierdie kinders les te gee, is 'n hoogtepunt van my lewe.
"Hulle is só gereed, so hónger vir alles wat jy sê."
Dan draai hy na Ronnie: "Hoe het jy geweet dit is wat ek nodig het?"
Ronnie glimlag effens: "Ek het geweet hier is die man wat ek soek.
"Iets in die mondering van 'n persoon pas by die omstandighede."
"Daardie essensie om uit die kind te kry wat nodig is om musiek te maak, vir ontwikkeling."
Sorgvuldig word die viool en strykstokke weggepak: 'n stukkie hemel wat hy by hom dra, maar wat hy ook met ander wil deel. |