safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 24 June 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 1 July  2004 at 17:30

Aida

Sport


Oplaas 'n wen

[ Top ]


NA 'n droogte van 12 jaar het Young Peoples Rugbyklub Vrydagaand weer gejuig toe hulle hul 14de jaarlikse Rea-Konstruksie/Young Peoples sewestoernooi gewen het.

Die Tiere kon welverdiend die trofee omhoog hou, nadat hulle in 'n strawwe eindstryd vir Paarl 22-17 geklop het.

Die wedstryd het as 'n hou-vir-hou scenario afgespeel, met éérs die een span en dan die ánder wat agter die doellyn gaan kuier.

Hoewel Peoples teen rustyd 12-10 voor was, het dit min vertroosting gebring, aangesien Paarl in die halfeindstryd gewys het dat hulle 'n span vir die groot oomblik is deur Albions 19-17 te klop met 'n drie in die laaste sekondes.

Dit was egter 'n drie deur Peoples se Ben Martin, wat hyself verdoel het, wat die titel vir die gasheerspan beklink het.

wPETfc

GLIBBERIG. Peoples se Ashlyn Snyers probeer 'n Paarl-verdediger afskud in die bekereindstryd van Young Peoples se sewestoernooi wat Vrydagaand op Daljosafat gespeel is.

In die plaateindstryd het Vineyards vir Riverstones 14-0 geklop.

Dit moet egter genoem word dat Riverstones slegs vyf minute ná hul plaathalfeindstryd teen Allandale, wat hulle 10-5 gewen het, weer moes opdraf om Vineyards die stryd aan te sê.

Kyk mens egter na die spanne in die plaatkompetisie was Vineyards die verdiende wenner, met 'n naelskraapse nederlaag teen Paarl (21-19) en daarna 'n oortuigende 17-5 sege oor Violets.

In die skolekompetisie was dit ooglopend dat New Orleans en Charleston Hill die twee sterkste spanne was. Dié twee het dan ook mekaar in die eerste wedstryd gepak, met New Orleans wat 17-12 baas was.

In die tweede uitspeelwedstryd het Paulus Joubert vir Noorder-Paarl 17-10 geklop.

Albei eindstryde was 'n eensydige affêre met Charleston Hill wat Noorder-Paarl 31-5 afgeslag het in die plaatfinaal en New Orleans wat Paulus 35-5 oorrompel het.

Die volledige uitslae is: Paarl k Vineyards 21-19, Albions k Violets 28-0, Blues k Allandale 22-5, Peoples k Riverstones 10-0, Paarl k Albions 19-17, Peoples k Blues 17-7, Vineyards k Violets 17-5, Riverstones k Allandale 10-5. Plaatfinaal: Vineyards k Riverstones 14-0. Bekerfinaal: Peoples k Paarl 22-17.


Beseringspook pla Kavaliers

[ Top ]


DIE Boland Kavaliers het twee nederlae gelei in hul opwarmingswedstryde, maar die span se voorbereiding vir die Curriebeker-kompetisie is goed op dreef.

Die Kavaliers het verlede naweek in Bloemfontein 69-19 teen die Cheetahs verloor en Saterdag weer 27-13 teen die SWD Arende vasgeval.

Hulpafrigter van die Kavaliers, Denver Pienaar, sê egter dat mens jou nie aan dié uitslae moet blind staar nie.

"Daar is tans nog baie spelers wat beseer is. Ons het die opwarmingswedstryde gebruik om heelwat proefnemings met jong spelers te doen," het Pienaar gesê.

Hy het bygevoeg dat die span reeds vier dae voor die wedstryd na Bloemfontein is, waar hulle 'n oefenkamp deurgemaak het.

"Ek dink die spelers was redelik tam van die harde oefeninge toe hulle die wedstryd teen die Cheetahs ingegaan het."

Hy was veral ingenome met die Kavaliers se spel in die eerste helfte teen die SWD Arende.

"Die jong spelers het gewys dat ons oor 'n sterk reserwe-krag beskik. Veral Bronwin Julies (jonger broer van die Springbok, Wayne Julies) op heelagter, Jaco du Toit (flank) en Michael Noemdoe (slot) het 'n baie goeie wedstryd gehad," het Pienaar gesê.

"Bronwin het tot dusver vir die Boland o.20 span gespeel, maar rugby verlede jaar eers op die agtergrond geskuif om op sy studies te fokus. Hy is egter nou volstoom terug."

Ander jong spelers wat ook belowend lyk, is Ryno Benjamin (senter, Saldanhabaai), Brendon April (vleuel, Roses United) en die agsteman van Wellington Rugbyklub, Paul Bester.

In 'n poging om groter diepte op die losskakel-posisie te skep, is die vleuel Malan du Plessis teen die Arende op dié posisie ingespan.

"Hy het hom heel goed van sy taak gekwyt. Dit is goed om nog 'n speler te hê wat op losskakel kan speel," het Pienaar gesê en bygevoeg dat die beseerde spelers wat die nommer 10-trui dra, Solly Goosen (vinger) en Patrick Pietersen (knie) weer fiks sal wees vir die eerste Curriebeker-wedstryd.

Jacques Badenhorst (senter), Henk Eksteen (slot), Chris Potgieter (flank), Antonius Verhoeven (heelagter) en Dawid de Villiers (senter) is nog almal op die krukkelys.

De Villiers is egter die enigste een wat nie vir die Kavaliers se eerste kragmeting teen die Griffons op 10 Julie op Wellington sal fiks wees nie.

* Die Boland Provinsiale Amateur span (voorheen Boland A-span) sal Saterdag om 16:00 op Robertson teen hul eweknieë van OP kragte meet.


Roses stormloop oor Saldanhabaai

[ Top ]


DIE manne van Saldanhabaai ken seker rowwe waters, maar niks kon hul voorberei op Roses United wat Saterdag soos 'n verwoestende golf oor hulle gespoel het nie.

Roses het die besoekers 56-17 vernietig, maar die skrif was reeds teen halftyd aan die muur met die telling op 39-3.

Die eerste helfte is gekenmerk deur goeie samespel en lopies tussen voor- en agterspelers.

'n Goeie beweging wat begin is deur die voorspelers is pragtig afgerond deur die kaptein, Michael Abrahams (flank), wat die eerste van die tuisspan se nege drieë gedruk het.

Dit was egter Roses se agterlyn wat die groot angel was. Die agterspelers het met spoed, vaardighede en hegte verdediging die toeskouers telkens op hul voete gehad en sewe drieë gedruk.

Igie Korabie (agsteman), Monrico Morris (skrumskakel), Claude Arendse (senter) en Earl Manie (heelagter) was Roses se uitblinkers. Arendse, Abrahams (2), Manie (2), Brandon April (2), Deon Williams en Jacquen Rutford het drieë gedruk. Danie Roeman het met 'n doelskop en 'n skepskop geslaag.

Roses II en III het 37-14 gewen en 10-10 gelykop gespeel.


Boland,WP langasems weeg mekaar

[ Top ]


DIE grootste stryd in vanjaar se Wes-Kaap Landloopkampioenskappe wat Saterdag in die Paarl gehou word, sal beslis heers onder die mans-atlete.

'n Sterk Boland-span van 300 atlete sal Saterdag by die Boland Park krieketgronde teen die WP en SWD te staan kom.

Die wedloop word jaarliks gehou om atlete te help met voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskappe wat vanjaar in September gehou word.

Dit is veral in die junior manskategorie en die 4km mansafdeling waar daar 'n groot aanslag van die WP verwag word.

Johan Landsman wat aanvanklik gekies was vir die 12km Boland-span, het aangedui dat hy eerder in die 4km wedloop wil deelneem.

Die res van die 4km Boland-manspan wat nou gelei sal word deur Landsman, die SA-rekordhouer in die 1500m, is Alphonso Primo, Patrick Klaasen, Ashley Mapisa, Corné Muller en Patrick van Rhyn.

Landsman maak geen geheim daarvan dat dié span 'n goeie kans het om die Suid-Afrikaanse kampioenskappe te wen nie.

Daar sal egter ook hard gespook word onder die junior mans. Beide dié junior spanne van die Boland en die WP spog met 'n sterk span en toeskouers kan uitsien na 'n harde kragmeting tussen die twee provinsies se atlete.

Die program is: 10:30 m.9jr, 10:40 s.9jr, 10:50 m.11jr, 11:10 s.11jr, 11:20 m.14jr, 11:30 s.14jr, 11:45 m.16jr, 12:00 s.16jr, 12:15 m.10jr, 12:20 s.10jr, 12:25 m.12jr, 12:35 s.12jr, 12:45 m.13jr, 12:55 s.13jr, 13:05 m.15jr, 13:15 m.16jr, 13:30 m.17jr/vet/mstr, 13:50 s.17jr/groot mstr, 14:10 jnr vroue, 14:30 jnr mans/vet, 14:50 snr vroue 4km, 15:05 snr mans 4km, 15:20 snr vroue 8km, 15:40 snr mans 12km.


Haar doel is die hokkieveld

Leon Steenkamp

[ Top ]


SY is nou maar eers 15 jaar oud, maar Shirlynn Smith het al reeds gewys dat sy behoorlik tuis is op 'n sportveld.

Smith, 'n graad 10 leerder van New Orleans Sekondêr, is vanjaar weer in die Boland o.16 hokkiespan opgeneem, 'n prestasie wat sy verlede jaar as 14-jarige ook behaal het.

Sy speel egter al sedert sy 10 is vir haar 'n plek in die Boland hokkiespan oop.

In 2002 is sy tydens die SA kampioenskappe as belowendste speler aangewys nadat sy die meeste doele in die toernooi, 11, aangeteken het.

Behalwe vir haar insluiting in die Boland-span het sy verlede jaar ook haar skool se sege in hul derby-kragmeting teen Klein Nederburg verseker, toe sy die wendoel ingeskiet het.

Dit is dus geen wonder dat sy as New Orleans se beste hokkiespeler en beste meisie-atleet van 2003 aangewys is nie.

Die mooi donkerkop se vermoë om bogemiddeld te presteer word duidelik verder geïllustreer met haar plek in die senior span van die Paarl Vrouehokkieklub. Sy speel vleuel en teken weekliks vir die klub doele aan.

Shirlynn is ook 'n kranige atleet en is tans die Boland o.15 200m kampioen met 'n tyd van 25,9s.

In 2003 was sy die 200m en 400m o.14 Boland-kampioen en atleet van die dag by die Tradisionele Byeenkoms toe sy die 200m en 400m gewen het en ook deel was van die seëvierende 4X100m en 4X400m aflosspanne.

Shirlynn is ook in 2001 as beste junior atleet van haar atletiekklub, Metropolitan, aangewys.

Sy is tans lid van 'n groep atlete van die Wes-Kaapse Sentrum van Uitnemendheid.

Op akademiese vlak staan sy ook vir niemand terug nie.

Verlede jaar is sy as een van New Orleans se top tien graad 9-leerders aangewys, 'n posisie wat sy vanjaar in haar nuwe standard volhou.

Shirlynn probeer om 'n balans te handhaaf tussen haar sport en akademie aangesien sy graag ná skool Sportwetenskap by Maties wil studeer.

Haar sukses op die sportveld en in die klas is te danke aan haar hardwerkendheid, doelgerigtheid, goeie maniere en baie dissipline asook die wil om voordurend te leer, sê haar afrigters Raymond Julius. en Charlene Lourens.

Hoewel sy haar voluit uitleef in hokkie sowel as atletiek sal Shirlynn dalk binnekort moet kies tussen die twee, iets waarna sy nie baie uitsien nie.

Haar groot mikpunt nou is om die SA o.16 skolehokkiespan te maak.

"Dit sal die bewaarheid van 'n droom wees, as ek gekies word vir die span," sê sy. "Ek speel elke wedstryd en hardloop elke wedloop asof dit my laaste is.

"Ek streef altyd vir die onmoontlike, daardeur bereik ek die moontlike," sê Shirlynn.

Sy sien haarself as 'n professionele SA-hokkiespeler wat SA by die 2008 Olimpiese Spele in Beijing wil verteenwoordig.

Hoewel sy besef dat dit baie werk gaan kos, is Shirlynn glad nie bang vir die uitdaging nie.

"Op die sportveld het ek my afrigters, maar tuis is my ma my rolmodel. Sy inspireer en motiveer my omdat sy glo 'wat jy insit, sal jy uitkry'. Ek bewonder my ma verskriklik vir haar toewyding as atleet en as moeder is sy my steunpilaar."

En wat dryf Shirlynn om voortdurend haar beste te gee?

"Die feit dat ek weet wat ek uit die lewe wil hê en alles in my vermoë wil doen om dit te bereik. My leuse is: 'You have not lived in the world of competitive sport until you have fought a battle that is not against an opponent, but against yourself.'"


Rangers knip Gardens kort

[ Top ]


NAGENOEG 500 toeskouers het Saterdag die toets tussen die Bokke en die Iere opsy geskuif om die derby-stryd tussen Paarl Rangers en Young Gardens op Faurestraat Stadion te aanskou.

Die toeskouers was ook nie teleurgestel nie en die drieë het gevloei in Rangers se 49-19 (31-12) sege.

Gardens het die afgelope twee jaar koning gekraai in dié feeswedstryd en ook in die ligawedstryde toe die twee klubs verlede jaar in dieselfde liga gespeel het. Rangers was dus oorgehaal om die bordjies te verhang.

Gardens se tweede span het vanjaar die eerste ronde van die derde liga gewen en as beloning is hulle Saterdag ingestuur om die klub se eer teen Rangers te verdedig.

Die eerste kwartier het redelik gelykop verloop, met elke span wat sewe punte aanteken.

Rangers het egter stelselmatig die krane begin oopdraai en die ietwat onervare span van Gardens moes kwaai wal gooi.

Die Rooi Rose kon egter nie die aanvalle stuit nie en Rangers druk vyf drieë teenoor hulle twee voor rustyd.

In die tweede helfte lei Rangers se oorgretigheid tot te veel hanteerfoute, maar druk hulle tog nog twee drieë. Gardens word 'n strafdrie toegeken wat verdoel word.

Jacques Pekeur, Johannes van Reenen (2), Derrick Solomons en Ashley Jacobs (3) het Rangers se drieë gedruk.

Melvin Hermanus slaag met vier doelskoppe en twee strafdoele.

Curt Lewis en Jeremy Kiko het Gardens se drieë gedruk. Tino Prins en Rodger Cupido het elk 'n doelskop oorgeskop.

Johannes van Reenen is as speler van die toernooi aangewys.

Gardens II wen 32-5, Rangers III wen 12-5, Rangers se veterane wen 5-3 en hul vroue wen ook 24-0. Rangers speel Saterdag weg teen Scottsdene. Die bus vertrek om 11:30 vanaf Groenheuwel.  


Wellington bo, Newtons verras

[ Top ]


DIE eerste span van Wellington Rugbyklub het Saterdag hulle onoorwonne opmars na die Superliga A1-titel voortgesit toe hulle vir Wesbank 36-8 geklop het.

Wellington, eerste ronde wenners van die Boland Superliga A1, het op Malmesbury voorlangs die fondament gelê vir hul oortuigende sege.

Dit was veral die inklimspel van stutte Ruaan du Preez en Janroux van Niekerk wat die tuisspan laat klippe kou het, terwyl Wynand Smit (slot) goeie besit in die lynstane verseker het.

Weens die verskuiwing van die SuperSport Klubkampioenskappe na 'n later datum, sal die algehele wenner van die Superliga A1, in September aan dié toernooi deelneem, en nie soos in vorige jare die wenner van die liga se eerste ronde nie.

Wellington speel Saterdag 13:00 tuis teen 'n toerspan van die Universiteit Edinburg, Skotland.

* 'n Strafdoel in die doodsnikke van 'n spannende wedstryd het Saterdag vir Newtons 'n sege verseker teen Citrusdal op Newton Park.

Die tuisspan se held was losskakel Reggie Manuel, wat dié belangrike skop in beseringstyd oorgeskop het.

Citrusdal, huidige voorlopers in die Superliga A2, het vroeg die gang van die wedstryd bepaal en met rustyd 6-0 voorgeloop.

Newtons het egter in die tweede helfte beheer oorgeneem en die vleuels Chester Cupido en Elton Jones, druk twee goeie drieë ná puik agterlynbewegings. 'n Verdere strafskop deur Manuel bring die telling op 13-6 te staan.

Namate die uurglas vinnig leegloop, slaan die besoekers terug met 'n onverdoelde drie om sake gelyk te maak. Met die spanning wat opbou, kry Newtons die strafskop en beklink Manuel se skopskoen die wedstryd vir die tuisspan.

Roderick Loverlot (haker), Mark Arendse (flank) en Roderick Demas (slot) was Newtons se ander uitblinkers.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]

[ Top ]