|
|
 |
 |
|
Sport |
|
Plettervat vir De Villiers |
 |
Leon Steenkamp |
 |
|
|
 |
"DIT is baie, baie nice. Ek het gerugte gehoor ek is dalk in die Wêreldbekerspan, maar 'n mens glo dit nie voordat jy dit reguit hoor nie."
Dit was Maandagaand nog die opgewonde kommentaar van oud-Gimmie Jean de Villiers nadat hy die beseerde Leeus-senter, Gcobani Bobo, vervang het in die Wêreldbekerspan wat volgende Saterdag na Australië vertrek.
De Villiers is aanvanklik in die WB-groep opgeneem. Hy is egter vroeg terug huis toe gestuur nadat Rudolf Straeuli, Springbok-breier, beslis het dat De Villiers nog nie fiks genoeg is om die strawwe oefenkamp deur te maak nie.
Die WP-senter het egter kookwater-rugby gespeel in die afgelope paar Curriebeker-wedstryde, met 'n driekuns teen die Arende en twee drieë |
|
|
 |
in die WP se onlangse 63-26 slagting van die Blou Bulle.
Dié belowende WP-senter se euforie was egter van korte duur.
Tydens die Springbokke se opwarmingswedstryd teen die Valke Dinsdagaand, het De Villiers, kort nadat hy sy provinsiale sentermaat Dewet Barry as reserwe vervang het, sy regterskouer ernstig beseer.
Dit is ontwrig en ligamente en spiere is in die proses geskeur.
De Villiers se toetsdebuut einde verlede jaar teen Frankryk in Marseille is na slegs tien minute kortgeknip toe hy sy knieligamente geskeur het.
Hy was gistermiddag met druktyd op 'n vlug oppad terug Kaapstad toe en was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
"Dit is vanselfsprekend 'n hengse knock maar op die oog af hanteer hy dit goed. Jean het 'n sterk karakter en hy sal hier deurkom en 'n sterker persoon wees," het Jean se pa, André, gister gesê.
Pa en seun het, na die skandering van Jean se skouer, vinnig gesels.
"Rugby is 'n baie fisiese spel en 'n mens moet aanvaar dat jy enige tyd beseer kan word, en dit is wat Jean sê. Hy is natuurlik teleurgesteld maar positief," sê De Villiers snr.
Volgens Jean se pa, wat gister met Rudolf Straeuli en Uli Schmidt (Springbok-spandokter) in gesprek was, sou daar gekyk word om reeds vandag aan die opwindende senter se skouer te opereer.
Dit is nog onseker oor hoe lank dié talentvolle blondekop buite aksie gaan wees, maar na verwagting sal hy eers weer oor ses maande kan begin dink aan rugby speel. |
 |
|
 |
 |
|
Boland klubs mik vir grote |
|
|
 |
|
 |
ALLE oë sal Saterdag op die Boland Stadion gerig wees, wanner die sterkste spanne van die seisoen mekaar pak in die eindstryde van die Boland se Superligas.
Die groot stryd sal om 16:30 wees wanneer die eerste spanne van Wellington en Ceres sake uitspook vir die Uitdaagbeker van die Superliga A1.
Dit behoort voorwaar 'n skouspel te wees. Wellington wat beide die eerste en tweede ronde bekers verower het, sal die kroon wil span op die goeie 2003 seisoen.
Ofskoon die Wellingtonners in altwee hul ligakragmetings teen Ceres die botoon gevoer het, sal hulle nie die fout maak om Saterdag met geswelde koppe op die veld te draf nie.
"'n Finaal is 'n ander storie, baie van die jong ouens in die span het nog nie in 'n finaal gespeel nie. Maar ons benader die wedstryd asof dit die eerste van die seisoen is wat ons teen Ceres speel," het Jaco Stoumann, afrigter van Wellington, Dinsdag gesê.
Stoumann se groot bekommernis was egter die betrokkenheid van Gordon Johnson (skrumskakel), Jan Rautenbach (senter) en Pieter Wium (haker) by die Boland Merietespan.
Die Boland se naasbestes en die Boland Kavaliers speel môremiddag teen die Luiperds wat Stoumann se vooruitsig om Saterdag met 15 uitgeruste spelers uit te draf, in die wiele ry.
Saterdag se program is 10:00 Superliga C finaal - Primrose t Young Standards, 10:00 Superliga C promosie - Saldanha Tigers t Rangers Robertson (B-veld), 11:35 Superliga B finaal - Villagers Montagu t Hopefield, 13:10 Superliga A2 finaal - Wesbank t Grabouw, 15:15 Boland vroue t SWD vroue, Superliga A1 Wellington t Ceres. |
 |
|
 |
Drakenstein klubs oorheers rugbyligas |
|
|
 |
|
 |
DIE rugbyklubs in Drakenstein het vanjaar koning gekraai in die middelorde van die Westelike Provinsie se klubrugby-struktuur.
Paarl Rugbyklub se eerste rugbyspan het hul 2002 sege in die Premierliga B herhaal en vanjaar dieselfde vertoning gelewer in die Premierliga A.
Hul posisie bo-aan die punteleer is Saterdag verseker toe hulle vir Young Peoples op Daljosafat met 30-25 geklop het.
Hoewel die liga verby is, moet Paarl nog Saterdag teen Hands & Hearts speel, nadat die wedstryd uitgestel is.
Hoewel Hands & Hearts tweede op die punteleer is met 72 punte, sal selfs 'n bonuspunt-oorwinning nie genoeg wees om Paarl se 79 punte te klop nie.
Paarl se standvastigheid regdeur die seisoen word geïllustreer aan die hand van die slegs vier wedstryde wat hulle verloor het en een gelykop-uitslag.
Die eerste span het 566 punte aangeteken en 363 punte afgestaan.
Young Peoples het ondanks 'n sukkelende periode kort voor die einde van die seisoen, daarin geslaag om derde op die punteleer te lê.
Die Tiere met 63 punte het 'n 50% slaagsyfer behaal en 11 van hul 22 wedstryde gewen, met twee gelykop-uitslae.
Die manne van Albions sal nie tevrede wees met die vertoning wat hulle vanjaar gelewer het nie. Hulle sal egter effe vertroosting kan vind in die feit dat daar 'n paar kritieke skeidsregterbeslissings was wat die gety teen hulle laat draai het.
In die B-span afdelings is Young Peoples tweede (82), Paarl (77) vierde en Albions (44) agtste.
Onder die derde spanne lê Paarl (83) tweede, Albions (31) agtste en Peoples (31) negende.
Dit was ook die plaaslike klubs wat in die Premierliga B oorheers het.
Heelbo was dit Franschhoek United (73) en Paarl Rangers (70) wat mekaar deurgaans gedruk het vir die eerste plek posisie.
Albei spanne het 14 wedstryde gewen, twee gelykop gespeel en ses verloor. Hulle het ook byna dieselfde hoeveelheid punte 430 (Franschhoek) en 419 (Rangers) aangeteken.
Die Franschhoekers was egter suiniger met hul uitdeel van punte en het slegs 289 afgestaan teenoor die 325 van Rangers.
Young Gardens wat verlede jaar van die Premierliga A na die Premierliga B gedaal het, is weer eens op pad ondertoe.
Die Rose het derdelaaste geëindig met 37 punte. Hulle kon slegs agt wedstryde wen, en het 13 verloor.
Op die tweede spanne punteleer lê Franschhoek weer eens heel bo, met Paarl Rangers sesde en Young Gardens tiende. By die derde spanne is Rangers tops, met Franschhoek tweede en Young Gardens elfde.
In die Premierliga C was die kompetisie net so taai, met vyf Paarlse klubs wat hier meeding.
Riverstones (69) het Saterdag met hul oorwinning oor Eersterivier op Daljosafat ook hul titel as ligawenners verseker.
In die derde plek was dit Windmeul United (58) van Agter- Paarl, gevolg deur Young Standards (48).
Laer Paarl en Paarl Violets is die twee agterosse, wat onderskeidelik agtste en laaste op die punteleer lê. |
 |
|
 |
Standards verslaan Watsonia |
|
|
 |
|
 |
IN 'n klipharde wedstryd het die span van Young Standards Saterdag daarin geslaag om Watsonia op hul tuisveld met 14-10 te klop.
'n Hoogs gemotiveerde Watsonia wat gehoop het 'n oorwinning oor Standards sal hul die ligatitel besorg, het hul vasgeloop teen 'n vasberade Standards span wat die seisoen op 'n hoogtepunt wou eindig.
Met die wedstryd vyf minute aan die gang, vang Bradman Arendse die Watsonia verdedigers aan die slaap en breek pragtig deur 'n gaping om Standards se eerste drie te gaan druk.
Rico Davey, wat 'n goeie seisoen met die skopskoen gehad het, verdoel die moeilike skop om Standards 7-0 te laat voorloop.
Met rustyd wat nader en Standards se voorspelers wat oorheers, verras Standards se agterlyn Watsonia en na verskeie agterlynbewegings druk Bevan Francis Standards se tweede drie. Davey verdoel om die rustydtelling 14-0 te maak.
In die tweede helfte klim Watsonia verwoed in, maar daar was geen deurkomkans nie en na 20 minute teken hulle eers hul eerste punte met 'n strafdoel aan.
Ondanks volgehoue druk deur Watsonia het skitterende verdediging deur Standards, hul verhoed om die doellyn oor te steek.
In die doodsnikke druk Watsonia hul enigste drie wat ook verdoel word om die eindtelling 14-10 te maak.
Die tweede span van Standards moes egter die knie buig, terwyl die derdespan met 45-12 baas was.
Young Standards en Young Peoples speel Saterdag hul jaarlikse derby op die Faure Stadion.
Peoples was verlede jaar die wenner en Standards sal vanjaar alles in hul vermoë wil doen om die bordjies te verhang.
Standards se vroue en veterane-spanne oefen vanaand om 18:00 by Ebenezer skool. Alle oud-lede en vroue wat belang stel, is welkom. Vir navrae, skakel die voorsitter Andre Jonker by 082-660-1914.
Die junior wedstryde begin om 10:00, die veterane pak mekaar om 13:30 en die vrouespanne om 15:25. Die eerste spanne meet om 16:00 kragte.
Die program is o.11 (10:00), o.13 (10:40), o.15 (11:05), derde span (12:20), veterane (13:30), tweede span (14:10), vroue (15:25) seremonie (15:50), hoofwedstryd (16:00). |
 |
|
 |
Dis Paarlse plesier teen Peoples |
|
|
 |
|
 |
DIT was Saterdag Paarl se beurt om te glimlag toe hulle in hul laaste wedstryd van die seisoen vir Young Peoples op Daljosafat 30-25 geklop het.
Hoewel die wraak van hul eersteronde-nederlaag sekerlik soet was, was dit beslis nie 'n maklike oorwinning nie.
Die wedstryd het vir Peoples op 'n lae noot begin toe hul ster-vleuel, Jacques Lategan, weens 'n keelaandoening moes onttrek.
Peoples moes noodgedwonge die flank, Francois Manuel, in sy plek gebruik - 'n risiko wat nie gewerk het nie.
Paarl het dit dan ook uitgebuit toe skrumskakel Jacques Hendricks in die 13de minuut skitterend breek en deur drie swak laagvatte bars vir 'n drie onder die pale. Hy doel self om die telling 7-0 te maak.
Peoples slaan in die 20ste minuut terug toe Bernard Davids (agtsteman) 'n praglopie in die hoek afrond. Heelagter Melvyn Hermans verdoel om sake gelyk te maak.
Minute later maak Peoples se agterste driehoek 'n fatale flater en gee 'n drie op 'n skinkbord weg aan Paarl se linkervleuel Terence Valentyn.
Hendricks doel en skop vyf minute later ook 'n strafskop oor om Paarl 17-7 te laat voorloop.
'n Strafskop in die 30ste minuut laat Peoples weer asemskep, maar kort daarna laat swak verdediging die Paarl heelagter, Marco Martin, toe om weer agter die doellyn te kuier.
Hendricks is weer in die kol en rustyd breek aan met Paarl 24-10 voor.
In die tweede helfte begin Peoples wyd speel, en losskakel Delwaine Cornelissen druk na 'n kwartier verstryk het. Na volgehoue druk wys Justin Fortuin (senter) sy spoed en druk onder die pale.
Hermanus se skopwerk laat egter sy span in die steek en hy verbrou albei doelskoppe asook twee strafdoele.
Peoples is egter met 24-20 binne trefafstand. Met 11 minute speeltyd oor rek Hendricks Paarl se voorsprong met 'n lang strafdoel na 27-20.
Peoples slaan onmiddellik terug met 'n langafstand-drie deur die plaasver-vanger-vleuel, Charles Booysen, langs die pale.
Cornelissen se doelskop is teen die regoppaal vas en die spanning laai op met Paarl 27-25 voor.
Peoples val verwoed aan, maar 'n vorentoe aangee na die spoedvraat, Jody Davids, laat 'n sekere drie verlore gaan.
Nog twee strafskop-pogings misluk en daarby verspeel Peoples 'n laaste kans toe die agterlyn die bal aanslaan met twee minute oor.
Paarl gebruik hul gewigsvoordeel goed en skep die platform vir 'n blitsige skepdoel deur losskakel Mark Kruger in die doodsnikke vir die wedstryd én die Premierliga A-titel.
Peoples se tweede span het hul wedstryd met 26-15 gewen, terwyl die derdes 3-5 verloor het. |
 |
|
 |
Albions wen taai stryd |
|
|
 |
'n KRITIEKE skop in die doodsnikke het Saterdag vir Albions hul laaste ligawedstryd teen Primrose op Faurestraat Stadion in die Paarl beklink.
Die wedstryd was gekenmerk deur harde voorspelerspel en hoewel die agterlyne mekaar goed aangevat het, het Ju-wayne Cyster Primrose se sake vir hulle gewerk.
Voorlangs was dit weer die vaste vyf wat die grondslag gelê het. Die slotte was uitstekend, met veral Johan van Rooi wat baie vinnig by die breekpunte was.
Die rustydtelling was 7-0 teen Albions.
In die tweede helfte het die tuisspan meer druk uitgeoefen en slaag Brian Arendse (senter) daarin om 'n drie onder die pale te druk. John Stevens verdoel.
'n Verdere drie deur Fuad February (stut) en 'n belangrike strafskop deur Selwyn Isaacs (plaasvervanger-heelagter) in die doodsnikke beklink die wedstryd vir die Paarliete 15-14.
Albions se tweedes en derde span het 16-20 en 64-10 verloor. |
|