|
'n GEVOEL van verslaentheid het vandeesweek by die Drakenstein Munisipaliteit geheers ná 'n berig in 'n Kaapse weekblad oor beweerde bedrog deur die munisipale bestuurder, wat die politieke binnegevegte in die 'Vaal'-gebou tot in die openbare oog geruk het.
Die kern van die saak is 'n langdiensbonus wat aan Munisipale Bestuurder, Jacques Carstens, uitbetaal is en daarmee gepaard die interpretasie van sy dienskontrak met die Drakenstein Stadsraad.
Carstens, voorheen stadsklerk van Wellington, is in Desember 2000 as interim-bestuurder van die nuwe Drakenstein Munisipaliteit aangestel. In Augustus 2001 is die aanstelling permanent gemaak.
In November 2001 het die personeelafdeling hom ingelig dat hy kwalifiseer vir langdiens-erkenning, omdat hy 15 jaar munisipale diens voltooi het.
Carstens het die keuse gehad om 28 dae verlof te neem, of dat die kontantwaarde aan hom uitbetaal word. Hy het op die geld besluit, wat op 'n brutobedrag van R24 066 te staan gekom het.
'n Paar maande later het amptenare gevind dit was 'n administratiewe fout, aangesien die verlof, opgebou gedurende sy diens op Wellington, nie vir uitbetaling kwalifiseer nie.
Daar word verwys na klousule 28 van sy kontrak: "Dit is 'n spesifieke bepaling van hierdie ooreenkoms dat geen tydperk van indiensneming van die werknemer by 'n ander werkgewer sal tel tot sy indiensneming by die werkgewer."
Maar in klousule 23 word ook bepaal dat ongebruikte verlof wel van Wellington na Drakenstein oorgedra word.
Carstens het nooit bedank by Wellington nie, maar is slegs soos ander personeellede van die voormalige Wellington Munisipaliteit, opgeneem in Drakenstein Munisipaliteit.
Carstens het die saak met die destydse Burgemeester, Chris Leander, bespreek en dit is aan die Raad vir kondonering voorgelê.
Hulle kon nie tot uitsluitsel kom nie en Carstens het besluit om die geld terug te betaal.
Nadat hy en finansiële bestuurder, Hennie Barnard, met die Inkomstekantoor beraadslaag het, het hy R14 439 terugbetaal, die netto-bedrag wat hy ontvang het na belastingaftrekking.
Intussen is die saak ook na die uitvoerende komitee verwys en die prokureurs Van der Spuy & Vennote is genader vir 'n regsopinie. Hulle het bevind dat Carstens, na hulle mening, nie geregtig is op die geld nie.
Daar is die saak skynbaar gelaat, tot 'n paar weke gelede, toe 'n lid van die Burgemeesterskomitee die Speaker versoek het om die saak te ondersoek.
Die Speaker het Chennells Albertyn Prokureurs aangestel - dit is skynbaar 'n omstrede besluit, sonder 'n amptelike raadsbesluit.
Die wet bepaal dat slegs die Uitvoerende Burgemeester 'n ondersoek kan doen na die Munisipale Bestuurder, en dan ook net met die toestemming van die volle Stadsraad.
Die saak sou weer Dinsdag voor die Uitvoerende Burgemeesterskomitee dien, waar daar gedebatteer sou word oor die vermoedelik verkeerde hantering van die saak deur die Speaker, Kilion Cekiso (ANC).
Daar sou waarskynlik ook aanbeveel gewees het dat 'n derde regsfirma die saak moet ondersoek.
Die belangrike vergadering kon egter nie plaasvind nie, aangesien daar nie 'n kworum was nie, nadat 'n ANC-raadslid nie opgedaag het nie.
Intussen het Carstens regshulp oor die saak ingewin.
Aanduidings is dat hy 'n dispuut teen die werkgewer (Drakenstein Stadsraad) gaan verklaar, onder meer weens die uitlek van vertroulike inligting na die pers.
'n Lastersaak teen die betrokke koerant word ook oorweeg.
Die Demokratiese Alliansie (DA) sê in 'n skrywe aan die Burgemeester hulle het ernstige bedenkinge oor die regsgronde en die motiewe onderliggend aan die besluit van die Burgemeesterskomitee om 'n dissiplinêre ondersoek teen die Munisipale Bestuurder in te stel.
Indien dit later sou blyk dat die DA se bedenkinge geregverdig was, sal die DA daarop aandring dat die Uitvoerende Burgemeester en sy komitee verantwoordelik gehou word vir enige kostes en uitgawes verbonde aan sodanige dissiplinêre ondersoek.Voorts is die Uitvoerende Burgemeester versoek om 'n openbare apologie in die pers te plaas waarin Carstens se reputasie en naam in die gemeenskap herstel word.
* The DA has demanded an apology from the mayor over accusations against the municipal manager. |