|
DIE beste manier om jou taal te beskerm, inderdaad, is om te sorg dat almal dit saam kan geniet en dit is presies wat die Paarl Teaterklub met groot welslae behaal in hul nuutste aanbieding, Die Waterwyser.
Die talentvolle vennootskap tussen Pieter Strümpher (regisseur) en begaafde aktrise Joey de Koker het weer eens 'n ryk aar raakgeboor in dié komedie wat tot Saterdag 4 Oktober by die Ou Meulteater op die planke is.
Die jonger geslag, gewoond aan moderne geriewe, weet niks van misvloere of vars water wat elke dag vanaf fonteine aangedra moes word nie, maar deel hiermee in die erfenis van daardie broekskeurdae wat hulle gebring het tot waar hulle vandag staan.
Met sy spitsvondige kwinkslae en knap skryfstyl, wen Nico Luwes nuwe vriende vir die Afrikaanse taal en vestig hy homself as 'n dramaturg wat die hele bevolking se lagspiere kan prikkel.
Dit was opmerklik hoeveel Engelssprekendes die gala-aande, geborg deur Simonsvlei, terdeë geniet het.
Ouma Driedoring (Joey de Koker) vertolk die sentrale rol met haar gebruiklike professionele vaardigheid.
Ouma en haar dogter Anna (Celia Kok), albei weduwees, voer 'n sukkelbestaan op die plaas Tweehasenmeteenslagraakgegooifontein waar ou Gert Laventel (Willem Coetzee) hul water afgeboor het en hulle nou met 'n droë gat moet worstel.
Soos menige werklike "plaasouma" is Ouma Driedoring in haar rolstoel glad nie so tingerig en onbeholpe as wat mag voorkom nie. Sy besit wel genoeg geld om hulle uit hul verknorsing te red, maar kan nie onthou waar sy dit gebêre het nie. Sy sal wel onthou wanneer die tyd aanbreek om te sterf.
Tussen al die woordspelings draai sy die verstrooide waterwyser, Willa Water (Freek van Zyl) en ou Gert om haar vingerpunt en sorg vir 'n uitstekende ontknoping.
Soos gebruiklik is Celia Kok weer uitstekend in haar rol as baas van die plaas en Anene Loots as die oujongnooi-dogter, goed uitgeknip vir dié tipe melodrama. Marié Smidt as Nelia Konsert, Gert se aansitterige suster, het 'n kleiner maar ewe vermaaklike rol.
Boontjie kry sy loontjie en elke pot 'n deksel en Ouma onthou waar sy die geld gebêre het, sonder dat sy haar moet voorberei vir langlê op 'n ander plek.
Met uitmuntende produksie van hierdie aard gaan Pieter Strümpher eerlank die groot gat in die teaterbeursie, wat deur die onlangse inbrake veroorsaak is, spoedig weer toewerk. Ons sien uit na sy volgende produksie.
* "Die Waterwyser" kan tot 4 Oktober gesien word. Kaartjies by Print Right, Paarl (872-7209). |