|
Die senuwee-verbindings tussen sy motoriese senuwees is besig om te verswak vanaf sy vingerpunte en tone in die rigting van sy brein.
Drie jaar gelede het hy, terwyl hy muurbal speel, besef dat sy linkerhand "dom" raak. Later het dit ook sy regterhand geaffekteer, het hy beenspasmas gekry en moes hy ophou speel.
Toe is sy siekte gediagnoseer en het hy gehoor dat hy onder 'n 'doodsvonnis' lewe.
Maar Oelofse, 'n meganiese ingenieur van beroep, het steeds gewerk as tegniese bestuurder van die Medi-Clinic hospitale in die Wes-Kaap.
Hy het voortgegaan om alle onderhoud en tegniese werk by die hospitale te koördineer op sy rekenaar, selfs van die huis in Courtrai af toe hy nie meer kon bestuur nie - totdat hy in Oktober moes ophou.
Hy kon nie meer sy hande optel om te tik nie.
Stadig maar seker het hy oor die afgelope drie jaar verswak, totdat hy nou in sy woning voltyds bygestaan word deur dag- en nagversorgers.
Die agteruitgang is onomkeerbaar. Sy arms en hande het dun geword van onbruik en lê nutteloos langs hom op die arms van sy leunstoel.
Desember kon hy nog loop. Nou kan hy nog vir 'n minuut of twee staan as hy opgehelp word, maar hy kan nie vorentoe tree nie, omdat sy voete "dom" geword het.
"My brein stuur die boodskap na my voete, maar die boodskap kom nie daar uit nie.
"Dis dieselfde siekte wat die bekende professor Stephen Hawking in Engeland het."
Hoewel hy die aggressiewe vorm van die siekte het, weier hy om net boedel oor te gee.
Waar hy sit is 'n knoppie wat hy trap as hy hulp nodig het. Voor hom is sy verbindingstelsel met die buitewêreld - die televisiestel, radio, rekenaar en telefoon.
Hy leef hom uit in die kyk van sportprogramme op TV, en geniet ook natuurleweprogramme.
Hy het 'n spesiale "speakerphone" met sy selfoon en 'n transformator geprakseer, omdat hy nie meer die telefoon kan vashou nie - so bly hy in verbinding met sy vriende.
Sy lewensmaat, Karin Zunckel, help hom om sy klere aan en uit te trek, en om hom te voer. Sy help hom om epos te stuur en sy banksake elektronies af te handel.
"Soms gaan ons nog uiteet, maar dis 'n hele optog om my met die rolstoel in die kar te kry en my dan weer in die eetplek te kry, want gewoonlik is daar trappe.
"En dan moet ek gevoer word - en almal kyk vir my," sê die man wat een van die fiksstes in die Paarl was.
Vyf jaar gelede, toe hy Karen ontmoet het, het hy nog die 2000 trappies in die Paarlberg amfiteater gemaklik uitgedraf, 30 "court sprints" op die muurbalbaan gedoen en 100 lengtes van sy swembad geswem.
Hy was sportmal en kon soggens nie wag om by die baan te kom, of die bergpad te draf nie.
"Toe ek my Achilles-tendon met muurbal geskeur het, het ek begin kano roei omdat ek nie kon stilsit nie."
Vandag moet hy in 'n spesiale hysstoel wat Medi-Clinic vir hom geïnstalleer het, in die swembad laat sak word. Nog 'n hysstoel staan in die badkamer, sodat hy kan bad.
"Man, jy moet rustig wees - jy leer geduld aan."
"My neus jeuk - dan kan ek dit nie krap nie. 'n Vlieg loop op my been - ek kan hom voel, maar ek kan hom nie wegjaag nie.
"Ek voel presies net soos jy - het al die normale sensasies en behoeftes - maar snags kan ek nie eens meer omdraai nie. Elke twee uur moet die naghulp dit vir my doen.
"Ek kan nie meer alleen toilet toe gaan nie."
Karin is vir hom 'n groot ondersteuning en vriende word gereeld oorgenooi vir kuier of braaivleis. Sy kinders kom ook gereeld inloer.
Niemand weet wat die oorsaak van die siekte is nie, en daar is geen geneesmiddel nie.
Oor die toekoms praat Piet Oelofse nie.
Al wat hy weet, is dat die normale oorlewing van iemand met Motor-neuronsiekte sowat vyf jaar is, dat hulle later heeltemal verswak, nie meer kan sluk nie, en uiteindelik nie meer self kan asem haal nie.
"Maar wat, dalk verras ek almal en kom eendag by die deur ingestap - sal dit nou nie 'n verrassing wees!" glimlag hy moedig. |