|
HOëRSKOOLLEERDERS van die Paarl maak vanjaar hul buiging in twee produksies by die Woordfees op
Stellenbosch.
Die produksies, "Dokter Doodmaak" en "Raai, raai riepa!", word aangebied deur Museum Muse, 'n
dramagroep bestaande uit hoërskoolleerders van die Paarl onder leiding van die bekende dramadosent Marie Hammann.
Hul deelname word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl,
wat die groep ook verlede jaar vir vertonings na die Suidoosterfees geneem het.
Die Museum Muse-groep bestaan tans uit die manne James Genis, Matthew Manderson, Denis Lloyd, Arthur
Taylor en Mark Klaaste, almal van Hoër Jongenskool, en die skoner geslag by name van Anita Claasen en Madeleine Abels, van Charleston Hill Sekondêr, Rhonda-Lisa Steinmetz (tuisskool), Lizelle van Zyl
(Hoër Meisieskool Paarl) en Cellie Steinmetz (Hoër Meisieskool La Rochelle).
Die Kinderfees vind op Saterdag 12 Maart in die ACVV-Saal (Merrimanlaan) op Stellenbosch plaas.
Die volledige program sien soos volg uit: Liewe Heksie kom kuier weer (09:30, 45 min, R20), Dokter
Doodmaak (10:20, 35 min, gratis), Pippie Langkous en die Towerfluit (11:00, 45 min, R20), Raai, Raai Riepa! (11:50, 35 min, gratis), Makroman (12:30, 45 min, R20).
"Dokter Doodmaak" is 'n samespraak uit die Afrikaanse Debatsboek (1876-1906) wat in die Paarl in 'n
dokter se spreekkamer afspeel.
Dit handel oor boererate vir alle siektes waaraan jy kan dink - van karkaatjies tot jig en vratjies.
Maar dié Dokter Doodmaak is nie sommer enige dokter nie - gaan besoek hom gerus om te hoor of hy vir
jou 'n medisynetjie aanmekaar kan slaan, dalk selfs vir nie-lus-vir-skool-toe-gaan!
"Raai, raai riepa!" is 'n saamraai-saamspeel-saamlag program met raaisels, idiome en kreatiewe
boektitels, wat saam met die musikante Almuir Botha en Riaan Nieuwenhuis aangebied word.
Besprekings kan gedoen word by 808-2859 en 808-2160 (Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00).
Kaartjies is ook direk te koop by die Kaartjiekantoor, Kamer 682, sesde vloer, Lettere
A-gebou, h/v Merrimanlaan & Van Ryneveldstraat, Stellenbosch.'
|