|
Meesterbouers Assosiasie Boland (beter bekend as MBA Boland), het dit hulle erns gemaak om die tekort aan
geskoolde arbeid in die boubedryf aan te spreek.
In samewerking met Tjeka Training Matters, 'n opleidingsvoorsiener in die konstruksie- bedryf, het MBA Boland na
tien maande se beplanning, 'n suksesvolle aansoek ingedien by die Konstruksie SETA (CETA).
'n Kontrak tussen die CETA en MBA Boland is onlangs onderteken en die eerste fase van die opleiding ter waarde van
R3,2 miljoen, het op 1 Februarie in aanvang geneem en sal strek tot einde Januarie 2006 waarna 'n tweede fase sal begin.
Gedurende die eerste fase sal Erkenning van Vorige Leerervaring (EVE of RPL) aan 900 kandidate beskikbaar
wees.
EVE behels die evaluering van die bouwerker om vas te stel wat sy vlak van ontwikkeling is en indien nodig sal hy
dan verdere opleiding ontvang wat kan lei tot 'n erkende kwalifikasie.
Die evaluering strek oor hoogstens drie dae en kan gedoen word by Boland Kollege, met wie Tjeka 'n ooreenkoms het,
by die Paarl, Helderberg en Caledon kampusse.
Die EVE evaluering is beskikbaar vir messel-, pleister-, timmerman-, loodgieter-, verf- en teëlwerk.
'n Verdere afdeling van fase een is dat veiligheidsopleiding aangebied gaan word.
Dit behels die opleiding van eerstehulp-persone, veiligheidverteenwoordigers en veiligheid-induksie aan alle
bouwerkers op bouterreine.
Alle bouwerkers wat aan hierdie programme deelneem, sal ook 'n verpligte HIV/Vigs bewusmakingsprogram moet bywoon.
Die evaluering en opleiding is gratis en alle werkgewers en werknemers in die boubedryf word aangemoedig om van
hierdie geleentheid gebruik te maak.
Volgens Deon Roux, President van MBA Boland, is dit 'n gulde geleentheid vir werkgewers om hulle werkers te
ontwikkel.
"Tjeka se nuutgevestigde opleidingsfasiliteit in die Paarl asook die fasiliteite van Boland Kollege by hulle
onderskeie kampusse maak opleiding en ontwikkeling van die menslike hulpbronne meer toeganklik aangesien dit die hele Boland en Overberg gebied dek."
"Die feit dat drie vakunies in die boubedryf ook betrokke is by die bestuur van die projek is vir ons verblydend
aangesien hulle die nuus dat opleiding uiteindelik beskikbaar is aan die werknemers, kan uitdra," aldus Roux.
Vir navrae skakel 976-8057.
|