safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
uitleg2mouthpiece
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday: 25 September 2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 3 Oktober  2003 at 17:00

 Letters - Briewe


Paryspad in Paarl is 'n ongeluk wat wag

[ Top ]


SOOS baie Franschhoekers, werknemers van Drakenstein Gevangenis, Boschenmeerinwoners, Kapenaars en plaasmense ry ek ook elke weeksdag die Paryspad (van die N1 na die Paarl) werk toe. 

Die swak toestand van die pad is onbeskryflik. Om dit onomwonde te stel: dit is 'n belediging vir die ingang van ons trotse dorp en 'n gevaar vir almal wat nog elke dag hulle lewens daarop waag!

Meer as 'n jaar gelede is die klagtes gestaak want 'n "scenic drive" deur die wingerde van die Parysplase wat voorgehou is as die oplossing, sou die plaaseienaars verlos van die verkeer op hulle voorstoepe en die pendelaars voorsien van 'n nuwe teerpad wat hopelik 'n geel skouer sou hê.

Sou die pad nie reeds reg gewees het vir die verkeer van die Wêreldbeker Krieket wat vroeg in hierdie jaar in die Paarl aangebied is nie?

Tot vandag is geen pad egter gebou nie en die gate in die ry-oppervlakte vermeerder daagliks. Die skouer van die pad is erosie-dongas en is totaal onrybaar veral waar Carolinaweg wegdraai en waar verbygaande voertuie van die pad afbeweeg. 

In reënweer en soggens vroeg wanneer motorligte nodig is, is fietsryers wat op die uitgetande rand van die teer moet probeer bly, hule lewens nie seker nie.

Dit is onaanvaarbaar dat niks gebeur het nie en nog erger dat daar in 'n gedeelte van die dorp of distrik waar vooruitgang duidelik is, geen planne met betrekking tot die pad gekommunikeer word nie.

Mag goeie nuus in die pyplyn wees of sal ons sê op pad wees!

Liezel

Die Drakenstein Munisipale Bestuurder, Jacques Carstens, reageer: Ons as Drakenstein Munisipaliteit deel die frustrasie van enige persoon wat oor die pad kla. Die pad is (afgesien van die gedeelte tussen die sirkel en die Elektrisiteitsdepartement se gebou) Provinsie se verantwoordelikheid.

Alles was op koers vir die pad om reeds voor of net na die Krieket-Wêreldbeker herbou te word (die fondse was begroot en die pad was ontwerp, daar moes nog net tenders gevra word.)

Die Provinsie het egter sy prioriteite hersien en die padwerke is tot ons almal se groot teleurstelling uitgestel na die komende finansiële jaar wat in April 2004 begin. Tenderdokumente moet volgens die konsultant reeds in November vanjaar gereed wees.

Ons doen intussen noodinstandhouding op die deel wat onder ons ressorteer en PAWK doen ook iets. Met die nat van die winter is dit egter moeilik om voor te bly.

Die pad is gevaarlik en daar moet inderdaad iets dringend aan gedoen word, al is dit net tydelike herstel van die padskouers.

Klagtes moet aangemeld word by die plaaslike Distrikspadingenieur.


Hoekom ry vragmotors dan 'n ompad?

[ Top ]


die ongeluk op 25 Junie vanjaar, toe die vragmotor van Meadow Voere by die verkeerslig uit die Bergrivier Boulevard in die Hoofstraat omgekantel het, het ek in die Paarl Post gelees dat die betrokke firma ondersoek instel na alternatiewe roetes.

Hulle sou kwansuis kyk of dit werklik nodig is dat hul swaar vragmotors deur beboude residensiële gebiede soos die Bergrivier Boulevard en die Hoofstraat moet ry.

Dit is maande later, en ek sien dat daar blykbaar geen verandering in die vragmotors se roetes is nie. Hulle ry steeds met die Boulevard langs. Is dit regtig so onmoontlik om die Paryspad na die N1 te gebruik?

Ek was self verlede week rustig onderweg in die stadige baan in die Boulevard toe 'n groot groen Meadows vragmotor by my verbygejaag gekom het in 'n noordwaartse rigting.

Ek het agter hom aangery en besef dat die bestuurder die hele pad, van Ceceliastraat-aansluiting tot by die brandweerstasie, nooit 'n kilometer stadiger as 80 gery het nie - ver bo die spoedbeperking.

Hy sou nooit die vragmotor betyds tot stilstand kon gebring het indien 'n hond of 'n kind voor hom beland het nie.

Voor die polisiestasie kon geen voertuig die baan langs hom gebruik nie, die bane is te nou.

Moet daar nou regtig 'n noodlottige ongeluk plaasvind voordat dié firma tot besinning kom?

Ontevrede

Jan Venter, algemene bestuurder BarlowWorld Logistiek, reageer:

Ons het die alternatiewe roetes na die N1 wat die vragmotors kan gebruik (Bergrivier Boulevard/Hoofstraat of Jan van Riebeeckweg/Paryspad), ondersoek.

Die oppervlak en die breedte van die Paryspad en die feit dat daar nie 'n skouer is nie, maak dit onmoontlik vir groter vragmotors om die pad veilig te gebruik.

Voetgangers en fietsryers het nie 'n veilige buitebaan om te gebruik nie en vragmotors kan nie in hul baan bly en 'n fietsryer verbysteek sonder om ander padgebruikers in gevaar te stel nie.

Totdat die Paryspad oorgeteer word, sal ons moet voortgaan om die Bergrivier Boulevard te gebruik.

Wat kliënte op die Ou Paarlpad betref, sal die vragmotors steeds noodgedwonge die Bergrivier Boulevard moet gebruik, omdat gebruik van Paryspad na die N1 beteken die vragmotors moet weer by Hoofstraat afdraai en twee bane se verkeer oorsteek om suid te draai in die Ou Paarlpad.

Wat spoed betref, het ons reeds satellietopsporing geïnstalleer in al ons vragmotors met 'n straatkaart van Paarl. Ons kan die roetes wat gebruik word monitor en stel 'n spoedbeperking van 50km/h in Bergrivier Boulevard en alle interne paaie in.

Enige oortreding deur 'n vragmotorbestuurder sal opgeneem word deur die satellietmonitor.

Enige klagtes of spoedoortreding kan ook aan die bestuurder van BarlowWorld Logistiek Paarl, Ganson Govender, gerapporteer word.


Internet is wel nodig in ons biblioteke

[ Top ]


DIE Smart Cape Inisiatief wat aangeraak word deur briefskrywer, mnr Ayford, is een van die mees progressiewe stappe wat die Stad Kaapstad kon doen om die gewone man in die straat te bereik. 

Die internettoegang in die biblioteke is die positiewe gevolg van bibliotekarisse se stryd en klagtes van die belastingbetalers.

Die Smart City Inisiatief is die rede waarom stede soos Londen, Liverpool, Manchester en nou Kaapstad, die nood gesien het om die belastingbetaler toegang tot die internet te gee, naamlik dat dit die belastingbetaler en die biblioteekgebruiker as belangrike rolspelers in die dorp- of stadsgrense erken. 

Die Munisipaliteit gee terug aan die gemeenskap iets wat voorheen slegs deur 'n elite-groep bekostig kon word.

Die nuwe opvoedkundestelsel in ons land, waar nie net jong kinders skool toe gaan nie, maak die biblioteek die ideale plek vir die berging van alle opvoedkundige materiaal. 

Die gedrukte media en die koste daaraan verbonde veroorsaak dat meer en meer leerders die internet benodig om skooltake te voltooi. Die argument dat mense na die internet-kafee moet gaan, is dus absurd weens die koste.

Die Drakenstein Munisipaliteit moet slegs doen wat menige groot stad doen; gebruik die privaatsektor om die hardeware te skenk, maak dan gebruik van gratis sagteware soos Open Office en Linux en siedaar - gratis internet, veral as die Munisipaliteit reeds internettoegang het in die kantoor van die  stadsklerk en munisipale bestuurder.

Dit is 'n belegging in al die kinders van die streek.

D Fourie


Kom ons steun ontwikkeling

[ Top ]


DAAR is mense wat gedurig kla dat die Paarl nie ontwikkel word soos by buurdorpe nie, maar word die woord ontwikkeling genoem, dan is dit daardie einste mense wat beswaar aanteken.

As dit nie gaan oor ou verrotte eikebome nie, dan voldoen dit nie aan die karakter van die outydse geboue nie. Magtag, ons lewe darem nie meer in die agtiende eeu nie!

Daar is oorgenoeg outydse geboue in die Paarl om hulle te verlustig in. Die hele Hoofstraat is vol pragtige, ou geboue en ek glo dit sal behoue bly.

In Suider-Paarl staan 'n klomp ou geboue wat eerder opgeknap kan word, as om nuwe geboue te bou op 'n outydse styl.

Wat die "Mall" betref, wat nou ook weer kritiek uitlok van sekere mense, dit kan net voordele inhou vir die Paarl as geheel en die grotere Drakenstein munisipale gebied.

Dit is juis die mense wat nog gekant is teen ontwikkeling in die Paarl, wat hulle inkopies elders gaan doen. Onthou dit is nie net mense wat in Kaapstad bly wat in die stad inkopies doen nie.

Dit is mense wat verby en deur die Paarl ry, om daar te kom van ander dorpe, selfs mense van Paarl self.

Dink net daaraan dat die Paarl die afsnypunt kan word van ander dorpe se mense wat andersins Kaapstad toe moet ry. Die Paarl is gunstiger geleë as Somerset-Wes tussen ander dorpe en Kaapstad.

Die middedorp kan net baat vind by 'n "Mall" in die Paarl, want baie ander dorpe uit die noorde moet noodwendig deur of verby die middedorp beweeg.

Deur die besigheidskern net in die middedorp te probeer hou, striem eintlik die ontwikkeling, want dit sal nie kopers vanaf Worcester tot Beaufort-Wes trek soos die "Mall" dit kan doen nie.

Ek hoop die Drakenstein Munisipaliteit sal 'n wyse besluit neem wat die finansiële druk op die dorp sal verlig en die herontwikkeling van die middedorp sal bespoedig.

Beswaard


Sit groen terug in ons dorp

[ Top ]


EK wens die fanatiese natuurliefhebbers en historici van die Paarl wat weke lank geraas en geblaas het oor die vel van 'n paar eikebome, wil 'n slag in hul karre klim en gaan kyk na die yslike vermorsing van waardevolle organiese herverbruikbare materiaal wat vernietig word by ons munisipale vullisstortingsterrein in Distillerystraat.

Ons pragtige dorp met sy honderde bladwisselende bome, waarvan die blare by die ton per waentjies, vragmotors en bakkies aangery word na die stortingsterrein, word saam met vragte tuinvullis deur tuindienste en private persone saam met gewone huis-afval weggery na die stortingsterrein op Wellington.

Dié blare kan verwerk word tot kompostering en teruggegee word aan die grond as voeding.

'n Plaaslike boer het komposteringswerke by munisipaliteite dwarsoor die land, maar sy eie tuisdorp wil nie van sy kosbare dienste gebruik maak of hul eie komposteringsmasjien hernuwe nie.

Dit staan al maande lank stukkend en ongebruik.

Die duur weegbrug word ook nie gebruik nie.

Wil die histeriese kommissies nie miskien hieroor iets daadwerkliks doen tot voordeel van 'n "groen Paarl" nie?

SR

DIE munisipale bestuurder, Jacques Carstens, reageer soos volg:

Die afgelope paar jaar het tuinvullis in die Paarl saam met al die ander vullis in dieselfde vragmotor geëindig en op dieselfde hoop beland.

Ongelukkig is die komposteringsaanleg in Distillerystraat reeds geruime tyd buite werking.

Die totale aanleg is ongeveer 30 jaar oud en daar word nie kapitaalfondse goedgekeur om die meul reg te maak, of 'n nuwe aanleg te bou nie.

'b Bedrag van sowat R600 000 is nodig vir die hoofvoerstelsel. 

Met hierdie koste en die ouderdom van die res van die toerusting is dit nie sinvol om die bestaande te herstel nie. 

Juis hierom is daar tans 'n ondersoek aan die gang om te kyk na die moontlike privatisering van vaste afvalhantering wat stortingsterreine, kompostering en herwinning insluit.

'n Gedeelte van die tuinvullis word wel deur die Munisipaliteit opgekap en gebruik as verdigtingsmateriaal om die rioolslyk te komposteer by die Paarl rioolwerke. 

Ook hier word jaarliks begroot vir komposteringsmasjinerie en toerusting, maar daar is nooit voldoende fondse nie. 

Hierdie kompostering is nie noodwendig om goeie kompos te maak nie, slegs om van die rioolslyk ontslae te raak wat andersins teen hoë koste op die stortingsterrein gestort sal moet word.

Die duur weegbrug word nog nie ten volle benut nie aangesien die konstruksiewerk (weens beperkte fondse) onlangs eers finaal afgehandel is.

Verder is daar nie personeel wat die brug kan bedryf nie. Die hekwagte van Skoonmaakdienste word tans opgelei om hierdie taak te kan verrig.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za