|
MET Steve Hofmeyr se vertoning by die amfiteater het ek vir my 'n piekniekmandjie en 'n bottel wyn saamgeneem om voor die vertoning
te geniet.
Verlede Saterdagaand met "Drie van die Bestes" se optrede, het hulle my egter by die ingang meegedeel dat ek nie wyn mag inbring
nie.
Ek kon nie die wyn in my motor gaan sit nie, aangesien ek my motor 'n kilometer ver by Laerskool Courtrai gelos het. Die wagte by
die hek wou ook nie die wyn vir my hou tot ná die vertoning nie.
Ek het dit oorweeg om maar terug te gaan huis toe, maar hulle wou ook nie my kaartjies se geld teruggee nie. Al keuse was dus dat
ek die wyn op die grond moes laat uitloop.
As die organiseerders so besluit het, sal ek hulle besluit respekteer. Wat my wel ongelukkig maak, is dat hulle nie konsekwent
opgetree het nie.
Waarom laat hulle my by die Steve Hofmeyr vertoning toe om wyn in te neem, maar nie verlede Saterdag nie.
Vooraf is daar baie oor kunstenaars se optrede in die media geskryf. Waarom het die organiseerders nie daarin gemeld dat wyn nie
toegelaat sou word nie.
Toe ek by 'n sekere ingang wou ingaan, is ek voorgekeer en ingelig dat dit net vir VIP persone is. Waarom moet hulle 'n mens soos
'n gek laat voel? 'n Kennisgewing met die woorde "slegs vir BBPs" voor die ingang kon baie mense die verleentheid gespaar het.
Van die wagte wat daar gewerk het, het ook nie die nodige temperament om met mense te werk nie. Ek het gesien hoe 'n
niksvermoedende man wat by die sogenaamde VIP ingang ingestap het so hard van agter af deur 'n wag aan sy hemp getrek is dat sy hemp geskeur het.
Ek waardeer wat die organiseerders vir die Paarlse gemeenskap gedoen het met die vertonings en hoop dat hulle daarop sal voortbou.
Ek wil egter net hê hulle moet weet dat daar baie ander mense is wat ook hieroor ongelukkig is en dat die ongelukkigheid maklik
opgelos kan word.
JA Muller, Paarl
Die organiseerder, Gerhard Meyer, reageer: Dankie dat u die optrede bygewoon het.
Die perseel is gelisensieer om wynkelders in staat te stel om hul wyne teen baie billike pryse te verkoop. As gelisensieerde perseel laat ons nie drank
van buite toe nie.
Dit was ook die reëling met die vorige konsert, maar die sekuriteit wat toe aan diens was, het dit nie konsekwent toegepas nie, dus het ons hul vervang
met die optrede van Drie van die Bestes.
Die BBP ingang was wel van 'n bord voorsien, maar is die vorige aand gesteel en kon nie betyds vervang word nie.
Rakende die klagte van die sekuriteitpersoneel se optrede, kan ek noem dat die betrokke maatskappy se personeel by talle van die vernaamste feeste diens
doen en gereken word as een van die beter maatskappye.
Ek dra nie kennis van enige klagte wat ontvang is van 'n persoon se hemp wat geskeur is nie, maar indien ek dit ontvang, sal ek dit dadelik oorhandig
aan die hoof van die sekuriteitsmaatskappy aangesien sulke optrede nie aanvaar word nie.
Ek hoop dat u die volgende reeks konserte wat vanaf 25 Nov plaasvind weer sal bywoon en versoek ek u vriendelik om maar eerder u bottel wyn by een van
die Paarl Kelders se stalletjie aan te skaf. Dankie vir u terugvoering.
|