|
|
 |
Nuus - News |
|
Kind sterf na skoot op ma |
 |
 |
 |
|
Malané Bosman |
|
|
|
 |
'n DOGTERTJIE het die naweek in Groenheuwel gesterf toe die koeël wat deur haar ma se skouer getrek het, in haar bors vasgeslaan het.
Kelly-Lee Hendricks (3) het onder komberse op die bed agter haar ma gelê toe die skoot uit haar pa se rewolwer Saterdagnag om 01:40 afgegaan het.
Haar pa, buurtwaglid Leslie Hendricks, het later aan die polisie gesê hy was uit en wou met sy terugkoms die vuurwapen bêre toe die skoot in die gesin se woning |
 |
|
GELUKKIGER DAE. Kelly-Lee Hendricks (3) is in haar ma, Devinia, se bed doodgeskiet. |
|
|
 |
 |
|
in Candicestraat afgegaan het. 'n Buurman het met die dogtertjie na die Paarl Hospitaal gejaag, maar sy was dood toe hulle daar aangekom het. |
|
 |
 |
|
Haar ma, Devinia Hendricks, is per ambulans na die hospitaal geneem. Sy is Maandag geopereer nadat die koeël haar sleutelbeen versplinter het.
Die egpaar se ander dogter, Jennilie (7), was nie in dieselfde kamer toe die skoot geklap het nie. Sy is ongedeerd en word tydelik deur haar familielede versorg.
Leslie (30), 'n verwer, is op 'n aanklag van moord en poging tot moord in hegtenis geneem. Hy bly voorlopig in aanhouding.
Volgens speur-insp John Barties word begrafnisreëlings vir volgende naweek gemaak.
"Ons wag vir die uitslag van Leslie se borgaansoek, en vir my suster Devinia om uit die hospitaal ontslaan te word," het Barties gesê.
Vriende wat die beseerde vrou na die hospitaal vergesel het, moes haastig na hul huis terugkeer toe hulle meegedeel is dat daar in hul afwesigheid ingebreek is.
Andrew en Karen Jacobs van Denise Close het hul voordeur oopgesluit en geskok in hul woning ingestap. Diefwering is van 'n venster weggebreek en die huis was in wanorde.
'n Mikrogolf, selfone, videomasjien, toebroodjierooster, skoene, vleis, lekkers, sigarette en kontant is uit die woning, waar 'n tuiswinkel bedryf word, gesteel.
'n Fiets en die televisiestel was reg neergesit om weggedra te word. Dit was egter te groot om ook deur die venster te pas.
Van die gesteelde goedere is in 'n gordyn opgerol in 'n veld agter die woning ontdek waarheen dit gedra is nadat die booswigte 'n heiningdraad platgetrap het om toegang tot die erf te verkry.
"My trouring en horlosie, wat ons net so gelos het die nag toe ons hospitaal toe is, is ook weg," het 'n ontstelde Karen gesê.
Dit is die tweede keer dat daar ingebreek word, en die Jacobs-egpaar dink nou daaraan om die huis te verkoop.
Die buurtwag het Saterdagnag reeds verdagtes geïdentifiseer. Speur-insp Daniel Jansen en sy kollegas het onmiddellik die spoor gevat en moontlike afsetgebiede vir gesteelde goedere besoek.
"Aankopers van gesteelde eiendom sal vervolg word," het die polisie gewaarsku. Skakel insp Jansen (807-4000) met inligting.
* A three-year-old died after being struck by a bullet fired at her mother. |
 |
|
|
|
|
Hostage freed in police rescue |
 |
 |
 |
|
Malané Bosman |
|
|
|
 |
IN a daring rescue, heavily armed police freed a young man suspected of assault and held captive by Mbekweni residents, from a house in the township on Monday.
Hundreds of onlookers gathered around |
 |
 |
|
|
STEADY. His head and hand bandaged after an attack, Elvis Vuthela attempts to pacify the crowd calling for the immediate punishment of the alleged assailant. Police later stormed the house to free the trussed-up hostage. Pic: Malané Bosman |
|
|
 |
House 2504 in Phola Park as police negotiated with the assault victim and his supporters to hand over the hostage.Police vans barricaded the street and officers took up position while Captains Klaas Cloete and André Roziers tried a calm approach. |
|
 |
 |
|
People scattered in all directions when two shock grenades were fired outside the front gate.
Policemen scaled the high fence, fought off residents in the yard and barged through the front door as several stones were hurled at them.
Within seconds the hostage, his head and body covered in dried blood from injuries, was carried from the house to a waiting police van.
A long rope that had earlier been coiled around the man's neck, torso and legs, trailed behind the officers. Mayedwa Ndimbaza (22) was rushed to Paarl Hospital.
Angry residents, some armed with knobkieries, claimed they were "fed up with the justice system".
They shouted abuse at the police, but calmed down when the owner of the house, Elvis Vuthela (52), and his family members left for the police station.
Statements taken from the claimants were immediately acted on, and two further suspects were arrested in Fairyland within hours.
The hostage drama had started with the attack on Vuthela and his wife Flora in Fairyland on Sunday.
They had been delivering groceries when they were approached by strangers who allegedly tried to steal their car.
In the ensuing struggle Vuthela sustained stabwounds to his head. He was taken to hospital, where his head was bandaged before he released himself.
With the assistance of supporters, Vuthela tracked down one of the men suspected of assaulting him in Fairyland, and brought him to Phola Park.
According to police, they acted when informed that Mbekweni residents had gathered at the house and that a suspect was being "punished by vigilantes".
Ndimbaza and two alleged accomplices have been charged with assault and attempted car theft.
Charges of public violence, abduction and assault are also being investigated. |
 |
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
"MY seun sou nooit aan enigiemand slaan nie. Waarom sou hy nou ewe skielik in die afgelope ses maande in 'n aggressiewe persoon ontaard?"
So sê Rachel Hendricks, ma van Dean Hendricks, die Paarliet wat vier weke gelede so erg by die Polisiekollege in Graaff-Reinet aangerand is, dat hy breinskade opgedoen het.
'n Onderonsie vroeër dié dag tussen Dean, 'n student aan die kollege, en 'n instrukteur tydens 'n uitstappie het glo gelei tot dié voorval.
Dean is tans in 'n rehabilitasiesentrum in Parow. Dokters is nog nie seker of die skade permanent is nie.
Die Hendricks-gesin is gebroke oor wat gebeur het. Van die stil seun wat in 1997 as matrikulant by Klein Nederburg Sekondêre skool 'n A-gemiddeld behaal het en 'n kranige sokkerspeler was, is daar nou 'n jongman oor wat uit karakter onophoudelik babbel en skaars sy eie skoenveters kan vasmaak.
Vanuit hul sitkamer in Springbokstraat, sukkel Rachel om die regte woorde te vind en laat liewer haar suster, Theresa Andrews, die hele storie vertel.
"Ons moes van een van sy medestudente se ouers dié skokkende nuus verneem," het Theresa vertel.
"Ons het onmiddellik Port Elizabeth toe gery waar hy in die hospitaal was. Ons het nie eens blyplek gehad nie en moes rondval, maar gelukkig kon vriende ons akkommodeer.
"Ons was dag en nag aan sy sy en glo dat dit net deur ons gebede is dat hy oorleef het.
"Toe ons hom vir die eerste keer sien na die aanval, was sy gesig onherkenbaar geswel. Ook sy keel was geswel weens verwurging en daar was 'n sigaretbrandmerk op sy voorkop.
"Hy was blykbaar met geweld teen 'n muur vasgeslinger, soveel so dat sy valstande uit sy mond gebreek was.
"Hy moes vir byna 'n halfuur daar in die gang gelê het na die aanranding. Iemand het sy kamermaat kom inlig dat dit lyk asof dit Dean is wat daar in die gang lê.
"Dean kan niks van die voorval onthou nie. Hy praat nog baie deurmekaar. Soms sal hy ons name vergeet en dit dan ewe skielik weer onthou."
Hulle beoog stappe teen die Polisiekollege. Die instrukteur is verplaas na Uitenhage, totdat die ondersoek afgehandel is.
Haar ouer seun, Clive, 'n prokureur in Kuilsrivier, hanteer maar al die onderhandelinge met die kollege.
Personeel by die Luthando Sentrum vir Verswaktes by Sonstraal Hospitaal in Paarl, waar Dean vir sewe maande diens gedoen het, het hom as 'n "stuk goud" beskryf.
"Hy sou nooit 'n vlieg seermaak nie.
"Hy was so betrokke by die pasiënte, hy het hulle gevoer, geselskap gehou, skottelgoed gewas en was selfs bereid om sommige Sondae te kom werk.
"Ons was almal geskok toe ons hoor wat met hom gebeur het," het verpleegster Hendriena Witbooi gesê.
Rachel sê, "Geregtigheid sal geskied, maar dit sal niks verander aan sy toekoms nie, dit kan hom nie teruggee wat hy verloor het nie.
"Hy is so 'n onafhanklike persoon, dat hy dit nie sal kan hanteer as hy gedurig opgepas moet word nie."
* A Paarl woman is distraught after an assault on her son at the Graaff-Reinet police college caused brain damage. |
 |
|
|
|
 |
Werkers, Metrorail haaks na ongeluk |
|
|
 |
|
 |
 |
|
TWEE werknemers van Metrorail het bedank uit ontevredenheid oor die hantering van die ondersoek na die Muldersvlei treinramp vroeër vanjaar.
Die United Transport and Allied Trade Union (Utatu) het 'n dispuut met Metrorail verklaar vir die beweerde "konstruktiewe afdanking" van die twee werknemers.
'n Kommissie van ondersoek het onlangs bevind dat die treindrywer verantwoordelik gehou moet word vir die ongeluk op 7 Januarie waarin tien pendelaars gesterf het.
Utatu aanvaar nie die bevinding nie.
"Die konstruktiewe afdanking van Leon Ackerman en Hennie Pretorius word uitgedaag," lui 'n verklaring van Utatu.
"Hulle het bedank omdat die situasie waaronder hulle moes werk onuithoudbaar geword het.
"Hulle is nie bereid om te werk vir 'n maatskappy wat nie feite wil openbaar nie, veral met verwysing na die Muldersvlei ongeluk," het Utatu se algemene sekretaris Chris de Vos gesê.
Volgens De Vos het Metrorail geweier dat die vakbond deelneem aan die ondersoek en dus is "die inligting wat Ackerman en Pretorius kon openbaar rakende die drywer se geestestoestand, nie in ag geneem nie."
Daar was na bewering bewyse dat die drywer aan spanning gely het na die dood van sy vrou en dat sy toesighouer hom nie moes toegelaat het om sy normale dienste voort te sit nie.
"Dit is moeilik om die bevindinge van die ondersoek te aanvaar en daar sal altyd vrae wees.
"Solank as wat die firma vinger kan wys na werknemers, voel hulle tevrede.
"Hulle het hul swartskaap en kan agteroor sit en wag vir die volgende ongeluk om te gebeur, in plaas daarvan om met ons te praat en te help om toekomstige ongelukke te verhoed."
De Vos bevraagteken ook die regering se onwilligheid om die verslag oor die Charlottedale treinongeluk in KwaZulu-Natal verlede jaar, waar 24 mense gesterf het, openbaar te maak.
"Indien daardie verslag bekend gemaak is, kon dit dalk die Muldersvlei ongeluk verhoed het," het hy gesê.
Mervyn Matthee, die Muldersvlei rampdrywer, is sedert die begin van Julie terug by die werk, maar in 'n administratiewe posisie, en nie agter die stuur van 'n trein nie.
'n Dissiplinêre verhoor sal gehou word sodra die regsverteenwoordigers wat deur sy vakbond aangestel is, met Metrorail skakel.
Intussen kan daar binnekort 'n dagvaardiging aan Transnet en Metrorail bestel word vir die oorhandiging aan die Paarlse polisie van verslae oor die Muldersvlei ongeluk met die oog op moontlike vervolging.
* Metrorail employees have resigned over the handling of the Muldersvlei train crash inquiry. |
 |
|
 |
Krieketraad, Paarliet sit vas |
|
|
 |
|
 |
 |
|
'n PAARLSE restaurant-eienaar het die Boland Krieketraad (BKR) na die arbitrasiehof geneem omdat hy sedert 2000 nie toegelaat is om vir krieketwedstryde en ander geleenthede by BoE Park verversings en drank te verskaf soos ooreengekom is nie.
Volgens Tommy Fortuin, eienaar van die Stumps restaurant, skuld die Boland Krieketraad hom meer as R5 miljoen in skadevergoeding weens verlies aan potensiële inkomste.
Fortuin het die BKR gedagvaar nadat hulle sy kontrak eensydig opgesê het.
Die Kaapse Arbitrasiehof het verlede jaar in Desember bevind dat Fortuin 'n geldige huurkontrak vir verkope by BoE Park in die Paarl het, en dat Boland Krieket die koste van die geding moet dra.
Die totale kostes beloop byna R780 000 en bestaan uit Fortuin se regskoste van R490 959 asook BKR se regskoste van R280 000.
Volgens 'n kontrak wat in 1995 tussen Fortuin en Boland Krieket gesluit is, is hy die uitsluitlike reg gegee om alle verkope van verversings en drank tydens enige geleentheid in die stadion te behartig vir die volgende vyf jaar, met die opsie om die kontrak vir nog vyf jaar te verleng.
Luidens 'n skrywe wat op 31 Julie 2000 na die verloop van die eerste vyf jaar deur die BKR aan Fortuin gestuur is, word daar aangevoer dat Fortuin "sonder ooreenkoms" met die Raad hul geriewe gebruik en dat die verskaffing van verversings en dies meer op tender geplaas gaan word.
Fortuin is ook in kennis gestel dat hy die perseel van Stumps Restaurant moes ontruim.
Hoewel Fortuin bereid was om buite die hof te skik, kon die partye nie tot 'n ooreenkoms kom nie, al het hy vooraf die opinie ingewin van prof Louis van Huyssteen, 'n kontrakte- en arbitrasiespesialis, en aan die BKR voorgelê.
In die saak het Fortuin gevra dat daar beslis word dat daar wel 'n wettige ooreenkoms tussen Stumps en BRK bestaan wat strek van 1 Januarie 2000 tot 31 Desember 2004, dat hy wel verversingsregte het in terme van die ooreenkoms en dat sy regskostes betaal moet word.
In sy verweer het die BKR aangevra dat 'n uitsettingsbevel teen Fortuin toegestaan word.
In sy uitspraak het die arbiter, RF van Rooyen bevind dat "die geskrewe ooreenkoms tussen die partye van krag is" en dat Fortuin vir sy regskoste vergoed moet word. Hy het egter bevind dat die Stumps restaurant self nie verkoopregte vir verversings het nie.
'n Woordvoerder van BKR het gesê dat die betaling van Fortuin se regskostes nie gedoen kan word, voordat taksasie van sy prokureursrekening afgehandel is nie. Geen eis vir skadevergoeding van R5 miljoen is van Fortuin ontvang nie.
Die Boland Krieketraad se jaarvergadering is Vrydagaand 19:00 by BoE Bank se raadsaal in Bredastraat.
* A Paarlite has successfully sued the Boland Cricket Board over vending rights. |
 |
|
 |
Seuntjie sterf voor maats |
|
|
 |
|
 |
 |
|
'n SEUN het gesterf terwyl daar om die lewe van sy jonger boetie geveg word ná 'n motorongeluk op die Wemmershoekpad Dinsdag.
Aubrey Claasen (8) en sy broer Nesville (6) van die plaas La Paris het om 07:00 in die donker teen die pad gestaan toe hulle die skoolbus sien aankom het.
Hulle het nie oudergewoonte gewag dat die bus eers verbyry, 100m verder draai en hulle teen hul werf oplaai nie.
Aubrey en Nesville reg voor 'n motor bestuur deur insp Gilbert Jones op pad na Franschhoek, ingehardloop.Drie dogtertjies wat saam met die boeties teen die pad gestaan het, het die dood vrygespring toe Tania Malgas se moeder gegil het.
"Aubrey was dadelik dood," het 'n geskokte buurvrou, Margaret Davids, gesê. "Ek het eers gedink Nesville is ook dood, maar toe voel ek sy pols is goed."
Nesville is per ambulans na die Paarl MediClinic vervoer en vandaar in kritieke toestand per helikopter na die Tygerberg Hospitaal, waar hy vir hoofbeserings behandel word.
Sy ouers, Abé Malan en Marinda Claasen, waak by hom. Die seuntjies en hul suster (12) is leerders aan Wemmershoek Primêr. |
 |
|
 |
|
 |
 |
|
'n VROU van Wellington se koel-kop en oorlewingsvaardighede het waarskynlik Saterdagnag haar lewe gered, toe haar motor die Bainskloofpas verlaat het en sy die nag in die wrak vasgekeer was.
Selma Fourie (38) van Bergstraat was ongeveer 22:30 op pad Ceres toe, toe haar motor in die reënweer gegly en by die kranse afgestort het.
"Ek het my bewussyn verloor toe die motor oor die rant gestort het. Toe ek uiteindelik weer my bewussyn herwin, het ek die aankomende verkeer se aandag probeer trek deur ligte te flikker, maar sonder sukses.
"Ek het dadelik besef my regterbobeen is gebreek en dat ek myself moes warm hou teen die koue.
"Ek het die tweeman-tent wat langs my gelê het, geneem en myself daarin toegedraai. Ek het ook sommer nog klere bo-oor aangetrek," het sy vertel.
Die kwik het daardie nag tot 6 grade Celsius gedaal.
Die moontlikheid van verkluim het deur haar gedagtes gemaal, tesame met kommer oor haar besering.
"Ek het die nag 'n paar uur se slaap ingekry.
"Die volgende oggend het ek my selfoon buite die motor sien lê. Ek het teen 'n slakkepas uitgekruip en wonderbaarlik was daar 'n sein en kon ek toe my ma, Lynn, skakel.
"Die polisie, ambulans en brandweer was gou op die toneel en binne 'n uur was ek na Paarl Hospitaal vervoer.
"Ek dink die feit dat ek kopgehou en kalm gebly het, het my deurgedra," het sy moedig vertel.
* A Wellington woman survived a cold night trapped in her car, after a crash on the Bain's Kloof Pass. |
 |
|
 |
|
 |
 |
|
DIE Amerikaanse ambassade in Kaapstad waarsku dat mense nie mislei moet word deur beloftes van werk in Alaska en die VSA nie.
Verskeie Paarliete het vir R450 'n inligtingsboek gekoop wat raad gee hoe om werksgeleenthede in die buiteland te verkry.
Maatskappye en werkburo's in Alaska word blykbaar oorval deur Suid-Afrikaners wat daar werk soek, maar die inligtingsboek word deur die ambassade beskou as 'n blote skelmstreek om geld te maak.
Volgens die Amerikaanse ambassade is dit feitlik onmoontlik om werk te kry in Alaska of die VSA indien jy nie 'n Amerikaanse burger is nie.
Sonder 'n brief van 'n voornemende werkgewer kan 'n werkspermit (wat meer as R800 kos) nie verkry word nie, en niemand kan namens jou daarom aansoek doen nie.
Mense mors duisende rande op telefoonoproepe en epos-boodskappe om werk te soek in Alaska, maar maak nie hond haar-af nie.
Een vrou in die Paarl, Selma Claassen, wat beweer dat sy vir haarself en gesinslede so werk gereël het, kon tydens besoek deur die Paarl Post geen aanstellingsbrief van enige firma in Alaska toon wat haar bewering staaf nie.
Volgens Claassen het sy verskeie boeke by die Johannesburg firma, Unique Jobs, aangekoop om ander mense "ook te help" om in Alaska werk te kry.
Van hierdie mense het glo hul werk bedank en hul huisvesting opgesê in die verwagting dat hulle na Alaska sou vertrek, maar tot dusver het niemand nog werk gekry nie.
Volgens Howard Joselowitz, eienaar van Unique Jobs in Johannesburg, ken hy Claassen nie persoonlik nie en beveel hy nie aan dat mense vir werk in Alaska aansoek doen nie.
"Dis feitlik onmoontlik vir Suid-Afrikaners om daar werk te kry en ons plaas nie meer die advertensies oor werk in Alaska nie."
Om die ware feite vas te stel kan die ambassade webwerf (http://southafrica.usembassy.gov) besoek word, veral die FAQ afdeling. |
 |
|
|
|
 |
Grootbroer luister graag |
|
|
 |
|
 |
 |
|
ONDERWYS, behuising, misdaad, transformasie, straatkinders en grondhervorming is van die sake wat Maandagaand aangeraak is tydens die Wes-Kaapse regering se Imbizo in die Paarl.
Die kabinet en senior amptenare van die Wes-Kaap was man, vrou en muis daar, om te luister en te praat met hulle mense. Dit was die eerste dag van die provinsiale Imbizo-week en die mense het van heinde en verre, van McGregor tot Saron, gekom.
Premier Marthinus van Schalkwyk het gepraat en die mense het geluister, Minister Ebrahim Rasool het gepraat en die mense het hom luidkeels toegejuig.
"Imbizo bied 'n platform vir dialoog, om te luister , vir begrip en die uitbreiding van vennootskappe," het Van Schalkwyk gesê.
Hy het 'n paar departemente en projekte uitgelig. Een hiervan was ekonomiese groei met uitvoere wat 48% toegeneem het teen die vorige jaar en gevolglik heelwat meer werksgeleenthede geskep het.
Hy het ook verwys na misdaad en die mense verseker dat die uitbreiding van die Wes-Kaapse Polisiediens van 12 000 na 18 000 beslis 'n verskil hieraan gaan maak.
Rasool, verantwoordelik vir die provinsie se finansiële welsyn, het 'n kykie gegee in die geldkoffers.
"Die sowat R16 miljard wat tot ons beskikking is, kan nie in al die behoeftes voorsien nie en daar moet deurentyd keuses gemaak word."
Hierna was dit vraetyd. En dis hier waar die haakplek gekom het. Die voorsitter, Boland Distriksburgemeester Clarence Johnson, het vooraf aangekondig dat die program halfnege sal klaar wees. Daar is egter nie rekening gehou met mense wat kommentaar lewer saam met vrae, vertalings en mikrofone wat rondgedra moes word nie.
Met tien minute van die bepaalde tyd oor, was daar net vyf vrae op die tafel en met vergunning van die premier is nog vyf toegelaat. Ander vrae en probleme kon skriftelik ingedien word en die mense het mildelik hiervan gebruik gemaak.
'n Ander probleem was dat mense inligting gesoek het oor spesifieke kwessies op hul onderskeie dorpe. Min mense het belang gehad hierby en kort voor lank is daar lustig tussenin gesels en die hulp-tafels agter in die saal is druk besoek.
Vrae het gehandel oor hulp aan straatkinders en Marius Fransman (Minister van Sosiale Dienste) het die versekering gegee dat R1,2 miljoen opsy gesit is hiervoor. Hulle kyk ook na vennootskappe met plaaslike regering in dié verband.
'n Vraag oor die ontwikkeling van sentrale sakegebiede en geleenthede vir mense uit voorheen benadeelde gemeenskappe, is deur Rasool beantwoord. Hy sê hulle wil graag sentrale sakegedeeltes sien as lewendige, vooruitstrewende areas.
"Een van die faktore wat hiervoor nodig is, is 'n formule om te verseker dat formele en informele sakelui in harmonie bestaan."
Heelwat vrae oor onderwys is aan André Gaum (minister van onderwys) gerig.
Hy het erken dat hoewel die slaagsyfer in die Wes-Kaap baie goed is, sommige skole wel 'n historiese agterstand het waaraan meer aandag gegee moet word.
Oor skoolgelde het hy weer eens beklemtoon dat geen skoolrapport teruggehou mag word oor geld wat nie betaal is nie.
"Dit bly ouers se verantwoordelikheid om aansoek te doen vir vrystelling of gedeeltelike vrystelling as hulle nie kan betaal nie."
Transformasie by munisipaliteite is ook bespreek en Cobus Dowry (minister van plaaslike regering) het hulle is voortdurend in gesprek is hieroor.
"Dit is onhoudbaar dat net een bevolkingsgroep al die poste beklee," was die premier se kommentaar. "Al neem dit tyd, moet dit reggestel word. Nie net een gemeenskap het die monopolie oor kundigheid nie."
'n Hoogtepunt van die aand was twee tjeks wat deur die premier oorhandig is, R500 000 aan Breederivier vir gesondheidsorg en R20,63 miljoen aan Drakenstein.
Die geld sal oor die volgende drie jaar gebruik word vir 'n nuwe water suiweringsaanleg in die Paarl (R8,6 miljoen), 'n waterpypleiding vir Gouda (R574 000), beligting vir die Gouda sportterrein (R320 000), herstel van strate en stormwater in Saron (R910 000), beligting vir Saron se sportterrein (R320 000), straatligte in Hermon (R50 000), opgradering van 'n pompstasie op Wellington (R2,7 miljoen) en uitbreiding van die Wellingtonse vullisterrein (R7 miljoen). Ten opsigte van hierdie boekjaar is die werklike toekenning ongeveer R5 miljoen.
Die aand is afgesluit met 'n onderneming van premier Van Schalkwyk dat alle navrae binne drie weke beantwoord sal word.
Indien nie, kan mense homself (483-4705/6) of Minister Rasool (483-3531) skakel.
* The Western Cape cabinet addressed an Imbizo in Paarl on Monday night. |
|