|
KLEIN seuntjies wil gewoonlik in hul pappas se voetspore volg.
So het 'n klein rakkertjie van Paarl ook dan vandeesweek gemaak, toe hy sy skoolloopbaan begin het met 'n deel van sy pa se skooluniform van toentertyd.
Jandré Wentzel (6) van Primrosestraat is 'n nuwe leerling aan Noord-Eind Laerskool.
Dié klein parmant het 'n skoolbroekie van pa Jannie, wat dit 33 jaar gelede in graad een gedra het, geërf.
"Jannie het besluit hy gaan die broekie bêre vir wanneer hy eendag self 'n seuntjie het. Dit is wonderlik hoe die broekie so goed behoue gebly het," vertel ma Anél laggend
"Daar is selfs nog 'n rooi verfkol op die broekie, wat opgedoen is tydens 'n graad een verfsessie!"
Jandré gaan egter net op dag een in dié erfstuk pronk. Daarna gaan dit weer gebêre word as nagedagtenis.
Ook Thys Rossouw (13) van Skoolstraat volg getrou in sy pa se voetspore.
Hy het vandeesweek sy eerste jaar as leerling van Hoër Jongenskool Paarl begin met 'n das wat sy pa 21 jaar gelede as matrikulant by Boishaai, gedra het.
"Ek het die laaste skooldag die das net so van my nek afgehaal, nog met knoop en al. Toe het ek besluit as een van my seuns Boishaai toe sou gaan, sou hulle dié das oorerf," het pa Jannie vertel. |