|
WAAR daar 'n maand of wat gelede nog Port Jackson boompies op 'n ongelyke stuk aarde gestaan het, is Bergrivier
Hoërskool se droom oor hul eie sportvelde en fasiliteite nou stadig maar seker besig om 'n werklikheid te word.
Grondverskuiwingsdienste was reeds werksaam op 'n stuk grond net langs die skool om baie kubieke meter grond oop
te stoot en te verskuif.
Die aanplant van gras, dreinering, installering van besproeiing, en bou van die krieketnette en kolfblad sal
volgende aandag geniet. Weerskante van die beoogde krieketblad sal 'n sokker- en hokkieveld uitgelê word.
Op 'n laer vlak van die skoolterrein gaan die ou sokkerveld in 'n rugby- en bofbalveld omskep word, met 'n 300m
atletiekbaan daarom. Netbal en tennisbane gaan ook gebou word elders op die terrein.
Bergrivier Sekondêr, wat in 1948 geopen het, het nog nooit werklik oor sy eie sportgeriewe beskik nie.
"Ons soebat en smeek maar altyd oral," vertel skoolhoof Lucas Slinger, wat sy dank uitgespreek het teenoor
plaaslike skole en klubs, asook die munisipaliteit wat oor die jare geriewe aan hulle beskikbaar gestel het.
Soos vandag nog, moes Slinger, wat self aan Bergrivier gematrikuleer het, ook sy rugby op die nabygeleë
Pelikaanpark speel.
Die saadjie vir die skool se eie krieketgeriewe is vroeg in 2001 geplant, toe 'n nasionale selfoonmaatskappy deur
bemiddeling van Boland Krieketunie se uitvoerende beampte, Pietie Williams, 'n eerste skenking aan die skool gemaak het. Die skool se krieket-organiseerder, Suhail Latief, was hierby betrokke.
Na verdere konsultasie deur die skoolhoof, in samewerking met die beheerligaam onder leiding van voorsitter
Nicolaas Paulse, is besluit om vernuwing van die totale sportbedeling by die skool aan te pak.
"Die hele sportopset by die skool gaan nou begin verander danksy die aanvanklike befondsing van R920 000 vanaf die
Nasionale Loteryraad," sê die projekbestuurder Hennie Conradie, wat ook die sakeplan aan Lotto geskryf het.
"Ons wil uitstaande fasiliteite hier skep wat 'n trots en lushof sal wees vir die Wellington-gemeenskap," vertel
Conradie. "Dit gaan eintlik oor veel meer as net sport."
Francois Nortjé van Nortjé en De Villiers Raadgewende Ingenieurs in die Paarl speel 'n belangrike rol in die
uitvoering van die projek.
Die kontoerplan van die terrein is deur Albert Geiger saamgestel, terwyl die grondwerke deur DPB Konstruksie
hanteer is.
Op 'n terreinplan, saamgestel deur Dennis Moss Vennootskap, word die groter plan vir die skoolterrein
uitgestippel. Daarop word voorsiening gemaak vir 'n sportsentrum-cum-klubhuis, asook bykomende sportvelde en bane.
Om dit te laat realiseer, moet nog 'n paar miljoen rand geïn word.
"Ons hoop om ons oud-leerders, wat oor die land heen versprei is, te verenig om ons hierin te ondersteun," sê
Slinger.
"Dit sal interessant wees om oor die volgende paar jaar te monitor hoe die uitbreiding van die sportgeriewe 'n
positiewe impak het op die hoeveelheid kinders wat deelneem aan sport, en aan sportprestasies," sê sportorganiseerder Margaret Ontong.
'n Geraamde 30% van die skool se leerders neem tans deel aan die sowat 15 sportkodes wat aangebied word. Die
skool, wat vanjaar die derby teen Weltevrede gewen het, lewer gereeld provinsiale sportlui op.
Vanjaar se Paarl Post Sportman van die Jaar, Audrey Petersen, wat Suid-Afrika in krieket verteenwoordig het, is ook in dié skool.
|