ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 23 September 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 30 September  2004 at 17:30

Arts - Kunste

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Charl versorg 'n stukkie hemel...

Susan Botha

[ Top ]


VIOLE kom uit die hemel. Charl du Toit se stem is vol piëteit en sy hande streel eerbiedig oor die vloeiende lyne van die delikate snaarinstrument.

Ons sit in Ronnie Samaai se voorkamer in die Paarl: Ronnie, wat Charl se liefde vir die viool deel, kan skaars sy nuuskierigheid en ook eerbied vir Charl se vakgebied beteuel.

Charl is een van net 'n handjievol vakmanne in Suid-Afrika wat sy hand waag aan die restourasie van viole en strykstokke.

wcharlFC

KUNSTIG. Oud-leraar Charl du Toit en Ronnie Samaai bekyk 'n viool.

"Eintlik is hier nie geleentheid in Suid-Afrika om opleiding te kry nie," vertel Charl wat pas terug is ná 'n besoek aan werkswinkels in Oostenryk.

Hy is deur die Internasionale Klassieke Musiekfees geborg om twee maande in Oostenryk onder die wê-reldbekende vioolrestoureerder, Frans Unbelhör, te gaan werk.

In dié tyd het hy ook tyd bestee by 'n strykstokmaker in Wenen.

"Die viool is 'n kosbare instrument. Dit kan reggemaak word, maar dit is baie duur en die regte werkswinkelpraktyke is noodsaaklik."

Charl beskou dit as 'n besondere eer en voorreg om die opleiding te kon ondergaan.

"Dit is 'n baie streng beheerde beroep in Europa.

"Gewoonlik moet 'n aspirant-restoureerder 'n driejaar-vakleerlingskap by 'n skool ondergaan.

"Daarna gaan werk jy by 'n restoureerder en eers as hy dink jy is gereed, kan jy registreer."

Hy vertel van sy ondervinding in die werkswinkel: "Ek het maar met eenvoudige takies begin, soos om deur die bondel perdesterthare te gaan en hare te soek wat glad genoeg is vir die strykstok.

"Hierna het ek begin met die opstel van viole. Dit vat baie tyd: net om die bruggie te sny, kan ure neem.

"Alles moet honderd persent reg wees, anders beïnvloed dit die klank."

Charl vertel dat viole nog weinig verander het van die oorspronklike ontwerp.

"'n Standaard viool is 356mm lank. Selfs net 'n sentimeter meer, maak dit 'n baie groot viool."

Dan is daar die strykstok - en min leke sal seker ooit besef hoeveel tyd en aandag gaan in dié stukkie hout wat al die hemelse klanke uit die viool tower.

"Dit word van Pernambeukehout gemaak en kom uit Brasilië," verduidelik Charl.

Hy vertel dat vroeë Europese setlaars dié hout gebruik het om kratte te maak vir die versending van goedere na Europa.

"Hier het die strykstokmakers van destyds vinnig die waarde besef van dié elastiese hout met sy geweldige fyn grein.

"Deesdae is dit die enigste hout wat gebruik word vir strykstokke."

'n Stok weeg tussen 59 en 62 gram.

"Alles word met die hand gemaak en wanneer 'n mens 'n stok skaaf, werk jy met 'n 100ste van 'n millimeter."

Die perdehare wat vir die strykstok gebruik word, weeg sowat 4,6 gram en by die strykstokmaker waar hy geleer het, word dit met 'n spesiale knopie aanmekaar gebind.

"Ek het meer as 'n dag lank gesukkel om dié knopie reg te kry, met die strykstokmaker se vrou wat elke keer net haar kop skud en my werk lostrek..."

Maar aanhouer wen, en uiteindelik is Charl daar weg met 'n sertifikaat in die herstel van strykstokke.

En nou terug in Suid-Afrika, is Charl weer doenig in sy werkswinkel op Wellington. Behalwe restourasiewerk, is hy ook besig om 'n strykstok te maak.

"Kwaliteit-instrumente is skaars in Suid-Afrika en as daar restourasiewerk te doen is aan hulle, word hulle gewoonlik oorsee gestuur."

Hy vertel dat die maak en restourasie van viole en strykstokke 'n lewenswyse is in Europa.

"Kinders word van heel kleinsaf grootgemaak om te onderskei tussen die verskillende vakmanne se werk."

Hy sal graag sy kennis wil deel, "maar dit is nie almal wat die geduld het vir die geweldige fyn werk nie.

"Dit moet 'n passie wees."

Charl het sy liefde vir die viool by sy pa geërf. Sy pa was predikant en van sy vroegste herinneringe is aan sy pa wat viool speel of dan in sy werkswinkel werk aan die instrument.

"Ek was drie jaar oud toe ek probeer het om 'n kitaar te maak, sonder veel sukses."

Hy vertel dat niemand eintlik sy belangstelling in die viool opgemerk het nie, totdat hy op tienjarige ouderdom gevra het om les te neem.

Toe het die gogga hom behoorlik gebyt: "Ek het selfs so ver gegaan as om Vivaldi te speel by ons standerdvyf-afskeid," lag hy oor dié katastrofiese ervaring.

Maar niks kon hom keer nie: "Ek was gefassineer deur die klank."

Met groot erkentlikheid teenoor die kompleksiteit van dié besondere instrument, vervolg hy dan: "Eers op 40-jarige ouderdom het ek besef wat ek doen..."

Charl kom uit 'n baie musikale familie.  Sy oom, Josias van der Merwe, het as pianis jarelank in Engeland opgetree. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het hy 'n ruk opgehou, maar op 75-jarige ouderdom het die klawers hom weer betower.

Sy ma oefen nou, op 78, Beethoven se werke, en sy pa, reeds oor die 80 jaar oud, oefen nog elke dag viool.

Charl het nooit die viool as formele studierigting gekies nie. Hy het wel in sy pa se teologiese voetspore gevolg en was 18 jaar predikant by die VGK-gemeente in Bovlei.

Dit was 'n moeilike stap vir hom om uit die bediening te tree, maar daar het nuwe uitdagings en moontlikhede vir hom gewink.

Behalwe die restourasiewerk en maak van strykstokke, is hy ook deesdae betrokke by Ronnie se musiekklasse vir kinders van die agtergeblewe gebiede van Kaapstad.

"Om vir hierdie kinders les te gee, is 'n hoogtepunt van my lewe.

"Hulle is só gereed, so hónger vir alles wat jy sê."

Dan draai hy na Ronnie: "Hoe het jy geweet dit is wat ek nodig het?"

Ronnie glimlag effens: "Ek het geweet hier is die man wat ek soek.

"Iets in die mondering van 'n persoon pas by die omstandighede."

"Daardie essensie om uit die kind te kry wat nodig is om musiek te maak, vir ontwikkeling."

Sorgvuldig word die viool en strykstokke weggepak: 'n stukkie hemel wat hy by hom dra, maar wat hy ook met ander wil deel.


Nederlandse Barokmeesters speel by Nederburg

[ Top ]


VOLGENS die musiektydskrif Alte Musik Aktuell wys Trio Uccellini hoe natuurlik die Barokstyl bemeester kan word deur 'n jonger generasie musici.

'n Mens kan in hul uitvoerings pragtige spel en uitstaande tegniese vaardighede  hoor.

Hierdie gevierde Nederlandse trio gee op Sondag om 17:00 'n uitvoering in die Nederburg opstal met werke van Händel, Vivaldi, JS Bach en Corelli.

In 1987 het drie begeesterde musici byeengekom danksy die onkonvensionele benadering tot 17de en 18de eeuse musiek wat hulle gedeel het.

Hulle het besluit om hul samewerking te verdiep deur 'n ensemble te stig en dit na die 17de eeuse komponis, Uccelini, te vernoem, wie se spontane en emosionele musiek vir hulle na aan die hart lê.

Trio Uccellini het hulself met mening aan die Hollandse musiekwêreld bekendgestel deur die vrystelling van 'n CD, wat met baie entoesiasme ontvang is deur die media.

Die ensemble het al uitvoerings gegee by musiekfeeste regoor Europa, en het toere onderneem na Suid-Amerika, Afrika en Suid-Oos Asië.

Hul mees onlangse CD, 'n versameling van hul gunsteling werke van die 18e eeu, het die hoogste lof ontvang van die Hollandse klassieke musiek tydskrif, Luister.

Die lede van die trio het almal suksesvolle loopbane as solo en kamermusici.

Vincent van den Ende (blokfluit) is die skrywer van talle boeke oor historiese blaasinstrumente.

Hy was lid van ensembles soos Combattimento Consort en die Koninklike Concertgebouw Orkes.

Job ter Haar (tjello) spesialiseer in kamermusiek van verskeie eras en was lid van ensembles soos Musica ad Rhenum en die Ives ensemble.

Gerard Blok (klavesimbel) het musiek studeer aan die Amsterdamse Konservatorium en is tans dosent aan die Utrecht Akademie vir Kunste.

Kaartjies kos R125 per persoon en sluit 'n ligte ete en Nederburg wyne in.

Vir besprekings en meer inligting kontak Christine Joubert by 809-7473 of e-pos haar by dcjoubert@distell.co.za.


Afrikaans is vir almal

[ Top ]


VICTOR JABULANI KHAMBULE praat al van kindsbeen af Afrikaans, van toe hy nog 'n "pikkenien" was in Soweto.

Vandag is hy die voorsitter van die Soweto-tak van die Vriende van Afrikaans en het hy pas as afgevaardigde die Afrikaanse Taalberaad op Stellenbosch bygewoon.

Hy het ook die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl besoek.

Oor dié instellings sê hy: "Ja, dit behoort ook aan my. Dit is daar vir almal, ongeag geslag, ras of ouderdom."

Die VVA-tak in Soweto het 35 lede en vergader twee tot drie maal per week om sommer net in Afrikaans te gesels, en om Khambule se lesings by te woon.

Hy het 'n BA graad in kommunikasiekunde van RAU, met Afrikaans as hoofvak, en het ook opleiding van die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap ontvang. Khambule beplan ook om 'n meestersgraad in Afrikaans te doen oor vertaling en interpretasie.

Hy sê die inwoners van Soweto begeer almal om Afrikaans te kan praat.

Hy voel swart Afrikaans onderwysers moet verdere opleiding kry sodat hulle leerders kan oplei en aanpor om self verder te gaan studeer.

"As ons goed opgeleide Afrikaanse onderwysers in Soweto kan kry, sal die saak in die haak wees."

"Ek wil vir die mense wat nie gereeld 'n biblioteek besoek nie, aanpor om dit wel te doen.

Hy voel veeltaligheid is ook baie belangrik in SA, want dit simboliseer versoening tussen die verskillende rasgroepe.

"Mense hoef nie bang te wees Afrikaans sal uitsterf nie, in plaas van bang wees, moet hulle trots wees.

"'n Taal is 'n taal, dit het niks te doen met apartheid nie. Afrikaans is 'n taal net soos Zulu."

Victor se kontakbesonderhede is tel (011) 988-3600 (h) of (011) 710-4809 (Nedcor Authorisation Centre).


Kyk deur Cloete se lens Distrik Ses

[ Top ]


'n HISTORIESE oorsig oor Distrik Ses, soos waargeneem deur die lens van fotograaf Cloete Breytenbach oor 'n tydperk van vyf jaar, is van 15 Oktober tot 1 November te sien by die Wellington Museum.

Die tentoonstelling word amptelik geopen op Vrydag 15 Oktober om 19:30 by die museum, en belangstellendes is welkom.

Cloete Breytenbach is die broer van die digter Breyten Breytenbach. Hy het in Wellington grootgeword, maar het nie sy bande met die dorp verbreek nie. Hy is 'n trusteeraadslid van die Breytenbach Kultuursentrum op Wellington.

Die foto-uitstalling, "The Spirit of District Six", bied 'n geskiedkundige rekord oor die inwoners en hul omgewing van daardie tyd. Die naam Distrik Ses het sy oorsprong na aanleiding van sy geografiese posisie op die munisipale kaart van Kaapstad.

Distrik Ses het reeds in 1701 op die plaas Zonnenbloem naby Kaapstad sy wortels, en het gedurende die tweede helfte van die 19de eeu ontwikkel as 'n woongebied digby die sentrale kern van Kaapstad.

'n Kosmopolitaanse gemeenskap met uiteenlopende geskiedenisse, herkomste en kulture het hier saamgebly.

Na herhaalde onsuksesvolle versoeke van die sentrale regering vir die opgradering van die woonbuurt is daar op 11 Februarie 1966 onder die Groepsgebiedewet besluit om Distrik Ses as 'n wit gebied te verklaar.

Kort daarna is begin met die hervestiging van die inwoners, meestal na die Kaapse Vlakte. Oor 'n tydperk van 15 jaar is meer as 55 000 mense op hierdie wyse hervestig.

Breytenbach se foto's wys dat Distrik Ses nie noodwendig net 'n krotbuurt was nie, maar dat die gees van die buurt veel eerder in die harte van die mense was wat daar gebly het.

Vir navrae en besprekings, kontak Ansie van Vuuren by 873-4710 of 084-335-3701.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]