|
DIE verteenwoordigende organisasie vir die land se wynprodusente, wat KWV se vorige rol in hierdie verband oorgeneem het, het nou sy volle beslag gekry met die registrasie van sy naam.
Die organisasie het die afgelope ses maande voorlopig onder die naam Wijngaard Koöperatief Beperk funksioneer, sedert daar verlede jaar finaal besluit is om die paadjies van KWV Groep en sy koöperatiewe lede met gepaardgaande diensfunksies te skei.
VinPro was wel die vorige naam van die dienstedivisie waaruit hierdie nuwe onafhanklike wynprodusente-organisasie ontwikkel het.
Na omvattende kommunikasie tussen die direksie, bestuur en lede in die afgelope ses maande, is daar besluit om na hierdie naam terug te keer, maar wel met 'n nuwe logo, 'korporatiewe' kleure en die slagspreuk "Vir Kaapse Wynprodusente".
Die bestuur en die direksie het onlangs 'n reeks van nege "distrikskonferensies" gehou waar indringende gesprekke oor die organisasie se rol gevoer is met die oog op sy 5 000 lede, voorheen KWV-lede, se sukses oor die lang termyn.
"Dit is die VinPro-span se erns om die produsente by te staan om te groei tot 'n posisie van finansiële volhoubaarheid," het Jos le Roux, uitvoerende hoof, gesê.
VinPro se standpunt is dat die wynbedryf op drie hoekstene rus, naamlik die mark, die ekonomie en tegnologie (wat navorsing, ontwikkeling en die oordra van inligting insluit).
Relevante inligting sal deurlopend deur verskillende kommunikasiekanale aan VinPro se lede oorgedra word sodat hulle dit na gelang van hul behoeftes sal kan toepas.
VinPro dien ook as die verteenwoordigende liggaam as dié spreekbuis wat in belang van produsente optree en die organisasie word verteenwoordig deur die vyf lede van die "Produsentekamer" van die SA Wyn- en Brandewynmaatskappy wat die totale wynbedryf se belange en aksies koördineer en beplan.
Die organisasie hanteer ook direk, via sy direkteure, bestuur en konsultante die wynprodusente se verteenwoordiging in nagenoeg 30 sleutelinstansies, onder andere in die georganiseerde landbou, die regering, opvoedkunde en navorsing.
VinPro bestaan tans uit die afdelings VinPro Wingerdbou-konsultasiediens, Landbou-ekonomiese Diens, Finansies, Inligtingsdiens, Sekretariaat en Logistiek en WynLand Publikasies - met 'n totale personeel van 23 wat in die Paarl gestasioneer is.
Die VinPro-direksie bestaan uit nege direkteure, verkies uit die onderskeie distrikte, plus die uitvoerende hoof en 'n gekoöpteerde spesialis, onder die voorsitterskap van Danie de Wet, met Johann Krige as ondervoorsitter.
De Wet het in 'n onderhoud beklemtoon dat "die wynboer sal slegs kompeterend in die internasionale markte kan bly indien hy tegnologies met sy konkurrente kan kers vashou."
* Wine producers have voted for the name of Vinpro to be retained. |