ppostgothic
safetop Aida
uitlefstreep

Thursday 25 March 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 1 April  2004 at 17:30

People - Mense


Doodsvonnis hang oor sy kop

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

[ Top ]

Anne Kruger


HY was agt jaar lank die kampioenspeler van die Paarl Muurbalklub. Vyf jaar gelede was hy nog een van die top veteraanspelers vir WP Platteland. Vandag kan hy nie stap of self eet nie.

Wat het gebeur?

Piet Oelofse (54) het 'n aftakelende, dodelike siekte, Motor-Neuronsiekte (MNS), opgedoen.

wpiet02FC

ONDERSTEUNING. Piet Oelofse by die hysstoel waarmee hy soms nog in die swembad kom. By hom is sy lewensmaat Karin.

Die senuwee-verbindings tussen sy motoriese senuwees is besig om te verswak vanaf sy vingerpunte en tone in die rigting van sy brein.

Drie jaar gelede het hy, terwyl hy muurbal speel, besef dat sy linkerhand "dom" raak. Later het dit ook sy regterhand geaffekteer, het hy beenspasmas gekry en moes hy ophou speel.

Toe is sy siekte gediagnoseer en het hy gehoor dat hy onder 'n 'doodsvonnis' lewe.

Maar Oelofse, 'n meganiese ingenieur van beroep, het steeds gewerk as tegniese bestuurder van die Medi-Clinic hospitale in die Wes-Kaap.

Hy het voortgegaan om alle onderhoud en tegniese werk by die hospitale te koördineer op sy rekenaar, selfs van die huis in Courtrai af toe hy nie meer kon bestuur nie - totdat hy in Oktober moes ophou.

Hy kon nie meer sy hande optel om te tik nie.

Stadig maar seker het hy oor die afgelope drie jaar verswak, totdat hy nou in sy woning voltyds bygestaan word deur dag- en nagversorgers.

Die agteruitgang is onomkeerbaar. Sy arms en hande het dun geword van onbruik en lê nutteloos langs hom op die arms van sy leunstoel.

Desember kon hy nog loop. Nou kan hy nog vir 'n minuut of twee staan as hy opgehelp word, maar hy kan nie vorentoe tree nie, omdat sy voete "dom" geword het.

"My brein stuur die boodskap na my voete, maar die boodskap kom nie daar uit nie.

"Dis dieselfde siekte wat die bekende professor Stephen Hawking in Engeland het."

Hoewel hy die aggressiewe vorm van die siekte het, weier hy om net boedel oor te gee.

Waar hy sit is 'n knoppie wat hy trap as hy hulp nodig het.  Voor hom is sy verbindingstelsel met die buitewêreld - die televisiestel, radio, rekenaar en telefoon.

Hy leef hom uit in die kyk van sportprogramme op TV, en geniet ook natuurleweprogramme.

Hy het 'n spesiale "speakerphone" met sy selfoon en 'n transformator geprakseer, omdat hy nie meer die telefoon kan vashou nie - so bly hy in verbinding met sy vriende.

Sy lewensmaat, Karin Zunckel, help hom om sy klere aan en uit te trek, en om hom te voer. Sy help hom om epos te stuur en sy banksake elektronies af te handel.

"Soms gaan ons nog uiteet, maar dis 'n hele optog om my met die rolstoel in die kar te kry en my dan weer in die eetplek te kry, want gewoonlik is daar trappe.

"En dan moet ek gevoer word - en almal kyk vir my," sê die man wat een van die fiksstes in die Paarl was.

Vyf jaar gelede, toe hy Karen ontmoet het, het hy nog die 2000 trappies in die Paarlberg amfiteater gemaklik uitgedraf, 30 "court sprints" op die muurbalbaan gedoen en 100 lengtes van sy swembad geswem.

Hy was sportmal en kon soggens nie wag om by die baan te kom, of die bergpad  te draf nie.

"Toe ek my Achilles-tendon met muurbal geskeur het, het ek begin kano roei omdat ek nie kon stilsit nie."

Vandag moet hy in 'n spesiale hysstoel wat Medi-Clinic vir hom geïnstalleer het, in die swembad laat sak word. Nog 'n hysstoel staan in die badkamer, sodat hy kan bad.

"Man, jy moet rustig wees - jy leer geduld aan."

"My neus jeuk - dan kan ek dit nie krap nie. 'n Vlieg loop op my been - ek kan hom voel, maar ek kan hom nie wegjaag nie.

"Ek voel presies net soos jy - het al die normale sensasies en behoeftes - maar snags kan ek nie eens meer omdraai nie. Elke twee uur moet die naghulp dit vir my doen.

"Ek kan nie meer alleen toilet toe gaan nie."

Karin is vir hom 'n groot ondersteuning en vriende word gereeld oorgenooi vir kuier of  braaivleis. Sy kinders kom ook gereeld inloer.

Niemand weet wat die oorsaak van die siekte is nie, en daar is geen geneesmiddel nie.

Oor die toekoms praat Piet Oelofse nie.

Al wat hy weet, is dat die normale oorlewing van iemand met Motor-neuronsiekte sowat vyf jaar is, dat hulle later heeltemal verswak, nie meer kan sluk nie, en uiteindelik nie meer self kan asem haal nie.

"Maar wat, dalk verras ek almal en kom eendag by die deur ingestap - sal dit nou nie 'n verrassing wees!" glimlag hy moedig.


Polisie sit hand by met geboorte

John Goliath

[ Top ]


'n NUWE moeder van Simondium is soveel dank verskuldig aan drie polisie-amptenare nadat hulle verlede week langs die Watergatpad naby Simondium gehelp het met haar baba se geboorte, dat sy die baba na hulle vernoem het.

Minnie Jansen het verlede Maandag omstreeks 02:00 in die donker van die nag tussen die lang gras gelê en was minute van kraam. Min wetend, was drie polisie-amptenare oppad huis toe met dié pad.

Speurkonstabels Jeanette Lombaard, Phila Ntsethe en Willem Ockhuys was moeg en wou net in die bed klim.

Toe ry hulle verby 'n man wat vir hulle wink om te kom help.

"Ons het gestop en toe ons by Minnie kom, was sy in geweldige pyn en  besig om te kraam," vertel Lombaard.

Die beamptes het die ambulans ontbied om die vrou te kom help, maar hulle het gesien dat die baba enige tyd sy verskyning gaan maak.

"Nie een van ons het al gehelp om geboorte te skenk nie en het nie mooi geweet wat om te doen nie.

"Toe die ambulans nog nie uitkom nie, het ons bekommerd begin raak," het Ockhuys gesê.

'n Kort rukkie later wou Jeandré Wilbur Jansen sy verskyning maak.

"Dit was net so, toe wil Jeandré gevang wees, maar toe hy gebore is, het hy nie 'n geluid gemaak nie, nie eers 'n piep nie," sê hulle.

Volgens die amptenare was die naelstring van die baba om sy nek, en Lombaard het hom 'n paar rapse op die agterent gegee sodat hy kon skree.

Hy het toe begin skree, maar die vermoede was dat die baba vrugwater gesluk het. Die baba is ook twee maande te vroeg gebore. Twyfel het bestaan of hy dit sal maak.

Klein Jeandré het aanvanklik net oor 'n kilogram geweeg. Maar na 'n week of wat in die broeikas is sy kanse bykans 100% dat hy 'n normale lewe sal geniet.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]