|
Eddie Williams, bestuurder van die nuwe Jeugadviessentrum, sê hulle wil 'n tuiste vir Drakenstein se jeug skep.
Hy en sy kollegas het intensiewe navorsing in die gemeenskappe van Drakenstein gedoen om die omvang van veral die jeug se behoeftes en ideale te bepaal.
Dit het weer eens bevestig dat Paarl die hoogste syfer tienerswangerskappe in die wêreld het, waarmee gepaard gaan die toename in MIV\Vigs onder jongmense.
Statistieke dui ook daarop dat 55% van jeug betrokke is in misdaad, waarskynlik weens werkloosheid en disfunksionele gesinstrukture.
Om al die kwessies sinvol aan te spreek, het Koinonia in 2001 'n tender by die Umsobomvu Jeugfonds ingedien vir 'n Jeugadviessentrum vir Drakenstein.
Hierdie proses was begin deur die tóé uitvoerende beampte van Koinonia, Franklin Huizies, nou stasiebestuurder by Radio KC.
Die doel met die sentrum is die aanleer van broodnodige lewensvaardighede en die verskaffing van informasie oor loopbane, werksgeleenthede, onderhoudvoering, ens.
Umsobomvu (UYF) is deel van die regering se Nasionale Menslike Hulpbronne Ontwikkeling van die jeug en fasiliteer die skep van werksgeleenthede vir jongmense deur beleggings en vennootskappe met geskikte diensverskaffers.
Die fonds het 'n drie jaar kontrak aan Koinonia toegestaan, wat gelei het tot dié opwindende nuwe fase in die sentrum se bestaan.
"Koinonia is nou in die sentrale sakekern geleë waar hy poog om op 'n meer effektiewe wyse die jeug van die Boland distrik te dien.
"Ons wil inligting, advies en werkswinkels op 'n dinamiese wyse na ons jeug in die gemeenskap te neem," sê Harlan Cloete, uitvoerende beampte van Koinonia.
Koinonia het die ou Nedbank-gebou, op die hoek van Lady Grey- en Fabriekstraat, langs Radio KC, hul susterorganisasie, gehuur en omskep in 'n jeugdige, moderne sentrum wat in alle opleidingsbehoeftes van die jeug wil voorsien.
Maandag open die sentrum met 'n opwindende program van musiek, sang en betrokkenheid deur sleutelrolspelers soos die Distrik Munisipalitieit, Wes-Kaap regering, ens.
Van Dinsdag af is die personeel van 28 lede gereed vir alle werklose jongmense tussen 17 en 35 jaar.
Op 4 Augustus begin hul opskerp- werkswinkels in entrepreneurskap, rekenaars, lewensvaardighede en werksgereedheid.
Besoek hulle van 08:00 tot laat of skakel 872-2141/2/3/4 |