|
DISTELL, die land se voorste wyn en spiritualieë-maatskappy , het onlangs by WIETA aangesluit wat 'n kode vir aanvaarbare arbeids- en omgewingspraktyke in boerdery neerlê.
Die vereniging is deur van die grootste Britse kleinhandelkettings van stapel gestuur om die versekering aan verbruikers te gee dat produkte nie uit 'n agtergrond van ongewenste arbeids- of omgewings-praktyke kom nie.
"Verbruikers wil produkte koop wat aanvaarbaar is, so ook kleinhandelaars," sê Jan Scannell, hoof van Distell.
WIETA se gedragskode bevat 'n samevatting van kern-regulasies wat vervat is in verskeie wette. Dit dek aspekte soos die verbod op kinderarbeid en dwangarbeid; en die bevordering van 'n veilige en gesonde werksomgewing.
Distell het reeds begin met 'n oudit van sy eie wynplase, en daar is ook begin om die etiese kode aan verskaffers bekend te stel.
"Ons is bly dat 'n groot meerderheid van ons plase en verskaffers reeds die gedragskode nakom. Waar 'n boer nog nie ten volle aan die vereistes voldoen nie, sal Distell met dié verskaffer saamwerk om regstellende stappe in te stel.
"Distell ondersteun WIP se doelwitte ten volle om SA se internasionale wynstatus te verbeter, om gelyke toegang regdeur die wynwaardeketting te ontwikkel, om omgewingsvriendelike, volhoubare produksiestelsels aan te help en om die verantwoordelike gebruik van wynprodukte te bevorder," sê Scannell.
Hy het onlangs met wynboere in die Boland, die Weskus en in die Klein Karoo gesprek gevoer. |