|
tandmerke van die drie Pitbull Terriërs wat haar aangeval het.
"As hulle vasbyt, voel jy niks, maar as die kake oopgaan en hulle tande trek uit jou vleis, dan kom die verskriklikste brandpyn," het Maureen die aanval onthou.
Die gapende wonde is te groot om geheg te word, sê sy. En dit moet oop bly om elke dag in die hospitaal ontsmet te word.
Maureen het Vrydagnag van Springbokwoonstelle gestap na haar ouerhuis in Blesbokstraat.
"Ek het tussen hokke deurgekom en toe oor 'n oop grondjie langs die Vryheidspark gestap toe ek die geblaf gehoor het.
"Daar is baie honde in die hokke en ek het nie aandag gegee nie. Dit was donker, met net 'n spreilig oor die parkie.
"Toe ek 'n geknor hoor, het ek opgekyk. Teen die spreilig het ek 'n stofwolk gesien soos die honde op my afgestorm het.
"Toe is hulle op my. Ek het baklei en geskree, maar hulle het my aan my hare gesleep. Ek het vir my gesig en my nek gekeer terwyl hulle aan my arms en bene gebyt en geruk het.
"Dit het soos 'n ewigheid gevoel voor mense by die huise uitgekom het en die honde verwilder het."
Maureen het haarself teen 'n hok opgetrek en bebloed en in skok gewag totdat 'n familielid haar kon hospitaal toe neem.
"Die dokter het gesê as ek nie so sterk was nie, was ek dood."
Een van die honde-eienaars, Gavin Qupa van Springbokstraat 58C, het Maureen en haar moeder besoek.
"Hy wil weet of ek 'n saak gaan maak en of hy die mediese koste kan dra, maar ek weet nie wat om te doen nie. Hy sê die honde is vir hom 'n inkomste."
Maureen se moeder, Angela, is baie ontsteld oor die voorval: "Dis 'n wonderwerk dat my kind lewe."
Inwoners van die omgewing het ontevrede vertel hoe honde al daar kinders gebyt en vir hondegevegte gebruik word.
Qupa se hond, Tripple H, staan weer soos voor die aanval aan 'n ketting vasgemaak.
Hy kan nie verstaan hoe die hond die nag kon losgekom het nie.
Die eienaar van die ander twee honde, Hendrick (Tswang) Alexander, sê hulle is "nie mensbyters nie".
Hy teel Pitbull Terriërs binne-in sy opslaanhuis en laat sy honde deur die Dierebeskermingsvereniging bad en ontwurm.
In sy woning is daar nog 'n jong hondjie en 'n dragtige teef agter 'n houtafskorting, en nog 'n opgeskote hond aan 'n band vasgemaak.
"Ek glo die honde het uitgebreek omdat 'n hond buite my huis vir hulle getreiter het. Die houtmure was nie sterk genoeg nie."
Dit moes juis toe gewees het dat Maureen in hul pad gekom het.
Die twee honde wat by die aanval betrokke was, is deur 'n familielid na Port Elizabeth geneem.
Die voorval word deur die Paarl-Oos polisie ondersoek.
Sien foto's bl 2.
* A young woman has been attacked by three Pitbull Terriers in Paarl East. |