|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE verkiesing van die Renegades, 'n streekspan wat binnekort kragte sal meet met die vier Suid-Afrikaanse Super Twaalf rugbyspanne, het Boland afrigter Jerome Paarwater kans gegee om sy Kavalier-span met nuwe bloed te laai. Die Renegades, 'n groep van 28 spelers wat Saterdag na 'n proefwedstryd in Goodwood deur die Australiër Tim Lane verkies is, sluit ses Bolanders is. Rudi Keil (wat as onderkaptein verkies is), Daniël Philander, Andries Human, Eugene Maqwelana, Gustav Rademeyer en Vion Wium sal nie vir die Kavaliers beskikbaar wees nie, terwyl John Daniëls vanjaar vir die Cats sal uitdraf. Boland speel Maandagaand tuis teen die Stormers in 'n vriendskaplike wedstryd. Dit is beide die Stormers en Kavaliers se eerste wedstryd van die seisoen. Wayne Julies, Hannes de Kock en Carel van der Merwe is die drie bekende gesigte wat die Kavaliers vanuit die Stormers-geledere sal begroet. Volgens Paarwater, wat ook hulpafrigter van die Stormers is, het die onttrekkings uit sy Bolandspan die deur vir nuwe talent oop gemaak. "Dit sal ander manne geleentheid gee om hulself te bewys, en daar is heelwat ouens wat die kans met altwee hande sal aangryp," het Paarwater gesê. Volgens dié Boland-breier het hulle reeds van 17 tot 19 Januarie 'n oefenkamp gehad en sou daar vir die res van die week op spelpatroon en ander basiese punte gefokus word. "Dit behoort 'n goeie wedstryd te wees aangesien daar in die spanne van Boland en die Stormer ouens is wat hulself wil bewys. Ek sal veral kyk na die individuele spelers," het hy gesê. Daar is verlede jaar berig dat Paarwater hom op sy afrigting by die Boland wil bepaal eerder as om sy verantwoordelikhede te verdeel as hulpafrigter van die Stormers. "Op daardie stadium was die Vodacom en Super 12 wedstrydbepalings nog nie vasgestel nie. Aangesien ek verlede jaar eers by Rudy (Joubert) oorgeneem het, wou ek vanjaar net op een ding konsentreer. Ek wou eers 'n sukses maak van een ding," het Paarwater sy planne vir die Boland verduidelik. "Maar nadat ek met Gert (Smal) gepraat het en vasgestel het dat daar slegs een wedstryd is waar die Boland en Stormers oorvleuel, het ek van plan verander," het hy gesê. Volgens Paarwater het hy dit reeds met Smal uitgeklaar dat sou die Stormers na die halfeindstryd deurdring en die span na Australië of Nieu-Seeland moet reis, hy sy verpligting by Boland Rugbyunie eerste sal stel. * Maandagaand se wedstryd begin om 19:30 op die Boland Stadion op Wellington. |
|
|
|
|
ONDANKS goeie vertonings deur die krieketspanne van Paarl-Oos Polisie die naweek moes die eerste en tweede gekeurdes verlief neem met 'n onbesliste uitslag. Hoewel nie een 'n oorwinning kon afdwing nie, samel elkeen nietemin sewe punte in tydens hul tweedagwedstryde. Paarl-Oos I het tuis teen Atlantis te staan gekom in die tweede dag van hul kragmeting in die premierliga. Reën het spel die vorige naweek gekortwiek en die spanne is genoodsaak om sake oor een dag te beslis. Paarl-Oos het eerste gekolf en ná 64 beurte, waarin hulle 150/7 aangeteken het, verklaar. Wayne Jantjies (41), Henrico Samson (31), Zynodien Fredericks (21*) en Jackie Daniels (20) was die tuisspan se voorste lopiemakers. Joseph Conrad 2/31, Ashley Goliath 2/19 en G Arendse 2/20 het Atlantis se boulaanval gelei. Die besoekers het na 'n vlugtige kolfbeurt van 29 beurte verklaar op 51/7, met net R August (16) wat lopies kon aanteken. Waylin September (2/7), H Paulse (2/9) en Justin Watts (2/16) het verwoesting gesaai onder die kolwers. Die Paarliete begin hul tweede kolfbeurt en eindig die dag se spel onbeslis op 18/2. Op Stellenbosch het Paarl-Oos Polisie II teen Van der Stel II kragte gemeet in 'n twee-dagwedstryd wat ook die vorige week uitgereën het. Van der Stel het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die Paarlse boulers maai onder die tuisspan en beperk hulle tot 'n skamele 66/10. A Titus (19) en D de Bruin (21) het noemenswaardige tellings aangeteken. W Minnies (3/12), Bradley Davids (2/10) en Gershwin Davids (2/20) het die kolwers hoofbrekens gegee. Paarl-Oos kolf goed en verklaar in die 40ste beurt met 'n telling van 218/4. Jenovin Adams (72), Andrew Cupido (53) en Butch Green (38) was die top lopiemakers. J Franzen (2/59) en M Neethling (2/35) het paaltjies geneem. Van der Stel kolf weer en teken 65/5 aan voor die dag se spel verstryk. Mike Neethling teken 34 nie uit nie aan. Butch Green (1/2), Gershwin Davids (2/11) en W Minnies (2/13) het die paaltjies laat kantel. |
|
|
|
|
DIE plaaslike wedstryde van die Somerspele wat die Departement van Sport en Ontspanning jaarliks aanbied, sal Maandag 28 Januarie in die Paarl/Mbekweni, Wellington, Saron, Gouda en Hermon plaasvind. Hoewel die Somerspele die vorige drie jaar in die Desembervakansie gehou is, is daar plaaslik besluit om dit aan te bied nadat die skole weer begin het om só groter deelname aan te moedig. Spelers en atlete wat tydens die spele presteer, sal in 'n Drakenstein span opgeneem word om aan die streekspele in Februarie deel te neem. Ná afloop van die streekspele sal 'n provinsiale span gekies word om in April aan die SA Spele in Gauteng deel te neem. Die spele voorsien vir deelname aan sokker (o.14), hokkie (o.20), rugby (o.19), netbal (o.19), krieket (o.18), atletiek (o.18), swem (o.18) en gestremde sport (17 tot 20 jaar). Die finale vir die Drakenstein span sal op 1 en 2 Februarie gehou word. Die onderskeie wedstryde sal Maandag om 14:00 begin. Daar is sokker (Paarl sokkerklubvelde), rugby (Daljosafat), netbal (Daljosafat), swem (Paarl-Oos swembad), hokkie (Paarl hokkieveld), krieket (Daljosafat krieketveld), gestremde sport (verskillende sportkomplekse). Inskrywings kan by die veld/gronde gedoen word. Vir verdere inligting skakel Sammy Andrews (862-6513) of Denston Plaatjies by 083-667-0790. |
|
|
|
|
DIE eerste krieketspan van Young Peoples het Sondag redelik goed gevaar in sy tweedagwedstryd teen Maties I op Stellenbosch. Peoples het eerste gekolf en na 87/8 gesteier ná baie goeie boulwerk deur die studente. 'n Goeie vennootskap tussen die twee ervare manne, Salieg Nackerdien (41) en Mark Borchards (61) het egter die beurt gered en Peoples gehelp na 182, almal uit. Maties I was met uitskeityd 166/6 met nog 11 beurte oor in hul eerste beurt. Die wedstryd word Sondag voortgesit. Young Peoples se tweede span het Saterdag op Daljosafat gelykop gespeel teen Coronations II. Peoples III het op sy beurt met Elgin I afgereken ook op Daljosafat. Die besoekers het eerste gekolf en was almal uitgeboender vir 75. Op 61/4 was die Peoples maklik op pad na 'n oorwinning. Na 'n skielike kolfineenstorting was die tuisspan op 72/9, maar Cedric Williams en Jody Carolissen het kop gehou en die wenlopies geslaan met vier balle oor. Die boulwerk van Ricardo Kermis (4/16) en Christo Bothma (3/26) het grootliks tot Elgin se nederlaag bygedra. * Young Peoples I speel Saterdag tuis teen Wellington I, die tweede span speel Sondag weg teen Korrektiewe Dienste en Peoples III speel Saterdag tuis teen Paarl-Oos Polisie III. |
|
|
|
|
DIE Departement van Sport en Ontspanning het onlangs fondse aan die Suid-Afrikaanse Fietsryfederasie (SAFF) gegee waarmee hulle 14 baanfietse aangekoop het. Tydens 'n geleentheid Saterdag in die Paarl het die SAFF dié fietse aan die Boland Fietsry Unie oorhandig om te gebruik in die ontwikkeling van dié sportsoort. "Die SAFF voel dat ontwikkeling van die sport tans baie aandag geniet in die Boland en daarom is daar besluit om die fietse aan die provinsie te skenk," het Eddie Kulsen, voorsitter van die Nasionale Ontwikkelingskomitee en ondervoorsitter van SAFF, tydens die oorhandiging gesê. Hy het bygevoeg dat die Boland tans die enigste provinsie is wat fietsry aanbied vir fietsryers van sewe jaar tot veterane. Daar is baie ryers wat nie 'n baanfiets, wat tussen R1500 en R2000 kos, kan bekostig nie. Die fietse sal hulle die geleentheid gee om met so 'n fiets te oefen, daarmee vertroud te raak en aan baanwedrenne deel te neem. Dat die fietse in amptelike wedrenne gebruik moet word, is een van die voorwaardes waarmee die skenking gepaardgaan. "As 'n klub nie sy verpligtinge teenoor die Unie nakom deur die fietse vir ontwikkeling te gebruik nie, sal die fietse teruggevra word," het Kulsen gesê. Die fietsryklubs van Wellington, Stellenbosch, Yorkshire en Rhadsport in die Paarl het elkeen twee fietse ontvang terwyl Swellendam en Worcester elk drie fietse gekry het. "Ons sal graag wil sien dat Boland weer die top fietsryprovinsie word," het Kulsen gesê. |
|
||||