|
"My ma het my bedags wingerd toe gevat waar sy gewerk het. Ek het dan op my ovaalvormige, plat visblikkie-kitaar vir hulle gespeel en koortjies gesing. En hulle het my op die hande gedra.
"Toe moes ons uit, ons stukkie paradys op die oewers van die Hugo'srivier verlaat en dit verruil vir die drieverdieping woonstelblokke in Chicago."
In 1974 begin hy sy skoolloopbaan by New Orleans Primêr onder mnr F Latief as skoolhoof.
"Kinders van verskillende agtergronde, ryk en brandarm soos ek, het met mekaar omgegaan. Die verskil in die broodblik was duidelik, maar ek het my potbrood geniet."
Hy raak nostalgies oor van sy onderwysers, soos juffrou Ray, juffrou Adams, mnre Archibald Williams en Adonis. "Hulle was baie streng, maar het ons ondersteun."
Jeff was in standerd twee toe sy ma baie siek word en in 'n psigiatriese hospitaal opgeneem word.
"Dit is in hierdie tyd dat Ray Ontong, Steffini en juffrou Van Louw my fenomenaal bygestaan het.
"My oudste suster, Maria, het tuis na ons gekyk. Ek het byna elke week alleen met die trein gery na my ma toe. Sy was my held."
Later het hy spesiaal 'n lied vir haar geskryf: "Mama hold me".
Sy standerd vier jaar begin hy by Orleansvale Primêr. "Hier staan mnre Bernie Martin, Winter en Waries uit as mense wat vir hulle gemeenskap omgee. Hulle maak toe van Jeffrey Moss die akteur en Jeff Janjala die sanger."
In Chicago raak Jeff betrokke in 'n bende, die Simba Kids.
"Ek het die pad byster geraak, maar die Here het ons almal daar uitgehaal, want dit was nooit ons bedoeling om mense leed aan te doen nie.
"Ons was ook baie kere verkeerd, maar ander bendegroepe het 'n probleem met ons gehad omdat ons baie gewild was onder jongmense."
"Toe kom ekself, André Jonathan en wyle Brian Hartzenberg, een van Paarl se grootste gospelsangers, tot bekering."
Dit was die einde van die Simbas.
Jeff word 'n lidmaat van die Kerk van die Nuwe Testament, onder aanvoering van dr PL Coetzee, 'n musikant en skrywer van formaat.
"Ek word raakgesien en sing in die kerk se nasionale jeug die lied 'Soos 'n blom', wat ook op my CD is.
"Ek sien toe die mansgroep, die Faithful Volunteers, en hulle styl van sang en dissipline prikkel my. Julius Mentoor, leier van die groep, het baie in my belê."
In 1989 neem hy deel aan die Shell Road to Fame en verskyn in die eindronde op televisie as solokunstenaar. Hy tree saam met bekende kunstenaars soos Rebecca Malope, Richard Jon Smith en Benjamin Dube op.
Later stig Jeff sy eie gospelgroep, Real Vision, en hulle maak vinnig naam met hul unieke styl.
"Die groep is later uitmekaar, maar ek het nog steeds drome om hulle weer te laat herleef."
Intussen het 'n groot droom vir Jeff waar geword: Sondag om 19:00 stel hy sy eerste CD, "Halleluja Road", bekend in die Strauss-saal.
Deurgelde is R20 en kaartjies is beskikbaar by Cedric Benans (872-1077) of Janjala (862-9109).
Die CD kos R70, maar sal daardie aand teen R60 verkoop word, gekoppel aan gratis toegang.
Die CD het elf snitte en reflekteer op waar hy vandaan kom: "Dit is musiek wat die siel voed."
Sewe van die liedere kom uit Jeff se pen. Die musiekverwerkings is gedoen deur dr Coetzee. |