|
Danksy 'n ruim skenking van meer as
R886 000 van die Nasionale Lotteryfonds sal die Wellington Vereniging vir Bejaardes vanjaar talle projekte kan aanpak om hul diens aan hul lede en die gemeenskap uit te brei.
Volgens Lena Kroneberg, bestuurder van die
Vereniging en die Gemoedsrus Dienssentrum, is hierdie skenking uiters welkom omdat dit "soms maar meet en pas gaan" om planne te kan laat realiseer.
Die skenking gaan onder meer aangewend word vir die inrig van ses woonstelle
vir bejaarde egpare agter die Abbeyfield Tehuis, asook die indiensneming en toerus van twaalf tuisteversorgers vir 'n jaar, wat 'n versorgingsdiens aan verswakte pasiënte in hul eie wonings kan bied.
Dit is reeds die derde keer dat die Wellington Vereniging vir Bejaardes baat uit die Lotto.
Fondse vir die maandelikse bedryf van sy dienste word ook ingesamel deur die lede self, wat onder meer betrokke is
by die jaarlikse debutantebal en Valentynsdagvieringe.
Hul bedrywighede word ook moontlik gemaak deur donasies, asook subsidies van die provinsiale Departement van
Welsyn, die Drakenstein Munisipaliteit, die Distriksmunisipaliteit en FNB Fonds.
"Danksy ons donateurs kon ons oor die jare regkry wat ons reggekry het," vertel 'n dankbare mev Kroneberg.
Gemoedsrus, wat in die statige Wellington Gemeenskapsentrum oorkant die Wellington Verkeersdepartement gehuisves
word, bied reeds die afgelope 24 jaar heelwat aktiwiteite en dienste aan sy meer as 60 senior lede.
Uitstappies
Dit sluit in gereelde uitstappies, 'n jaarlikse toer, gesellighede, speletjiesoggende, handwerk en sportoefeninge.
Daar is 'n bloeddruk- en suikertoetsdiens, terwyl daar ook vir lede se voorkoms gesorg word deur 'n voetesorgdiens en
'n gereelde haarkapper.
Lede kom elke Dinsdag, Woensdag en Donderdag om 09:00 byeen by die Wellington Gemeenskapsentrum, en die maandelikse
ledegeld is R3.
Vir meer inligting kontak die bestuurder Lena Kroneberg by 873-6530.
|