|
Ná die ongeluk op 25 Junie vanjaar, toe die vragmotor van Meadow Voere by die verkeerslig uit die Bergrivier Boulevard in die Hoofstraat omgekantel het, het ek in die Paarl Post gelees dat die betrokke firma ondersoek instel na alternatiewe roetes.
Hulle sou kwansuis kyk of dit werklik nodig is dat hul swaar vragmotors deur beboude residensiële gebiede soos die Bergrivier Boulevard en die Hoofstraat moet ry.
Dit is maande later, en ek sien dat daar blykbaar geen verandering in die vragmotors se roetes is nie. Hulle ry steeds met die Boulevard langs. Is dit regtig so onmoontlik om die Paryspad na die N1 te gebruik?
Ek was self verlede week rustig onderweg in die stadige baan in die Boulevard toe 'n groot groen Meadows vragmotor by my verbygejaag gekom het in 'n noordwaartse rigting.
Ek het agter hom aangery en besef dat die bestuurder die hele pad, van Ceceliastraat-aansluiting tot by die brandweerstasie, nooit 'n kilometer stadiger as 80 gery het nie - ver bo die spoedbeperking.
Hy sou nooit die vragmotor betyds tot stilstand kon gebring het indien 'n hond of 'n kind voor hom beland het nie.
Voor die polisiestasie kon geen voertuig die baan langs hom gebruik nie, die bane is te nou.
Moet daar nou regtig 'n noodlottige ongeluk plaasvind voordat dié firma tot besinning kom?
Ontevrede
Jan Venter, algemene bestuurder BarlowWorld Logistiek, reageer:
Ons het die alternatiewe roetes na die N1 wat die vragmotors kan gebruik (Bergrivier Boulevard/Hoofstraat of Jan van Riebeeckweg/Paryspad), ondersoek.
Die oppervlak en die breedte van die Paryspad en die feit dat daar nie 'n skouer is nie, maak dit onmoontlik vir groter vragmotors om die pad veilig te gebruik.
Voetgangers en fietsryers het nie 'n veilige buitebaan om te gebruik nie en vragmotors kan nie in hul baan bly en 'n fietsryer verbysteek sonder om ander padgebruikers in gevaar te stel nie.
Totdat die Paryspad oorgeteer word, sal ons moet voortgaan om die Bergrivier Boulevard te gebruik.
Wat kliënte op die Ou Paarlpad betref, sal die vragmotors steeds noodgedwonge die Bergrivier Boulevard moet gebruik, omdat gebruik van Paryspad na die N1 beteken die vragmotors moet weer by Hoofstraat afdraai en twee bane se verkeer oorsteek om suid te draai in die Ou Paarlpad.
Wat spoed betref, het ons reeds satellietopsporing geïnstalleer in al ons vragmotors met 'n straatkaart van Paarl. Ons kan die roetes wat gebruik word monitor en stel 'n spoedbeperking van 50km/h in Bergrivier Boulevard en alle interne paaie in.
Enige oortreding deur 'n vragmotorbestuurder sal opgeneem word deur die satellietmonitor.
Enige klagtes of spoedoortreding kan ook aan die bestuurder van BarlowWorld Logistiek Paarl, Ganson Govender, gerapporteer word. |