|
GAAN ek weer in die poppehuis speel?
Hierdie onskuldige vraag van 'n kind lê aan die kern van wat streekhofaanklaer Anita Potgieter van die Paarl probeer doen.
Dié kind is een van die talle minderjarige slagoffers van seksmisdade. Die poppehuis is die wagkamer by die streekhof.
"Hierdie kinders is klaar deur 'n geweldige trauma en dan word alles weer beleef in die hof," vertel sy.
Paarl eksperimenteer nou met die spesiale hof, waar net seksmisdade teen kinders onder 18 jaar aangehoor word.
Dit staan bekend as 'n tussenganger-hof en beteken dat die slagoffer nie in die hof sit nie, maar in 'n spesiale vertrek langsaan.
Saam met hom of haar is daar 'n persoon, gewoonlik 'n maatskaplike werker, wat as tussenganger met die hof optree.
Potgieter loof die tussengangers vir die empatieke wyse waarop hulle die kinders hanteer.
Dit is duidelik dat dit vir hulle 'n liefdestaak is, en ook hulle is dankbaar vir die hulp wat uit die gemeenskap kom.
Soos een sê: "Vir my as 'n tussenganger by die streekhof is dit sielsverblydend om die liefde van die gemeenskap vir sy seerkry-kindertjies te ervaar.
"Dankie vir almal daar buite wat omgee. Die gesiggies van dié wat dit beleef, die speelgoed, eetgoed, verwarmer, tot 'n kombersie vir die beentjies tydens die koue saak en getuienis lewer, die pragtige nuutgeverfde kinderkamer."
Potgieter vertel: "Waar die fokus gewoonlik op die beskuldigde is, is ons hier totaal gefokus op die slagoffer."
"Ons eerste oogmerk is om die kind binne drie maande klaar te laat getuig, maar dit is nie altyd moontlik nie, want daar is ook ander mense ook betrokke."
Potgieter meen hulle kan weer die gemeenskap se vertroue in die stelsel herstel.
"Op die oomblik sien mense die hof as 'n wrede proses waar sake jare en jare uitgestel word. Ons is egter in die eerste plek besorg oor die kind."
Dit is reeds hoekom sy ook betrokke raak met die aanmelding van sake.
"As die polisiebeampte onmiddellik al die nodige inligting bekom, kan die saak vinniger hanteer word."
Potgieter besoek gereeld die polisiekantore in haar streek en help onder meer met die inrigting van traumakamers.
"Ons probeer ook ondersteuningsnetwerke in die gemeenskap op die been bring wat kan help met slagoffers."
Maar 'n besoek aan die hof bly traumaties. Potgieter, met behulp van vrywilligers, probeer nou om hierdie ervaring so maklik as moontlik te maak vir die slagoffers.
Daar is 'n spesiale wagkamer vir die kinders en oral, ook in haar kantoor, is speelgoed om die jongspan se aandag 'n bietjie af te lei. Veral sagte speelgoed is gewild, maar die seuns loer darem eerder na 'n motor.
"'n Mens se hart wil breek as 'n verstandelik gestremde seuntjie 'n plastiekmotortjie vasklou deur die hele hofsaak en agterna pleit om die 'looi kalletjie' saam te vat huis toe."
En wat van ouer kinders?
Potgieter kry 'n hartseertrek om haar mond: "Dit is baie moeiliker, maar ek probeer hulle motiveer om beheer te neem van hul lewens.
"En om te getuig teen die oortreder is natuurlik die eerste stap op die pad van herstel."
Vrywilligers soos oud-skoolhoof John Goliath help met die omskepping van die wagkamers vir die kinders en versamel speelgoed, inkleurboeke en leesboeke.
Hulle soek nou naarstigtelik na 'n televisiestel om die kleingoed se aandag af te trek.
Goliath help ook kospakkies maak vir die kinders wat dikwels die hele dag saam met hul ouers en voogde by die hof moet deurbring.
"Baie dae moet hulle lank wag vir die saak en ma het heel dikwels niks te ete of te drinke saamgebring nie," vertel een van die tussengangers.
"Soms is die drankmisbruik van die vorige dag nog merkbaar, lyfies dun en skraal aangetrek en dan is hulle nog bang ook."
'n Maatskaplike werker wat gereeld as tussenganger optree, beskryf die sake as 'n aanklag teen die gemeenskap: "As ons die sondes van seksuele misbruik, alkoholmisbruik, dagga en mandrax sien, wonder 'n mens - dra die gemeenskap sy kinders op die hande?
"Hoe word hulle beskerm teen die siekte wat soos Vigs elke dag sy tol eis? En onomkeerbare skade aanrig!"
Die slagoffers is gewoonlik baie behoeftig en kom nie net uit die Paarl nie, maar ook Franschhoek, Groot Drakenstein, Klapmuts, Wellington en selfs so ver as Saron, Tulbagh, Ceres, Wolseley en Prince Alfred Hamlet, Stellenbosch, Grabouw en die Strand.
Mense wat wil betrokke raak of skenkings wil maak, kan Potgieter skakel by 870-2966 (weeksdae ná 15:30) of Goliath by sy huistelefoon, 862-0089.
* Paarl has a special court for hearings involving young victims of sex crimes. |