|
DIE krieketseisoen het nog nie eers begin nie, maar die Boland Amateur krieketspan spog al klaar met 'n trofee in hul vertoonkas.
Die Bolanders het die naweek hul voorseisoense voorbereiding op 'n hoë noot begin toe hulle die PYZ Uitdaagreeks op Oudtshoorn gewen het.
Die span van die Paarl het eers met SWD en daarna met die WP afgereken.
Boland het 245/9 aangeteken in hul toegelate 50 beurte teen die Suid-Kapenaars.
Wimpie Louw wat verlede seisoen in die Boland B-span uitgeblink het, was die voorste lopiemaker met 104.
Dié toporde-kolwer wat tans vir Maties speel, lyk na een van die spelers wat vanjaar tot sy volle reg gaan kom in die provinsiale span.
Louw se foutlose beurt waarin hy die veldwerkers geen kans gegee het nie, is goed ondersteun deur Warren Swan (38), Wian Smit (28) en Rupert Bailey (30).
Die SWD is tot 207/7 in hul 50 beurte beperk wat die Boland 'n sege van 38 lopies besorg het.
Young Peoples se Brendan Adams (twee paaltjies), Waylin September (Paarl-Oos Krieketklub), Christo Ritter en Pepler Sandri (albei van Maties) het die paaltjies ingeoes.
Die volgende dag se wedstryd teen die WP het heelwat minder lopies opgelewer, nogtans het sake steeds in die Boland se guns geval.
Boland kry weer kans om eerste te kolf en behaal 174 met die laaste paaltjie wat in die finale boulbeurt val.
Hoewel die twee spanne mekaar op dieselfde veld gespeel het, was dit 'n ander kolfblad.
Wian Smit en Rupert Bailey het albei goed gelyk met tellings van 51, terwyl Adams ook 'n waardevolle 20 bygedra het.
Sake het klopdisselboom verloop met die telling op 90/1.
'n Paar beurte later was dit 'n heel ander storie nadat Louw, Swan en Bobby Nicholson aldrie vir 'n nulletjie uitgehaal is met die telling op 100/4.
Die ineenstorting tesame met twee uithardlope het die Bolanders se momentum erg versteur en hulle kon nie weer op dreef kom nie.
Die WP-manne het egter nog meer gesukkel en is danksy die goeie draaiboulwerk van September (drie paaltjies) en Adams (twee) reeds in die 40ste beurt op 89 uitgehaal.
"Ek wil op die stadium nie te krities wees nie. Ons het die probleemareas geïdentifiseer en daaraan gewerk.
"Ons boulwerk was baie beter teen die WP as teen SWD," het die Boland-afrigter, Salieg Nackerdien vandeesweek gesê.
"Ek is bly dat drie van my top ses kolwers in die wedstryde genoegsame tyd in die middel kon deurbring."
Die Boland-groep bestaan tans uit 18 spelers. Die twee nuwe gesigte onder die klomp is Ryno Arendse en Rupert Bailey.
Arendse het verlede jaar nog vir die Vrystaat gespeel, terwyl Bailey, 'n openingskolwer en 'n oud-Bolander, vir die afgelope vier jaar eers vir Oostelikes en toe vir Noordweste gespeel het.
Chad Baxter wat in Engeland krieket gespeel het, moet nog by die groep aansluit.
Volgens Nackerdien is klubkrieketwedstryde van kardinale belang in die nuwe formaat van die provinsiale spel.
"Daar is nie meer 'n Boland B-span waar die spelers hul koppe kan regkry nie.
"Hulle moet reeds in die klubwedstryd leer om gefokus te bly in hul spel, sodat wanneer hulle in die Boland-span opgeneem word hulle reeds daardie vlak van konsentrasie kan handhaaf."
Hy voeg by dat vanjaar se fokuspunt bestendigheid onder sy kolwers is en om die span as 'n eenheid te laat saamwerk.
Die Boland-span speel môre weer teen die WP in die tradisionele Uitdaagbeker-wedstryd op Hermanus waar dit deel vorm van die Walvisfees.
Die WP/Boland Franschise- span speel die naweek in 'n tweedagwedstryd teen die WP ook op Hermanus.
Die Franschise-span speel dan op 29 en 30 September teen Boland op Worcester.
Die Boland-span is: Rupert Bailey, Wian Smit, Ryno Arendse, Wimpie Louw, Warren Swan, Brendan Adams, Malcolm Stuurman (w), Sean Philips, Willem du Toit, Bardo Fransman en Pepler Sandri. |