safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 24 January 2002

uitlefstreep
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

People - Mense


wlonglandHUWELIKSKLOKKIES. Feitlik al die Larries was daar toe huweliksklokkies verlede week gelui het vir die pasafgetrede hoof van Hoërskool La Rochelle, mej Johanna Longland. Sy is op 16 Januarie deur ds Francois Cilliers van Kuilsrivier in die Toringkerk in die eg verbind met Nico Heydenrich, ook van die Paarl.


Gesin eet, slaap, droom gholf

Susan Botha

[ Top ]


wgholf33GHOLF loop dik deur die Mahoney-familie van die Paarl se are.

Pa Isaac is 'n bekende naam in gholf-kringe en hy het beslis dié liefde aan sy twee seuns, Mark en Trevor, oorgedra.

Isaac sê sy liefde vir gholf kom van sy kinderdae af toe hy langs die gholfbaan op Worcester grootgeword het.

ONTWIKKELING. Isaac Mahoney (links), besig met 'n ontwikkelingskliniek by Nederburg Primêr, bygestaan deur Grant Hepburn en Mervin Galant. Aldrie is betrokke by die SA Gholf Ontwikkelingsraad. Hepburn is 'n instrukteur in logiese gholfspel en Galant is 'n voormalige professionele speler.

"Ek het maar so begin sak dra en later, toe ek in die Paarl kom bly het, het ek sosiaal by Bergrivier op Wellington gespeel."

Sy gholfspelery het egter op die agtergrond geskuif toe sy twee seuns in die spel begin belang stel het.

Isaac is deesdae voltyds ontwikkelingsbeampte vir die SA Gholf Ontwikkelingsraad en as sulks verrig hy 'n reuse-taak by veral laerskole in die Boland.

Onder dikwels uiters moeilike omstandighede is hy besig om talent by die jongspan te ontdek en te ontwikkel.

Hy is ook die dryfveer agter sy twee seuns, Mark en Trevor, se prestasies op die gholfbaan.

Die twee is albei produkte van Ebenezer Primêr, waar hulle ook alle ondersteuning van 'n baie trotse skoolhoof, Freddie Matthee, ontvang het.

Mark (18) het die afgelope jaar net gholf gespeel, nadat hy matriek geskryf het by New Orleans Sekondêr.

"Mark moet nou besluit of hy gholf sy loopbaan wil maak. Daar is verskillende ontwikkelingsgeleenthede beskikbaar om hom op sy pad te help," vertel pa Isaac.

Mark speel op 'n +1 voorgee.

Trevor, wat verlede jaar in graad 7 by Ebenezer was, speel op die oomblik op 'n voorgee van 9.

Hy het in 1991 met sy eerste probeerslag by die Bergrivier klubkampioenskappe die C-afdeling gewen.

Hy ontvang die toekenning vir die mees gevorderde speler vir 1999 en 2000. In 2000 eindig hy tweede in die B-afdeling van die Wellington kampioenskappe.

In April 2001 verwerf hy Boland-kleure vir gholf en verteenwoordig die provinsie in 'n seshoekige toernooi by die Fancourt gholfklub.

In Julie wen hy die B-afdeling van die junior kampioenskappe op die Kuilsrivier gholfbaan.

Trevor is ook een van twee modelle vir 'n gholf-tydskrif wat onder die vaandel van Vodacom Village en deur bemiddeling van Sanlam Junior Gholf uitgegee gaan word. Hierin word die 'moets' en 'moenies' van die spel gedemonstreer.

Trevor begin vanjaar sy hoërskoolloopbaan by Klein Nederburg, maar speel reeds geruime tyd vir hulle gholf.

Voorwaar 'n gesin wat gholf eet, slaap en droom.


Bekende sportman sterf

[ Top ]


'n BEKENDE in veral rugbykringe in die Paarl, Dicky Neale (82), is verlede Donderdag oorlede. Sy gesondheid het die laaste ruk vinnig agteruit gegaan.

Hy was ten tyde van sy dood 'n inwoner van die Rusthof ouetehuis.

Hy was 'n stigterslid van die Albions Rugbyklub in 1919 en het vir hulle losskakel en heelagter gespeel.

Later het hy Paarl se Raadspan verteenwoordig, vir WP Liga gespeel en is ook in die dertigerjare gekies vir die eerste sogenaamde Kleurling Springbokspan wat oorsee sou gaan toer het. Dié planne is egter deur die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog gekelder.

Oom Dicky het jare as administrateur diens gedoen, was voorsitter van Albions se netbalklub en ook lewenslange president van die klub.

Hy het ook krieket gespeel vir Foresters en was 'n bekende krisantkweker.

"Hy was 'n sportman by uitstek en op sy dag een van ons blinkste spelers," het 'n woordvoerder van Albions gesê. Die klub het ook hul simpatie met die familie betuig.

Oom Dicky, 'n klipsnyer van beroep, het eers in die Bo-Paarl en later in Noorder-Paarl gebly. Later het hy Ambagsvalleistraat toe getrek en nadat sy vrou hom ontval het, het hy by sy kinders gewoon.

Hy laat ses kinders, 15 kleinkinders en drie agterkleinkinders na.

Die begrafnis is Saterdag om 10:00 by die huis te Sederlaan 10, New Orleans, en om 10:30 in die Bethel Cong Kerk.


Heimwee by reünie in Noorder-Paarl se 'Gat'

[ Top ]


DIT is ons mense, ons kontrei - ons harte verlang om terug te wees waar ons tuiste, vrede en harte was.

Só het oud-inwoners van Die Gat in Skoolstraat, Noorder-Paarl, met heimwee teruggedink aan die jare vóór die Groepsgebiedewet hulle verplig het om te trek.

Sowat tweehonderd van die oud-inwoners het onlangs reünie gehou op een van die laaste oop persele in Skoolstraat en almal het saamgestem dat dit "onbeskryflik was om terug te wees op ons geboortegrond".

Die huis waarin Lal Williams vroeër jare gewoon het, is intussen afgebreek, maar dit het niemand verhinder om die aand te geniet nie.

"Ons het die plek sommer altyd 'Lal se Wal' genoem," vertel William (Bellie) Kenned, een van die organiseerders van die reünie.

Die Gat was die naam wat die inwoners gegee het aan die gebied van Jan Steynstraat ondertoe.

Die meeste van die mense het in die vroeë sestigerjare die gebied verlaat, nadat dit as 'n blanke gebied geproklameer is.

"Baie van ons het mekaar ook nie weer gesien nie," sê Kenned.

Die gedagte aan die reünie het ontstaan toe een van die ou Skoolstraters, Abe (Dassies) Floris, besluit het om by sy suster, Bessie le Roux van die Haven nagskuiling in die Paarl, te kom kuier.

Kenned het begin rondbel en was verbaas oor die groot belangstelling in 'n reünie.

"Mense het van Kaapstad, Worcester, Pietermaritzburg en Johannesburg gekom.

"Per toeval was een van die oud-inwoners, Edward Botha, hier van Malawi, waar hy deesdae onderwys gee. Daar was selfs mense uit Australië," vertel hy.

"Die honger van die mense om weer bymekaar te kom en te gesels oor wat na aan die hart lê, is ongelooflik."

Die organiseerders het gemmerbier en allerlei outydse geregte voorgesit en die klomp het nostalgies gekuier op die vyftiger- en sestigerjare se klanke van Dean Martin, Frank Sinatra, Al Jolson en Nat King Cole.

"Maar ons het nie net saamgesing nie, ons was weer kind en het al die ou speletjies soos 'Aploon maak potjie skoon' en 'Aljander, Aljander' gespeel."

Een vrou het gaan klop aan die deur van haar kleintyd-huis.

"Die inwoners het haar wonderlik ontvang, veral toe sy vra om net weer te kyk na haar ou slaapkamer."

Daar is veral baie gesels oor "die goeie ou dae". Daar is gelag oor byname soos 'Bellie' Kenned wat sy bynaam te danke het aan sy pa se Skotse afkoms, en 'Dassie' Floris, die groot dassie-jagter van Noorder-Paarl.

Maar daar is ook onthou van die dag toe die laaste inwoner om te trek uit Skoolstraat, Frans Williams (80), uit sy huis gekom het om 'n bord te kry met die woorde "Nou moet die H.....s uit!"

"Ja, daar is groot hartseer oor wat van ons weggeneem is," erken Kenned, "maar ons is nie verbitterd nie, want dan kan ons nie vergewe en versoen nie."

Die groep is vuur en vlam om gereeld reünie te hou, maar intussen word daar gewerk aan 'n groot byeenkoms vir 2003, die 40-jarige herdenking van die uitsettings in Noorder-Paarl.

"Ons wil dit op die Dalstadion hou en mense kan my skakel by 862-2865 of 082-414-0077," sê Kenned.

Een ding is egter seker, daar sal beslis weer gekuier word.

"Ons is 'n gemeenskap wat uitmekaar geruk is en dit is goed om mekaar weer te sien."

Soos een man dit gestel het: "Hierdie was my tuiste wat ek liefgehad het wat gevat is. In die plek daarvan het ek 'n huis gekry wat ek moes leer liefkry."


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za